Horde pak Swakop op 'n drafstap
Horde pak Swakop op 'n drafstap

Horde pak Swakop op 'n drafstap

Parkrun
Des Erasmus
Des Erasmus - Toe 'n mishoring Saterdagoggend net ná agtuur op 'n groen grasperk teenoor The Dome die sein gegee het, het Swakopmunders geweet die tyd het aangebreek vir wikkel daai boude. Die dolle internasionale gier parkrun het oorgewaai Namibië toe.

Swakopmund was die basis van die eerste so 'n weeklikse pretdraf in Namibië en die eerste grensland van Suid-Afrika waar die 5 km elke week gedraf of gestap kan word.

Die kusdorp se mense was nie alleen nie. In Suid-Afrika het 'n geskatte 65 000 mense ook dieselfde oggend die parkrun gedraf.

“Vandag is julle die klompie baanbrekers,” het die legendariese Bruce Fordyce, koning van die Comrades, gesê. “Volgende week gaan julle meer as seshonderd wees. Op 'n plek in Suid-Afrika is met 64 deelnemers begin. Vandag is hulle meer as sesduisend.”

Fordyce het Namibië ook geloof as die eerste op die vasteland buite Suid-Afrika wat ook die parkrungier omarm het. Nou gaan Swaziland ook volg en volgende in Namibië sal Windhoek aan die beurt kom.

Volgens hom oortref die deelnemers aan elke Saterdag se drawwery die Comrades en die Twee Oseane verreweg. “Maar hier gaan dit nie om wen of verloor nie. Elke deelnemer is 'n wenner.”

Draf jy by vyftig byeenkomste is daar 'n T-hempie ter erkenning. Die honderdste keer is daar nog so 'n onderskeiding. Fordyce self is een van drie parkrun-drawwers in Suid-Afrika wat reeds op die kerf van 250 lê of dit oorskry het.

Volgens die skaaptelformule van die boere was daar Saterdag sowat 320 deelnemers. Van die wegspringplek was dit af see toe vir 'n groetslag met die eerste albatros van die oggend. Daarvandaan was dit 'n entjie seelangs en toe terug na die wegspring/wegstootplek.

Onder die deelnemers was daar ook mense van drif. Kristy Brits was in Desember ernstig beseer toe sy in die fietstog oor die berge, die Desert Dash, geval het. Sy draf al weer.

Johan Bronkhorst is 'n Swakopmunder, maar ook oorkant die landsgrense vir die taaiste van veld- en uithouwedlope bekend. Hy voer nou 'n stryd teen 'n ernstige siekte.

Maar ook Sue Wagner was daar met haar groepie van die Mondesa Youth Opportunities. Dis nou die Sue, vandag 'n Swakopmunder, wat in 1978 in haar enigste Comrades 'n tweede plek onder die vroue ingeneem het. Toe die hande van deelnemers opgesteek moes word wat van ver plekke gekom het, het stemme opgegaan om Oos-Londen en Johannesburg en ander oorgrense plekke te identifiseer. Dan was daar ook Juanita Hammond van Londen, nou 'n kuiergas op Swakopmund, maar van Londen waar sy elke Saterdag die parkrun draf.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!