Hou moed, sê weerman
Swak El Niño behoort nie reën weg te hou
Ronelle Rademeyer - Al gaap die kraaie en skroei die son vanuit ’n wolklose hemel bo Namibië, meen ’n bekende weerkenner in landboukringe dit is nog te vroeg vir voorspooksels van ’n tweede droogte in drie jaar.
Inteendeel, die kans op reën oor veral die noordelike en sentrale dele van Namibië verbeter aansienlik vanaf middel Januarie, met die Suide wat ook sy beurt sal kry.
Mnr. Johan van den Berg van Santam Landbou in Bloemfontein wat gereeld in landboutydskrifte en by boeredae weersake praat, sê ofskoon ’n swak El Niño-verskynsel voorspel word, is daar ander belangrike faktore wat ook ’n invloed het op reënval oor suidelike Afrika. Hy sê in hierdie stadium huiwer die seetemperature tussen neutraal en ’n El Niño-toestand.
Volgens die Climate Prediction Centre in Amerika het die meeste voorspellingsmodelle teen begin Desember reeds op swak El Niño-vlakke vir die tydperk vanaf November 2014 tot Januarie 2015 gedui, wat teen vroeg 2015 tot bokant die El Niño-drumpel sou styg. “Die voorspellers se konsensus is dat ’n swak El Niño verwag kan word, as een wel sou ontwikkel,” het dié sentrum gesê.
“Die seetemperature mag op swak El Niño-toestande dui, maar ander atmosferiese aanduiders soos die patrone van passaatwinde asook die wolkbedekking oor die ewenaar dui nog nie op ’n duidelike El Niño nie,” het die Amerikaanse voorspellers egter bygevoeg.
Die gereelde El Niño-La Niña-gebeurtenisse is al beskryf as ’n “wipplankryery” van warm water wat in die Stille Oseaan vorm. Hoe warmer die water, hoe groter is die kans op ’n El Niño. Ernstige El Niño-toestande kan afwykings van die normale weerpatrone veroorsaak soos droogtes in sekere dele van Afrika soos byvoorbeeld Namibië, met die La Niña wat vir hierdie dele goeie reën bring.
“Die ander faktor wat ’n belangrik invloed op ons reënval het, is die voorkoms van tropiese siklone in die Indiese Oseaan gedurende Januarie, Februarie en Maart omdat dit die vog wat van Sentraal-Afrika af suidwaarts beweeg, na die see onttrek. Dinge lyk positief dat ons nie vanjaar baie van hulle behoort te kry nie.”
Volgens Van den Berg wys die korttermynvoorspelling die kans is baie goed vir reën oor Namibië se mielieprodusende noordelike dele vanaf die middel van Januarie, asook oor die sentrale dele van die land en dit kan later na die Suide uitbrei.
“Binne die volgende twee tot drie weke kan sake begin verander. Vir die volgende week of wat sal temperature egter hoog bly,” het Van der Berg by navraag uit Bloemfontein gesê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie