Hope se moord steeds 'n raaisel
'n Gebarste lewer veroorsaak deur 'n harde hou het die dood van 'n eenjarige seuntjie veroorsaak.
Jacqueline Louw – Getuienis teen 'n kinderoppasser wat van die moord op 'n eenjarige seuntjie in haar sorg aangekla is, was nie genoeg om haar aan sy dood skuldig te bevind nie.
Volgens landdros Ileni Velikoshi is die getuienis teen die 30-jarige me. Magdalena Naris nie genoeg om die klag teen haar te bewys nie. Naris is van die moord op Hope Uhongora aangekla.
Haar regsverteenwoordiger, mnr. Max Lameck, het verlede week ’n artikel 174-aansoek in terme van die strafproseswet by die hof ingedien, waarin hy versoek het dat sy vrygespreek word.
Naris het met die aanvang van haar verhoor op 15 Junie onskuldig op die moordklag teen haar gepleit. Sy is daarvan beskuldig dat sy Hope op 22 Februarie 2015 in sy ouma se huis in Khomasdal vermoor het.
Naris het op die dag van sy dood na die seuntjie en ook ander kinders omgesien.
Volgens die nadoodse verslag was Hope se dood die gevolg van ’n gebarste lewer. Die noodlottige besering is veroorsaak deur ’n harde hou op sy lyfie wat ook tot breuke in die kraakbeen van sy ribbekas gelei het.
Hope se ma, me. Emily Muundjua, het tydens die verhoor getuig hoe sy vir Hope by sy ouma se huis op die dag van sy dood aangetref het.
Sy het haar seuntjie, toegedraai in ’n kombers op die sitkamervloer, in haar ma se huis aangetref waar hy in die sorg van Naris gelaat is. Die seuntjie se asemhaling was nie normaal nie en Muundjua het hom by haar op ’n bed neergelê waar hy met tye geskree het. Sy het ook getuig Hope se hartklop het al hoe swakker geword het, wat haar laat besef het hy is besig om te sterf.
Hope is na die Katutura-staatshospitaal geneem waar hy met sy aankoms gesterf het. Hy was een jaar en drie maande oud.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie