Hou hart hou!
Hou hart hou!

Hou hart hou!

Vroeë identifisering en voorkoming van hoë bloeddruk kan mense se risiko vir koronêre hartsiektes en hartaanvalle met 80 persent verminder.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht

Namibiërs kan die naweek, enige tye van Vrydagoggend tot Sondagaand, hul deel bydra om ’n gesamentlike mikpunt van 20 000 km op te stel as deel van die Move Your Heart virtuele fiksheidsgeleentheid.

Deelnemers kan stap, hardloop of fietsry en sodoende geld vir die Namibiese Hartstigting insamel. Bank Windhoek is die borg, terwyl die nodige reëlings deur Farm Windhoek Fitness hanteer word. Die opbrengs wat met die inskrywingsgeld van N$150 ingesamel word, word aan die stigting geskenk

Volgens die stigting se uitvoerende hoof, mnr. Gerhard de Koe, kan deelnemers op welke manier ook al aan die uitdaging deelneem – hetsy op ’n trapmeul, stilstaande fiets, of selfs virtuele programme soos Zwift.

“Hulle moet seker maak hulle het ’n toep op hul foon, horlosies of toestelle soos Strava, Google Fit of FitBit wat die afstand van hul staptog, drafsessie of fietsrit kan volg en dit dan aanlyn kan oplaai,” het hy verduidelik.

Deelnemers kan hul foto’s op sosiale media laai onder die hutsmerk #UseHeartNam om vir pryse in aanmerking te kom.

Volgens De Koe kan deelnemers die webtuiste www.namheart.com besoek, of aanlyn registreer by

www.webscorer.com/register.aspx?pid=1&raceid=221086.

“Alle deelnemers met toegang tot die vereiste toeps moet die kilometers wat hulle die naweek gestap, gedraf of gery het teen 22:00 Sondag na [email protected] stuur.”

De Koe moedig elke Namibiër aan om hul deel te doen om die Covid-19-pandemie in die land hok te slaan, ’n tweede golf gevalle te voorkom en na hul eie en mekaar se gesondheid om te sien. Dit geld veral vir inwoners wat aan hartsiektes ly, sê hy.

Volgens De Koe het die pandemie nie net die gevare van kardiovaskulêre siektes uitgelig nie, maar ook die nodigheid vir Namibiërs om hul risikoprofiele te bepaal.

“Vroeë identifisering en voorkoming van hoë bloeddruk en verhoogde plasmalipied en bloedglukosevlakke kan mense se risiko vir koronêre hartsiektes en hartaanvalle met 80 persent verminder en hul risiko vir tipe 2 diabetes met 90 persent,” sê De Koe.

Hy het tabakgebruik, ongesonde diëte, geen of min fisieke aktiwiteit en die skadelike gebruik van alkohol as vername risikofaktore uitgesonder.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) is daar toenemend bewyse dat inwoners van Afrika met nie-oordraagbare siektes (NCD) soos hoë bloeddruk en diabetes meer geneig is om ernstig siek met Covid-19 te raak en selfs kan sterf.

’n Voorlopige WHO-ontleding van 14 lande in die Afrikastreek sonder hoë bloeddruk, diabetes, hartsiektes en asma uit as die onderliggende mediese toestande wat die meeste met Covid-19-pasiënte geassosieer word. Dié toestande vereis voortgesette behandeling, maar namate regerings meer hulpbronne en aandag op die voortgesette pandemie fokus, is gesondheidsdienste vir NCD’s volgens die WHO ernstig ontwrig.

Die organisasie sê hartsiektes is die leidende oorsaak van sterftes wêreldwyd en die oorsaak van ’n beraamde 17,9 miljoen sterftes jaarliks. Dit verteenwoordig 31% van alle sterftes wêreldwyd. Uit dié sterftes was ’n beraamde 7,4 miljoen vanweë hartsiektes en 6,7 miljoen as gevolg van hartaanvalle.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!