‘Hou jou vrou in toom’
Henriette Lamprecht
Dit was alles wat ek van ’n vakansie kon droom. My mense heeldag by my en langs my, ’n vuur om tot laataand by te sit en te gesels totdat die kole as word, bordspeletjies en kaarte en die hoop boeke op my bedkassie wat ek uiteindelik weer die lus en energie voor gehad het om tot ounag te lees.
Maar die heel, heel beste was die gebrek aan selfoonopvangs. Die absolute totale oorgawe aan net dit wat nou en hier by my gebeur, met geen idee wat die wêreld daar buite mee besig is nie.
Veilig in ’n kokon sonder die nimmereindigende, sielsverwoestende, venynige, persoonlike en gemene kommentaar in die sosiale media. Oor die virus.
Die een waaroor ek as mediese verslaggewer die afgelope byna twee jaar letterlik sewe dae ’n week aan skryf. Dae, minute en ure oor naweke, laataande en vakansiedae wat my wegvat en afsonder van myne terwyl ander gesinne kan saamkuier. Want dis my werk.
Enkele dae terug in die samelewing ná ’n kontak- en sorgelose week of wat, kom die oproep. Let wel, nie aan my nie. Wat jy sou verwag, want die persoon (soos soveel ander lesers) het ’n probleem met my en my beriggewing.
Die oproep is aan my man en met die invalslag, sonder groet of bekendstelling, kom die opdrag: “Hou jou vrou in toom”. Die volgende opdrag: “Sê sy moet haar Covid-!@# stop!” Buiten elke dag se aanvalle met kommentaar op Facebook by berigte oor Covid wat hier gedeel word, word daar ook ruim deur nóg een vloeke uitgedeel. Oor my huis, oor my gesin, met die belofte dat hy sal bid en sorg dat God se toorn soos vuur op my en myne se hoof sal neerdaal.
Dis op Facebook. My persoonlike e-posadres bult ook sewe uit die vyf weeksdae met ja, wit, Afrikaanse lesers wat gereelde kerkgangers is en hulle kinders gedoop en voorgestel het (hulle sê dit vir jou...) wat met Christen-liefde jou vertel jy is gemerk deur die duiwel.
Kan jy dink meneer, jy wat naamloos al die moeite doen om my mán te bel om my in toom te hou (ek neem aan jy glo ook net die man is die hoof van die huis en ’n vrou ken verkieslik haar plek weg van die braaivleisvuur en aan die slaai maak. . .), daarna so slim is om jou selfoon af te skakel, wat jy sinvol met daardie tyd kon doen?
Weet jy dat jy in daardie paar minute iemand se lewe kon verander het? Positief kon verander het. Dat jy in daardie paar minute vir ’n karwag kon glimlag en gevra het hoe dit regtig met hom gaan? Iemand kon gebel het met wie jy lanklaas gepraat het, jou ma, jou vriend?
Iemand wie ek gereeld as ’n bron nader en wat altyd die silwer in elke wolk sien, klink verlede week toe ek hom bel sielsmoeg en moedeloos. Want sê hy, die venynigheid en woede onder mense is vir hom iets verskriklik.
Waar en wanneer het alles so verskriklik verkeerd geloop dat mense se woorde swaarde en stokke geword het? Is dit die virus, vra hy? In plaas daarvan dat dit die mensdom laat besef het ons almal het mekaar nodig, ongeag taal, ras, kultuur, godsdiens, ons is sáám in hierdie ding, laat dit mense meer as ooit na mekaar hap.
Mekaar oordeel, mekaar aanval en uitmekaar skeur en so dikwels in die naam van godsdiens.
Miskien, sê hy verslaan en verslae, het dit ’n virus gekos om mense se ware kleure te wys. Watter aller aaklige prentjie is dit nie.
Ek gaan áánhou glo in die góéd in mense. Ek gaan aanhou glo in my God van onvoorwaardelike liefde, wie se goed en guns ons volg al die dae van ons lewe. Want ja, dit is ook wat die virus my (weer) geleer het.
Jy wat persoonlike aanvalle en kommentaar op elke liewe enkele virusstorie lewer. Doen jy (en ek) wat goed en reg is? Maak jy (en ek) die wêreld ’n beter plek? Want saam is ons een. Al verskil ons.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie