Hoopvolles vir skouspel in Marokko gekies

Die 2018 Statebond-kampioene Helalia Johannes (marathon) en Junias Jonas (boks) is twee van die aangewese span se ­hoëprofiel presteerders.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Een-en-tagtig atlete sal Namibië vanaf 19 tot 31 Augustus by die 12de Afrika-spele verteenwoordig wat in die Marokkaanse stede Casablanca, El Jadida en Rabat aangebied word.

Nie net gaan atlete hul beste lewer om vir hul land en hulself kontinentale eer te verwerf nie, maar deelnemers aan 17 sportkodes kan ook die geleentheid aangryp om vir die 2020 Olimpiese Spele in Tokio, Japan, te kwalifiseer.

Die opening- en afsluitingseremonies sal by die Prince Moulay Abdellah-stadion in Rabat gehou word.

Hoewel die Afrika-spele 29 sportkodes gaan aanbied, sal Namibië in net 13 kodes spanne stuur. Dié sportsoorte is atletiek (31 atlete), bergfietsry (3), boogskiet (2), boks (10), karate (6), padfietsry (8), skaak (4), skerm (2), skyfskiet (2), stoei (2), strandvlugbal (2), swem (2) en tennis (7).

Die span wat Namibië in Rabat moet verteenwoordig, sluit nie soos in die verlede Paralimpiese atlete in nie. Die eerste Afrika Paralimpiese Spele sal in Januarie in Rabat aangebied word waar dié atlete ook kans vir kwalifikasie vir die 2020 Paralimpiese Spele in Japan gaan kry.

Namibië se meeste medaljes by die Afrika-spele is juis in die verlede deur sy Paralimpiese sterre ingeoes.

Finansiële steun van die Namibiese regering vir sogenaamde “staatsbyeenkomste” soos die Afrika-spele was in die verlede dikwels 'n fiasko. Geld was hopeloos te laat inbetaal of is glad nie beskikbaar gestel nie. Mnr. Freddy Mwiya, hoofadministrateur van die Namibiese Sportkommissie, het egter dié spook besweer.

“Die span van 81 atlete en 34 beamptes sal aanstaande maand op verskillende datums vertrek. Die beamptes sluit 'n dokter, sewe fisioterapeute en ondersteuningspersoneel in.

“Die atlete het natuurlik lankal reeds met hul voorbereiding begin.

“Ons het van die atlete na The Dome in Swakopmund gestuur wat die beste geriewe bied. Ons glo en vertrou dat ons deelnemers ons trots in Marokko sal maak en hul beste lewer. Ons missiehoof is op die oomblik in Angola, maar sal binnekort na Rabat reis om vooraf seker te maak alles is in orde as ons daar aankom.

“Dit was nog altyd vir ons 'n uitdaging om die geld te kry vir die begroting wat ons voorgelê het. Ons sal die geld wat vir die Afrika-spele nodig is van die minister van finansies ontvang wat die ontwikkelingsfonds (constituency development fund) bestuur.

“Soos ek nou hier praat, kan dit vandag of môre inbetaal word. Maar ons het besluit dat tekort aan geld nie 'n verskoning is om nie behoorlik vir 'n kompetisie voor te berei en te presteer nie. Voorbereidings moet reeds aan die gang wees voordat die geld beskikbaar is en wanneer dit daar is, sal dit net makliker wees om voor te berei,” het Mwiya gesê.

Mnr. Tjeripo Musutua, van die reë­lingskomitee vir die spele, sê net die room van Namibië se sportmanne en -vroue is gekies om Namibië te verteenwoordig.

“Ons het nie net mense gekies om 'n span vol te maak nie. Dit is 'n kleinerige span met lede wat wel vir ons medaljes kan wen.

“Die atlete weet hulle kan vir die Olimpiese Spele kwalifiseer en sal beslis aan die verwagtinge voldoen. Dit is belangrik dat ons atlete gekies het wat wel op hul onderskeie sporte se wêreldranglyste verskyn,” het Musutua verduidelik.

Die Namibiese span soos aangekondig:

Atletiek: Ernst Narib, Sydney Kamuruuma, Tomas Rainhold, Roger Haitengi, Helalia Johannes, Lavinia Haitope, Uveni-Nawa Kuugongelwa, Chenault Coetzee, Mahmad Bock, Jeremia Shaliaxwe, Beatrice Masilingi, Tjipekapora Herunga, Beata Naigambo, Jolene Jacobs, Jesse Urikhob, Even Tjiviju, Thasiso Aochamub, Ivan Geldenhuys, Globine Mayova, Rondegudus Gustav, Gilbert Hainuca, Dantago Gurirab, Wencuslaus Klaasman, Kenneth Tities, Daniel Nghipandulwa, Sandro Diergaardt, Ryan Williams, Natalie Louw, Ané Rautenbach, Salmi Ndiviteko.

Bergfiets- en padfietsry: Drikus Coetzee, Xavier Papo, Martin Freyer, Danzel de Koe, André de Klerk, Alex Miller, Michelle Vorster, Johannes Shikwena, Tristan de Lange, Vera Adrian.

Amateurboks: Andreas Shikongo, Gabriel Shigwedha, Trofimus Johannes, Junias Jonas, Nestor Thomas, Tryagain Ndevelo, Martin Kambalili, Oiva Waitele, Naftali Sheyapo.

Boogskiet: Quinn Reddig, Adriaan Grobler.

Karate: Michelle Tjimuku, Lily Mwiya, Suzelle Pronk, Michael Nakapandi, Stefan van der Merwe, Bryan Nakambonde.

Skaak: Charles Eichab, Dante Beukes, Israel Shilongo, Lishen Mentile.

Skerm: Connor Strydom, Michelle Maritz.

Skyfskiet: Johan Venter, Hendrik Roos.

Stoei: Romeo Goliath, Kevin Vleermuis.

Strandvlugbal: Kim Seebach, Kristin Schulz.

Swem: Kiah Borg, Alexander Skinner.

Tennis: Linique Theron, Lesedi Jacobs, Taimi Nashiku, Megan Lombard, Jean Erasmus, Deon van Dyk.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!