Hoop vir Hardap
Hoop vir Hardap

Hoop vir Hardap

Besproeiingsboere op die Hardapskema hoop dat goeie reënvooruitsigte sal realiseer en hul laaste gewasse gered sal kan word.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh -

Boere op die Hardapskema en NamWater sal vandag beraadslaag of besproeiing weer vir tien dae of ‘n week lank toegelaat sal kan word.

Dit nadat die Hardapdam se vlakke teen gister om 08:00 die 6,6%-merk bereik het. Daar het sedert Donderdag water in die dam ingevloei. Volgens NamWater se jongste damverslag het die dam verlede Maandag nog op 5,9% vol gestaan.

Mnr. Dawie de Klerk, 'n besproeiingsboer op die Hardapskema en ondervoorsitter van die Akkerbouprodusentevereniging (APV), het gistermiddag gesê dit lyk nie of die dam se vlakke verder styg nie.

“Die goeie nuus is egter dat die volgende paar dae se weervoorspelling baie belowend lyk, met ‘n mooi front wat voorspel word. Ons is opgewonde,” het hy gesê.

De Klerk sê hul gewasse begin nou swaarkry, wat vererger word deur hoë dagtemperature en reën sal kan help om permanente skade te voorkom.

“Indien ons wel besproeiingswater kan kry, sal produsente streng by die 40%-besparingsmaatreël moet bly soos vanaf begin November ingestel is. Dit beteken ons kan slegs probeer om die oorblywende 60% van ons gewasse te red,” het hy gesê.

Nog 'n besproeiingsboer, mnr. Dolf Bothma van Bothma Agri, sê hulle is baie bly die dam het water gekry en hoop dat NamWater hulle sal toelaat om dit te gebruik, sodat hulle hul gewasse aan die lewe kan hou.

Bothma sê hy het 74 ha se lande en op 32 ha hiervan is lusern geplant, wat nie meer water kan kry sedert besproeiingswater op 27 Januarie toegedraai is nie.

“Ek ry tans water uit die kuile en berg dit in damme. Ek gebruik dit om my naartjiebome aan die lewe te hou. Die grasperke het ons al begin uithaal,” het Bothma gesê. Hy sê as hulle weer water kry sal sy prioriteit wees om die lusern aan die lewe te hou.

Bothma sê intussen trek plaaslike besighede ook swaar en het sake op die skema bykans tot stilstand gekom. Hy self moes ook van sy werknemers op verlof gestuur, met die hoop dat die dam weer water sal inkry en hulle sal kan terugkom.

Mnr. Wille Agenbach van die Goedbegin-melkboerdery sê ook sy gewasse kry tans baie swaar. Indien NamWater egter instem dat hulle weer besproeiingswater kan kry, sal sy vee eerste prioriteit geniet.

De Klerk het voorheen aan Republikein gesê sowat 1 000 arbeiderhuisgesinne is van die dam se besproeiingsaktiwiteite afhanklik - en dit sluit die besproeiingsboere self asook seisoenale werkers uit. Altesaam sowat 2 200 ha se gewasse word deur Hardap se besproeiingswater gevoed - tot 80% hiervan is lusern.

De Klerk meen die Hardap-skema se watertekort kan verreikende gevolge vir die landbousektor inhou omdat dit homself die afgelope jare as die voer- en ruvoer-voedselmandjie in die land gevestig het en talle vee-, wild- en voerkraalboere daarop staatmaak.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!