Hou se hout ry steeds
Die vervoer van hout het gister steeds voortgegaan ná lorries glo weens meganiese probleme opgehou is.
Catherine Sasman - ‘n Lorrie wat aan die Chinese sakeman mnr. Xuecheng Hou se New Force Logistics CC behoort, is gister met ‘n reusevrag hout in Otjiwarongo opgemerk – dieselfde dag waarop alle vervoer- en uitvoerpermitte vir hout verstryk het.
Die lorrie is opgemerk en afgeneem toe dit omstreeks 13:00 deur dié dorp beweeg het.
Die direkteur van bosbou in die ministerie van landbou, water en bosbou, mnr. Joseph Hailwa, het by navraag bevestig dit is onwettig om steeds hout te vervoer, en onderneem om ‘n span te stuur om ondersoek in te stel.
“Ons moet uitvind watter lorries vervoer steeds hout,” het Hailwa aanvanklik gesê.
Hy het later teruggebel en gesê dit is een van vier vragmotors wat aan New Force Logistics behoort en wat Sondag deur die Mururani-hek beweeg het voordat die vervoer- en uitvoerpermitte verstryk het.
Hy sê bosbou-amptenare by Grootfontein, die Mururani-, asook die Rooidag-hek het hom meegedeel hulle is ingelig al vier lorries van New Force Logistics het meganiese probleme by die Mururani-hek ervaar.
Hailwa sê aangesien hulle reeds deur dié hek is voordat die permitte verstryk het, mag hulle tot op Walvisbaai aanbeweeg.
“In hierdie stadium mag daar net vier lorries met hout op die pad wees,” het hy gesê en bygevoeg ‘n besluit moet steeds geneem word oor of lorries met hout uit Angola, Zambië en die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) aan die vervoer- en uitvoerverbod onderwerp moet word.
Die woordvoerder van die ministerie van die omgewing en toerisme, mnr. Romeo Muyunda, het gesê hy dink die ministerie van landbou, water en bosbou is deeglik bewus van die vervoer van dié hout.
“Ons stem almal saam die situasie is nie goed vir die toekoms van ons woude en uiteindelik vir die omgewing nie. Dit is jammer ons kan dit nie onmiddellik stop nie, maar daar is deurentyd pogings om te keer dat die bome afgekap word. Ons betrek die toepaslike owerheid as ‘n saak van dringendheid by die kwessie,” was sy antwoord.
Teen gistermiddag kon die doeane- en aksynskantoor op Walvisbaai nie bereik word om vas te stel hoeveel lorries vol hout het voor die verbod nog vir oulaas probeer om hout na die hawe te vervoer nie.
Hou het nie op vrae wat aan hom gerig is, gereageer nie. Volgens inligting is hy Vrydagmiddag by sy winkel in Windhoek se Chinatown-winkelkompleks in hegtenis geneem, waarná hy in die polisieselle by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako aangehou is.
Sover vasgestel kon word, is hy saam met vier ander Chinese burgers in hegtenis geneem, maar dit is nie duidelik wat die klagtes teen hulle is nie.
‘n Ingeligte bron het gesê hy is op borgtog van N$30 000 vrygelaat.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie