Houtkrag kom
Houtkrag kom

Houtkrag kom

Elvira Hattingh
Namibië kry moontlik binnekort 'n houtaangedrewe kragaanleg.

NamPower werk tans saam met Kowi, 'n Deense internasionale konsultasiemaatskappy, om 'n elektrisiteitsaanleg plaaslik te ontwikkel wat deur indringerbos aangedryf sal word.

Die plan is dat die aanleg teen 2020 in werking moet wees. Boere sal indringerbos op hul plase oes of laat oes.

Denemarke het reeds ­soortgelyke kragaanlegte en voer hulle hout-skerwe per boot van so ver as Brasilië in.

Tans word vyf moontlike plekke vir so 'n aanleg ondersoek. Dit sluit areas in die Kunenestreek asook die Auas-substasie buite Windhoek in. Verder word die gepaste grootte vir die aanleg ondersoek en moont­likhede wissel tussen 10 Mw en 100 Mw.

Vir 'n 10 Mw-aanleg sal 160 ton houtskerwe per jaar benodig word.

Elektrisiteitsopwekking met hout is baie duurder as die meeste ander vorms van kragopwekking, maar dit pas in by Namibië se strategie om minder afhanklik van ­kraginvoere te wees. '

'n Houtaangedrewe aanleg kan 24 uur per dag elektrisiteit opwek, terwyl sonaangedrewe krag net bedags kan plaasvind, en windkragopwekking net kan gebeur wanneer die wind waai.

Mnr. Danie van Vuuren, hoofbeampte van die Landbouwerkgewersvereniging by die Namibië Landbou-unie (NLU), het onlangs op 'n vergadering hieroor aangedui dat kommersiële boere beslis bereid sal wees om aan die projek deel te neem, mits dit ekonomies lewensvatbaar is.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer