Houtskool nou 17% van totale landbou-uitvoere
Namibië is nou sesde uit 15 wêreldlande wat die hoogste dollarwaarde deur houtskool-uitvoere verdien het.
Elvira Hattingh
As dit by Namibië se totale landbou-uitvoere kom, het houtskool-uitvoere se aandeel verlede jaar aansienlik tot 16,8% gestyg, van net 10,3% in 2018.
Namibië is nou sesde uit die 15 wêreldlande wat verlede jaar die hoogste dollarwaarde uit houtskool-uitvoere verdien het.
Die Namibia Biomass Industry Group (N-BiG) se uitvoerende hoof, mnr. Progress Kashandula, het in 'n onlangse mediaverklaring gesê die Namibiese ekonomie kan uit die benutting van biomassa baat.
“Die produksie van houtskool en boskos is bykomende ekonomiese aktiwiteite wat op plase beoefen kan word.
“Plaaslik geproduseerde boskos het die potensiaal om buitelandse valuta te verdien, veral omdat plaaslike voer-invoere van veevoer tot N$1,2 miljard in 2019 verhoog het.”
Kashandula sê bogenoemde waardekettings bevoordeel ook ander ekonomiese sektore, soos vervaardiging, vervoer en handel, terwyl dit terselfdertyd help om inkomste en werksgeleenthede te skep.
VERVOER
Kashandula sê houtskoolproduksie het reeds die doeltreffendheid van vervoerdienste verbeter.
“Verskeie lorries ry elke dag houtskool na die Walvisbaaise hawe. Die vervoer van houtskool beteken minder lorries ry leeg terug wanneer dit 'n vrag in die binneland afgelaai het.”
N-BiG sê houtskool-uitvoere via Walvisbaai het tydens die 2018-'19-boekjaar op 152 768 ton te staan gekom en het drievoudig toegeneem, vergeleke met die boekjaar van 2013-'14.
“Houtskool-uitvoere deur die hawe het van 4% van totale uitvoervolume tot 8,7% in die 2018-'19-boekjaar verhoog. Dit het ook 2,8% van die totale vragvolume opgemaak, waar dit tevore net 0,9% van die vragvolumes was.
“Houtskool-uitvoere het die negatiewe impak van die onderdrukte vraag na kommoditeite in die streek versag,” sê Kashandula.
VERVAARDIGING
Kashandula sê die biomassabedryf bied ook geleenthede aan die vervaardigingsektor, met Namibiese maatskappye wat nou 'n heel nuwe reeks masjinerie vir die prosessering van boskos skep.
“Die vraag na plaaslik vervaardigde masjinerie vir dié doeleinde het in 2019 drasties toegeneem. Namibiese vervaardigers bied ook náverkopediens en onderhoudingsdienste. Boonop produseer hulle voeraanvullings wat met die boskos vermeng kan word,” verduidelik Kashandula.
Hy het statistieke getoon waarvolgens Namibië in 2019 mieliesemels en ander voeraanvullings vir 'n netto bedrag van N$833 miljoen ingevoer het.
“Dit verteenwoordig 'n verhoging van 117% as dit met 2018 se invoere vergelyk word, wat N$385 miljoen was.
“Boonop is lusern en ander voer bykomend in 2019 vir 'n bedrag van N$152 miljoen ingevoer.”
Kashandula sê hierdie is bykans dieselfde as wat in totaal oor die afgelope tien jaar ingevoer is (N$154,4 miljoen vanaf 2009 tot 2018, met hoogtepunte van onderskeidelik N$40 miljoen in 2013 en N$29 miljoen se invoere in 2015).
“Die invoere van onder meer lusern en semels was 1% van die totale invoere in 2019, vergeleke met 0,38% in 2018.
“Die invoer van voeraanvullings, soos molasse en ureum, het 'n bykomende bedrag van N$24,9 miljoen by die invoerrekening in 2018 gevoeg.”
LANDBOU
“Dit is bekend dat verbossing in Namibië die drakrag van weiding verminder en terselfdertyd die waarde van beide landbougrond en die waarde wat daarmee geskep kan word, belemmer,” het Kashandula verduidelik.
Hy sê na raming word tot 30 miljoen hektaar landbougrond deur verbossing geraak, wat op 'n geldelike verlies van sowat N$700 miljoen per jaar neerkom – soos uitgewerk in 2004. “As dié bedrag vir inflasie aangepas word, sou dit teen verlede jaar op sowat N$1,6 miljard gestaan het.”
Kashandula meen bosbenutting bied bykomende besigheidsgeleenthede, soos om eerder biochar as houtskool te produseer, asook die skep van voerkrale wat bosvoer kan benut.
“Verder is daar 'n behoefte om plaaslike produsente met insetkoste te help vir byvoorbeeld masjinerie, boskosaanvullings en verpakking, terwyl daar verken moet word hoe boskos as 'n kommersiële produk goedgekeur kan word.
“Die uitbreiding van bosbenutting vereis genoegsame opleiding oor hoe om bosuitdunning volhoubaar te doen, asook hoe om masjinerie te gebruik en boskos reg te vermeng,” het Kashandula gesê.
Hy meen egter 'n gebrek aan amptelike data veroorsaak dat dit moeilik is om 'n robuuste ontleding van die ekonomiese voordele van bosbenutting te doen.
“Daar behoort oorweeg te word om dit in ekonomiese en maatskaplike opnames, soos nasionale arbeidsopnames, in te sluit.
“Dit beteken die ontwikkeling van die bedryf kan gemonitor word en daar kan tydig beleide ingestel word om in te gryp, waar nodig,” het hy gesê.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie