'Hou moed oor ekonomie – goeie nuus is op pad'
Volgens 'n ekonoom kan regstreekse buitelandse investering die ekonomie dalk self aan die brand help skop.
Hanlie Stadler
Hier is 'n ligstraaltjie as jy voel dat jy in die slegte nuus oor Suid-Afrika se ekonomie verdrink: Regstreekse buitelandse investering (FDI) groei nou baie vinniger as die Suid-Afrikaanse ekonomie.
Dit kan op medium- tot lang termyn die ekonomie self aan die brand help skop, volgens Maarten Ackerman, hoofekonoom van die batebestuursfirma Citadel.
Ackerman sê FDI het in 2018 2,2% van die bruto binnelandse produk (BBP) gehaal, van 'n laagtepunt van 0,5% in 2015. Dit beteken verlede jaar het FDI meer as dubbeld so vinnig as die ekonomie (0,8%) gegroei.
“Dié soort investering is gewoonlik 'n leidende aanwyser, met baie goeie ekonomiese groei wat drie tot vyf jaar later volg.”
Ackerman sê die vorige keer toe Suid-Afrika so 'n skerp styging in FDI beleef het, was in die vroeë 1990's, toe sanksies teen Suid-Afrika beëindig is, die ekonomie sy deure oopgegooi het en die eerste vreedsame demokratiese verkiesing gehou is.
“Dit het die weg gebaan vir 'n dekade van baie robuuste ekonomiese groei. As die tendens kan voortduur en die regering op koers kan bly met hervormings, behoort Suid-Afrika oor die volgende paar jaar voordeel uit beter groei te trek.”
Ekonomiese groei is in die langste daalsiklus sedert 1945.
Oor sowat 'n maand sal Suid-Afrikaners weet of die land vir die tweede opeenvolgende jaar in 'n resessie van twee kwartale beland het.
In die eerste kwartaal was geannualiseerde kwartaalgroei 3,2% en nog 'n kwartaal van negatiewe groei sal 'n tegniese resessie beteken – tegnies bloot om dit te onderskei van ander maatstawwe. Op 'n per capita-grondslag, 'n ander maatstaf, boer Suid-Afrika al byna vyf jaar lank agteruit.
Werkloosheid beloop nou 29%.
Pres. Cyril Ramaphosa het dit sy missie gemaak om oor die volgende vyf jaar US$100 miljard (R1 480 miljard teen Maandag se wisselkoers van R14,80) se investering te lok.
Op sy eerste beleggingsberaad, in Oktober verlede jaar, is R300 miljard belowe. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie