Hou Tito, Bheki en Gwede aanspreeklik, su00ea OB
Hou Tito, Bheki en Gwede aanspreeklik, su00ea OB

Hou Tito, Bheki en Gwede aanspreeklik, sê OB

Mkhwebane het gesê sy verwys spesifiek na kommentaar deur Mantashe en bygevoeg dat Mboweni en Cele haar ook in die openbaar aangeval het.
Jana Marx - Ministers Tito Mboweni en Bheki Cele en die ANC-voorsitter, Gwede Mantashe, moet aanspreeklik gehou word vir “aanvalle” op haar, het adv. Busisiwe Mkhwebane Sondag by monde van haar woordvoerder gesê.

Die reaksie volg nadat Sondag deur die Sunday Times berig is Mkhwebane het haar nou op die speaker beroep om haar teen die “aanvalle” van politici en LP’s te beskerm. Volgens die Sondagkoerant word daar deur sommiges aangevoer sy is “onbevoeg” vir haar amp en dat sy “ANC-faksiepolitiek speel”.

Mkhwebane het aan Netwerk24 gesê sy verwys spesifiek na kommentaar deur Mantashe en bygevoeg dat Mboweni en Cele haar ook in die openbaar aangeval het.

“Hulle moet verantwoordelik gehou word, want hulle het ’n ampseed afgelê om die Grondwet en onafhanklike grondwetlike instellings te respekteer. Ander staatsliggame moet ingevolge die Grondwet die openbare beskermer bystaan en ondersteun vir dié instelling om sy onafhanklikheid, onpartydigheid, effektiwiteit en waardigheid te behou. Die Grondwet maak verder voorsiening dat geen persoon of staatsliggaam mag inmeng by die werk van die openbare beskermer nie,” het Oupa Segalwe, Mkhwebane se woordvoerder, aan Netwerk24 gesê.

Volgens Segalwe het die aanvalle op Mkhwebane “vroeër vanjaar begin met Mboweni wat die OB verkleineer het, kort ná haar verslag oor die gedrag van Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die tesourie”.

NODIGE TUGSTAPPE TEEN MOGAJANE

Die OB het bevind Mogajane het nie verklaar dat hy ’n misdaadrekord het toe hy in 2017 vir dié pos aansoek gedoen het nie. Hy is skuldig bevind aan ’n verkeersoortreding. Die OB het ook gevra dat pres. Cyril Ramaphosa die nodige tugstappe teen Mogajane moet doen. Mboweni het hierop gesê hy dink die OB het ’n probleem en genoem dat selfs hý spoedkaartjies kry.

Cele het volgende “aangeval”, sê Segalwe.

Dit volg op haar bevinding dat hy versuim het om die verklikkers in die uMzimkhulu-saak te beskerm.

Die derde aanval was “min. Mantashe se onlangse kommentaar”, aldus Segalwe.

Mantashe het Mkhwebane gekritiseer oor haar besluit om pres. Cyril Ramaphosa vir die R500 000 skenking van Bosasa aan sy presidentsveldtog te ondersoek.

“Die idee is om twyfel by die publiek te skep deur propaganda dat sy nie weet wat sy doen nie.

“Die OB kan nou klagte van minagting ingevolge die OB-wet instel as sy wil.”

Op ’n direkte vraag of Mkhwebane deel is van die sogenaamde Zuma-faksie binne die ANC het Segalwe gesê die OB is “a-polities”. “Sy vra nie dat mense van haar hou nie. Sy vra net dat mense, veral ministers en LP’s, hulself gedra op ’n manier wat pas by hul ampte en hul ampseed”.

Mboweni, Cele en Mantashe kon nie Sondagmiddag vir kommentaar bereik word nie. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!