Houston steier onder katastrofiese vloed

Met groot skade en baie mense wat haweloos gelaat is, dui die weervoorspelling daarop dat die ergste nog nie vir Texas se kusgebiede verby is nie.
NAMPA
Die tropiese storm Harvey wat gister nóg reën op Houston neergestort het, het vloedskade vererger.

Duisende mense is sedert die naweek gedwing om uit Amerika se vierde grootste stad na omliggende gebiede te vlug. Dít nadat riviere vlakke bereik het wat in eeue nie gesien is nie.

Harvey, die kragtigste orkaan wat Texas in meer as 50 jaar getref het, het laat Vrydag aan wal gekom. Minstens twee mense is reeds dood. Die storm het sedertdien in Texas se Golf van Mexiko-kusgebied gebly en binne ‘n week die gebied se jaarlikse reënvalsyfer geëwenaar.

Skole, lughawens en kantoorgeboue in Houston, ’n tuiste vir ongeveer 2,3 miljoen mense, is gesluit. Die owerhede het gister gelas dat talle paaie, wat in riviere omskep is, en woonbuurte, wat tot borshoogte in die laagliggende dele onder water gelaat is, gesluit word.

Stormsterkte reën het ook in gebiede meer as 240 km verder geval en riviere laat styg. Hierdie riviere vloei almal in die rigting van die Houston-gebied.

Die owerhede het opdrag gegee dat meer as 50 000 mense uit dele van die Fort Bend-distrik, ongeveer 55 km suidwes van Houston, na veiligheid geneem moes word. Die Brazos-rivier sal vandeesweek na verwagting ‘n rekord hoogte van 18 meter bereik - 4,3 m bo sy vloedvlak.

Regter Robert Hebert van die Brazos-distrik het aan verslaggewers gesê die voorspelling verteenwoordig ‘n hoogte wat nie in die afgelope 800 jaar gesien is nie.

“Wat ons ervaar, is die mees verwoestende vloed in Houston se geskiedenis,” het Steve Bowen, hoofmeteoroloog van die herversekeringsmaatskappy Aon Benfield, gesê.

Teen die einde van die week kan neerslagsyfers 50 duim haal. Byna 24 duim het binne 24 uur in Baytown geval. Baytown is die tuiste van groot olieraffinaderye naby Houston.

Dallas het ‘n “megaskuiling” in die stad se konvensiesentrum ingerig waar 5 000 vlugtelinge gehuisves kan word, het die stad in ‘n verklaring gesê.

Gaan kyk op Republikein se webtuiste na 'n fotogalery van die gebeure in Texas. - Nampa/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!