Hooper en Cane wil SA uit Superreeks hu00ea
Hooper en Cane wil SA uit Superreeks hu00ea

Hooper en Cane wil SA uit Superreeks hê

Rugby
Die gety swel al hoe meer in Nieu-Seeland en Australië op om Suid-Afrikaanse rugby van die tafel te vee wanneer die Superreeks en Rugbykampioenskap later vanjaar hervat word.

Die All Blacks se nuwe kaptein, Sam Cane, het volgens Newshub onder meer reeds met die Wallaby-kaptein, Michael Hooper, oor die toekoms van die Superreeks gesels.

Volgens Channel Nine het Cane en die All Black-skrumskakel Aaron Smith telefonies met Hooper, Lukhan Samakai-Loto en Bryve Hegarty gekoukus.

Daar is glo saamgestem dat die Superreeks sy trefkrag verloor het en dat die huidige formaat nie meer ’n bestaansreg het nie.

Die spelers het glo saamgestem dat die beste pad vorentoe een sonder Suid-Afrika en Argentinië sal wees.

Albei partye het glo ooreengekom om eiebelange opsy te skuif en ’n duidelike toekomspad uit te stippel.

Daar is ook gesels oor die moontlikheid om ’n span van die Suidsee-eilande te betrek wat saam met nege Nieu-Seelandse en Australiese Superspanne (en die Western Force) aan ’n nuwe reeks kan deelneem.

Maar van al die planne kan dadels kom vanweë televisieregte, want Suid-Afrika en Nieu-Seeland het langtermynkontrakte.

Sky TV het juis in November ’n kontrak van N$400 miljoen met die Nieu-Seelandse rugbybase gesluit om alle All Black-wedstryde, die Rugbykampioenskap en die Superreeks tot in 2025 uit te saai.

Intussen het die oud-All Black-losskakel Andrew Mehrtens Vrydag in ’n televisieonderhoud saam met Michael Cheika en Keith Wood gesê die Superreeks in sy huidige formaat is “dood”.

Volgens stuff.co.nz het Mehrtens ’n nuwe reeks voorgestel wat binne die tydsones van Nieu-Seeland en Australië val.

“Nieu-Seeland sal baat by ’n hersiene Superreeks, en Australië ook,” het Mehrtens, wat deesdae in Sydney woon, aan Off The Ball gesê.

“Ek sê nou al lankal, terwyl die kompetisie uitgebrei het, het dit nie op ’n logiese manier uitgebrei nie. Daar is net hier en daar ’n paar spanne bygevoeg.

“Die grootste probleem is dat daar wedstryde in Argentinië gespeel word wat buite die tydsones van Nieu-Seeland en Australië val. Dieselfde geld Suid-Afrika.

“Nie baie mense hou wedstryde dop wat 03:00 die oggend in Suid-Afrika gespeel word nie, selfs as hul eie spanne daarin speel.”

Die voormalige Wallaby-senter Tim Horan het verlede maand reeds in ’n gesprek met Fox Sports gesê die Australasiërs moet eerder met nasies in Asië en die Stille Oseaan kragte saamspan as met Suid-Afrika en Argentinië.

“Superrugby sal oor vyf jaar heeltemal anders lyk,” het hy gesê. “Dit sal waarskynlik ’n Asiese-Pasifiese model wees, met Australië, Nieu-Seeland en Japan wat deel daarvan bly. Dan kyk jy ook na Fidji, Samoa en Tonga.”

Wat die Rugbykampioenskap betref, het Rob Clarke, die nuwe uitvoerende hoof van Rugby Australië, in Sydney se Sunday Telegraph gesê hy is vol vertroue dat ’n tuis-en-wegtoetsreeks van drie tot vier toetse tussen die All Blacks en Wallabies dié kompetisie kan vervang.

Volgens hom beplan Sanzaar, die beheerliggaam van rugby in die Suidelike Halfrond, om die Rugbykampioenskap in Oktober en November in Australië aan te bied.

Maar as die Springbokke en Argentynse Poemas vanweë Covid-19-reisbeperkings nie na Australië mag vlieg nie, sal ’n Bledisloe-reeks die antwoord wees. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!