Hou regs en ry veilig

Pedro Vorster
Pedro Vorster

In Kroasië ry hulle aan die verkeerde kant van die pad. Om ‘n kettingbotsing te vermy, hou ons regs vir ‘n week se kerjakker rondom die hawestad Split. Dit is luilekker om in ‘n luukse snoetbus rond te ry, veral as iemand anders bestuur. Jy verbeel jou jy is ‘n rock-ster.

Die Kroate skroom nie om swiepende padbrûe te bou, of as dit te veel gaan sukkel, lang tonnels deur hul kalksteen rotsgebergtes te boor nie. Kortom, hulle neem hul padnetwerk ernstig op.

Vir rondrits is daar goeie redes om van die plattelandse busdienste gebruik te maak. Nie net is die busroetes wyd vertak nie, van vlieg, trein, kar of seilboot is busry die goedkoopste, tensy jy fiets of motorfiets. ‘n Enkel- buskaartjie van Ljubljana na Zagreb, 118 km verder, het in Mei vanjaar N$143 gekos.

Per motorfiets maak jy dalk kontak met ‘n rotsmuur soos die onverskillige waaghals op een van ons busroetes. Op die ongelukstoneel is die beseerde halfkaal man in ‘n ambulans gelaai, terwyl ‘n blonde vrou, hande op haar wange, in afgryse toekyk. Later spoed die ambulans by ons verby. Waar sirenes loei, is hoop.

Behalwe skerp draaie waarsku inligtingsborde motoriste om op die uitkyk te wees vir bere en wilde katte. Hier hou sowaar ‘n klein soort wilde beer in die bosse.

By die Adriatiese kus sien ons vir die eerste keer Chapman’s Peak-agtige kronkelende bergpaadjies met ontsaglike afgronde en die Adriatiese See se fotogeniese baaitjies.

Die eerstes van vele.

In die vroeë lente speel die sonskyn en reën wegkruipertjie. Ons is gelukkig en blok meer son as wolke.

In ‘n bus kry jy kans om die aanboord Wi-Fi baas te raak en met die plaaslike bevolking nader kennis te maak. Wel, soort van. As gesoute (tong-in-die-kies) reisigers gee ons raad aan ‘n bejaarde Amerikaanse reisgroep van vyf.

Die busse loop stiptelik en gereeld en gee praktiese filosofielesse in “niks is vanselfsprekend nie”.

Ons eerste “Nivan-lesing” kry ons by die Sloweniese vrou in die Ljubjlana-kaartjieskantoor. Sy verstaan nie mooi wat ons sê nie en lees selfs moeiliker wat ons skryf. Die slotsom? Ons ry met ‘n ompad oor Zagreb, Kroasië se hoofstad, om by Bakar, ‘n geskiedkundige kusdorpie, uit te kom.

Die misverstand leer ons om op alle busroetes, alle inligting herhaaldelik te bevestig. Maak nie saak wat selfs op die bus se bestemmingsbord staan nie. Gewoonlik verskyn net dié se eindbestemming daar. Vra en maak seker hierdie spesifieke bus gaan na jou bestemming.

Meestal verstaan die Sloweniese en Kroatiese buspersoneel ons nadruklike Engels en gebaretaal goed.

Op Zagreb is ons onseker of ons by die regte bus staan wat na Rijeka, die derde grootste seestad in Kroasië, gaan. Ek gooi my beste Rooitaal. Die busbestuurder staar my aan of ek van Mars af kom, skud sy kop en vra: “Can you say that again in English?” Ek dog ek hét. My vrou probeer. Hulle verstaan so wragtig mekaar se Engels perfek. Ek voel soos ’n ongeletterde uil.

Op Rijeka belemmer ons gebrekkige Kroaties die ontmoeting met ons gasvrou. Ons lees die busterminaalnommer op die kriptiese buskaartjie verkeerd en gee haar ‘n foutiewe aankomstyd. Daar gaan staan almal toe en wag vir niemand wat nêrens opdaag nie. Selfone red ons.

Die meeste busterminusse het kaartjiekantore en is sentraal op die dorpe en in die stede geleë. Aanlyn aankope, ‘n kaartjie of ‘n Quick Respond-embleempie op jou slimfoon word almal op die busse aanvaar. Bespreek jou sitplek al is sitpleknommers ‘n klug. Almal sit waar hulle wil. As niks eletronies werk nie, kan jy jou kaartjie op die bus koop.

Betaal in euro in Slowenië, kuna In Kroasië, en Visa-kaart oral. Soms moes ons ekstra vir bagasie in die bus se buikruim opdok en soms nie. Hou ‘n kleingeldjie gereed vir dié wis en onwis.

Bonus: Goeie verblyf is gewoonlik net ‘n hanetreetjie van ‘n bushalte.

So, hoe gemaak wanneer jy in Kroasië wil bus ry? Vra driemaal na jou bestemming en nóg ‘n keer voor jy opklim.

Dan verloop alles glad.

Kommentaar

Republikein 2024-11-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Premier League: Fulham 2 vs 1 Brentford Katima Mulilo: 22° | 36° Rundu: 20° | 31° Eenhana: 21° | 31° Oshakati: 21° | 31° Ruacana: 20° | 31° Tsumeb: 19° | 26° Otjiwarongo: 18° | 23° Omaruru: 20° | 32° Windhoek: 17° | 29° Gobabis: 19° | 28° Henties Bay: 16° | 22° Wind speed: 19km/h, Wind direction: SW, Low tide: 12:28, High tide: 06:39, Low Tide: 00:56, High tide: 18:52 Swakopmund: 15° | 18° Wind speed: 19km/h, Wind direction: W, Low tide: 12:26, High tide: 06:37, Low Tide: 00:54, High tide: 18:50 Walvis Bay: 15° | 24° Wind speed: 23km/h, Wind direction: W, Low tide: 12:26, High tide: 06:36, Low Tide: 00:54, High tide: 18:49 Rehoboth: 20° | 30° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 24° | 36° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 14° | 24° Ariamsvlei: 22° | 36° Oranjemund: 15° | 24° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 27° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 13° | 24° Maseru: 12° | 25° Antananarivo: 14° | 30° Lilongwe: 22° | 29° Maputo: 19° | 26° Windhoek: 17° | 29° Cape Town: 17° | 22° Durban: 16° | 23° Johannesburg: 15° | 26° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 20° | 31° Harare: 17° | 30° #N/A #N/A