Hou Maree agter tralies
Hou Maree agter tralies

Hou Maree agter tralies

Die howe is versoek om nie volgende week wanneer die vermeende Windhoekse pedofiel om borgtog aansoek doen, dit toe te staan nie.
Ronelle Rademeyer
Jana-Mari Smith en Ronelle Rademeyer – Druk word uitgeoefen om te verhoed dat die vermeende pedofiel wat tientalle minderjarige seuns van Windhoek vir jare lank vir die vervaardiging van kinderpornografie verkrag en misbruik het, borgtog kry.

Die foto’s is op die donker web versprei en aan buitelanders verkoop.

Mnr. Johann Wickus Maree, wat 40 klagte in die gesig staar, doen Maandag formeel aansoek om borgtog in die landdroshof in Windhoek.

Sy vermeende pornografiese bedrywighede het aan die lig gekom toe polisiemagte in die buiteland, asook Interpol, ’n internetspoor begin volg het.

Die polisie het gister aangedui hulle gaan ook die aansoek om borgtog teenstaan. Maree is in April verlede jaar in hegtenis geneem en is sedertdien in aanhouding.

Meer as 1 700 mense, insluitend die ouers van sommige van sy vermeende slagoffers, het ‘n petisie onderteken waarin die hof versoek word om hom nie met borgtog vry te laat nie.

Hulle voer aan hy hou ‘n gevaar vir kinders en die gemeenskap in die algemeen in vanweë die misdade wat hy na bewering gepleeg het.

Maree het vroeër vanjaar skuld ontken op al die klagte teen hom, insluitend kinderverkragting, onsedelike aanranding, mensehandel en dat hy die kinders teen hul wil gedwing het om seksuele dade te verrig.

Hy word ook daarvan beskuldig dat hy die seksuele dade gefotografeer en die foto’s op die sogenaamde donker web verkoop het.

Met sy inhegtenisneming verlede jaar het dit aan die lig gekom die polisie ondersoek sy vermeende misbruik van seuns vanaf 2016 tot 2020. Internasionale polisieagentskappe het ook met die ondersoek gehelp.

Die staat het verlede jaar met sy eerste hofverskyning gesê hy staan borgtog teen aangesien hierdie baie ernstige misdade is. Volgens die staat is daar groot openbare belangstelling in die saak.

Aangesien hy familie in Suid-Afrika en Australië het, is hy ook ‘n vlugrisiko, het die staatsaanklaer, me. Adrie Hendricks, gesê.

Maree het voor sy inhegtenisneming as 'n vryskutfotograaf gewerk wat spesialiseer in skoolgeleenthede soos sport. Dit is na bewering hoe hy toegang tot kinders gekry het.

Hy het glo 'n webwerf met die naam “Boy Idols” bestuur. Van dié oënskynlik onskuldige webblad af kon pedofiele toegang tot beeldmateriaal op die donker web verkry, het ‘n bron na aan die ondersoek vroeër verduidelik.

Die polisie het verlede jaar gesê ondersoek word ingestel na hoe hy verborge kameras gebruik het om beeldmateriaal van minderjarige seuns in openbare kleedkamers op te neem.

In die petisie deur ouers en ander besorgdes word aangevoer dat hy vermoedelik meer as 34 seuns seksueel misbruik het.

“Plaas u in die skoene van die kinders, of selfs hul ouers. Hoe sal u voel,” lui die petisie.

“Ons as ‘n gemeenskap en ouers maak sterk beswaar teen die toekenning van borgtog aan die beskuldigde. Ons hoop ook hy sal ‘n stewige vonnis opgelê word, want ons vrees vir ons kinders en die gemeenskap as hy vrygelaat word.”

Die stiefpa van twee van sy vermeende slagoffers het verlede jaar aan Republikein vertel Maree “was baie manipulerend”.

“Hy het vir die seuns baie duur selfone gekoop, N$4 000 en N$5 000 se selfone, nie soos my goedkoop foon nie. Hy het soms spanning tussen ons en die seuns veroorsaak sodat hulle nie by die huis wil wees nie en na hom toe wou gaan,” het hy vertel.
[email protected]

FOTO
Meer as 1 700 mense het ‘n petisie onderteken waarin die howe versoek word om nie borgtog aan mnr. Johann Wickus Maree toe te staan nie. Foto Argief

Kommentaar

Republikein 2025-04-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer