Hou jou reg vir Tuta Absoluta

Die tamatie-bladmynermot het al wêreldwyd tot algehele misoeste gelei en kom reeds in buurlande voor.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - “In die byna 30 jaar wat ek in die pesbestrydingsbedryf werk, het ons nog nooit ’n plaag teëgekom wat so weerstandig teen plaagdoders is soos die Tuta Absoluta nie. Ná een of twee keer se spuit, het hulle reeds weerstandigheid opgebou.”

Só sê mnr. Gert Viljoen van die Suid-Afrikaanse insekbeheermaatskappy Du Pont, wat op Woensdag 22 Februarie in opdrag van die Namibiese Akkerbouraad (NAB), asook die ministerie van landbou, water en bosbou ’n inligtingsessie in Windhoek oor dié plaag aangebied het.

Die teenwoordigheid van die plaag in Namibië is nie deur die ministerie bevestig nie, hoewel dit Suid-Afrika reeds verlede jaar binnegeval het.

Die doel van die praatjie was om bewustheid van die moontlike verspreiding van die plaag te skep en gepaardgaande beheermaatreëls met die plaaslike tuinboubedryf te deel.

SUPERMOT

Tuta Absoluta word plaaslik ook die tamatie-bladmynermot genoem.

Viljoen sê dié Lepidoptera, of mot, kom oorspronklik van Suid-Amerika af.

Dit het sedert 2006 oraloor Europa versprei en vanaf 2008 het dit na 15 Afrika-lande versprei.

Die mot beskik oor ’n besondere vermoë om te akklimatiseer - en Afrika se klimaat is glo ideaal.

Boonop lê Namibië, saam met Suid-Afrika, Botswana, Zambië en Zimbabwe in ’n hoë-risiko gebied waar die pes homself kan vestig.

Wetenskaplikes sê die mot versprei deur ongereguleerde handel en wydverspreide tamatieproduksie. Die feit dat motte ver kan vlieg en geen onderbreking in hul biologiese siklusse het nie, help ook nie.

Binne ’n jaar kan Tuta Absoluta tot 12 nuwe geslagte voortbring en tans is kenners nog nie seker oor of hulle natuurlike vyande het nie. Navorsing word nog hieroor gedoen.

Viljoen sê die motte verkies om tamatieplante aan te val, maar sal ook aartappel-, eiervrug-, soetrissie- en appelliefie-gewasse bykom.

“Onkruid soos nastergal, appelliefies, olieboom, groot stinkblaar, sydissels, wilde tabak, akkerwinde en satansbos dien as draers van die pes. Dit beteken indien geen gewasse in die omgewing geplant is nie, kan die mot steeds van dié onkruid gebruik maak om te oorleef.”

IDENTIFIKASIE

Viljoen sê dis belangrik dat die Tuta Absoluta nie met die aartappelmot verwar moet word nie, wat sowat 2 mm groter as die bladmyner is.

“Dié insek het vier lewensiklusse, leef sowat twee weke, en die volwasse mot se kleur wissel tussen grys, bruin of beige, terwyl die agterste vlerke donker kolle het. Dit is 5 tot 6 mm lank en is meestal snags aktief.

“Kenmerkend aan dié mot is dat sy voelers soos swart-en-wit kralestringe lyk, en dat sy onderste vlerk ’n hoekige vorm het. Wyfies lê sowat 260 eiers op ’n keer, meestal aan die onderkant van blare.

“Kenmerkend aan die mot se larwes is dat dit tydens fase vier ’n pienk kleur op die rug kry.

“Die larwe eet kanale in blare, wat as deurskynende kolle vertoon. Waar dit die plant binnegaan, laat dit swart ontlasting na. Daarna vorm dit ’n papie, wat op blare of selfs in die grond kan voorkom.

“Die insek floreer in warmer toestande. Teen ’n temperatuur van 14 °C, neem dit die mot 76,3 dae om ’n lewensiklus te voltooi, maar teen temperature hoër as 27,1 °C, neem dit slegs 23,8 dae,” het Viljoen gesê.

SKADE EN BEHEER

Volgens Viljoen begin die pes skade aanrig sodra ’n plant se eerste blare verskyn. Die larwes vreet blare, stamme en vrugte, en tuinbouers kan algehele misoeste ervaar.

“Daar is geen kans dat ons die mot totaal kan uitwis nie.

“Geïntegreerde pesbestryding saam met die bestuur van die pes se weerstandigheid teen insekdoders is die enigste manier om die plaag te beheer.

“Geïntegreerde pesbestryding behels verskeie bestrydingstegnieke, wat insluit die doeltreffende gebruik van chemikalieë, die gebruik van natuurlike vyande of biologiese beheer, asook voorkoming deur kulturele praktyke en streng beheermaatreëls,” het Viljoen gesê.

“Chemikalieë alleen gaan nie doeltreffend wees nie. Die rotering van insekdoders met verskeie werkingsmetodes is noodsaaklik - moenie net van handelsnaam wissel nie.”

Viljoen het getoon hoe die korrekte gebruik van chemikalieë op die presies die regte tye tuinbouers toelaat om 95% beheer oor die plaag te verkry.

Die gebruik van insekstrikke en feromone kan help om die pes vroegtydig te identifiseer en te beheer.

Hy het ernstig teen die misbruik van doders gewaarsku.

“Die misbruik van doeltreffende produkte lei tot die verlies daarvan.

“Oorgebruik van dieselfde insekdoder selekteer vir meer weerstandige insekte en eindelik werk dit nie meer nie. Dis noodsaaklik dat insekdoders slegs gebruik word indien dit nodig is.

“Neem ook al die chemikalieë wat jy spuit in ag. Sommiges, wat byvoorbeeld vir bolwurm gebruik word, het ook ’n uitwerking op Tuta Absoluta. Harde insekdoders kan ook potensiële natuurlike vyande doodmaak.

“Die ideaal sal wees dat net een spuitprogram in ’n gebied bestaan – wat beteken alle tuinbouers in ’n omgewing sal dieselfde spuitprogram volg en dit op dieselfde dae gebruik,” het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!