Houtskoolbedryf: Oortreders sal beboet word

Die houtskoolvereniging sê terwyl houtskool 'n broodnodige inkomste aan boere verskaf en ook buitelandse valuta verdien, moet daar steeds aan reëls en regulasies voldoen word.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



Die owerhede gaan begin optree teen onverantwoordelike hout­skoolprodu­sente – spesi­fiek waar klagtes ontvang is dat bome met 'n deursneë groter as 18 cm afgekap word of waar giftige tambotiehout gebruik word om kole te maak.

Mnr. Michael Degé, bestuurder van die Namibiese Houtskoolvereniging (NCA) het verlede Donderdag gesê die direktoraat van bosbou in die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme het 'n ernstige waarskuwing in verband hiermee uitgereik.

Talle onwettighede in verband met die maak van houtskool op sekere plase is ook aangemeld en die direktoraat sê dit sal nou streng stappe doen. Die direktoraat sal ook toegesien dat produsente maatreëls teen brande instel.

“Die instel van strafmaatreëls is weens 'n toename in veldbrande oor die afgelope maande. Daar is talle oorsake van die brande, waaronder houtskoolprodusente wat eenvoudig nie die reëls nakom nie,” het Degé in 'n mediaverklaring gewaarsku.

Hy sê intussen is foto's ontvang van waar bome, wat meer as 18 cm in deursneë meet, vir houtskool geoes word. Terselfdertyd is tambotiebome (Spirostachys africana) ook gebruik om houtskool te maak.

“Dit is onwettig omdat houtskool wat van tambotiehout gemaak word, giftig is as dit gebruik word om kos gaar te maak,” het hy verduidelik. “Dié praktyk moet onmiddellik gestaak word.

“Houtskool is 'n belangrike bron van inkomste vir boere en verdiener van buitelandse valuta. Die ekonomiese voordele daarvan kan nie onderskat word nie, maar ons moet ook aan die reëls en regulasies gehoor gee,” het Degé gesê.

Hy sê buiten vir 'n paar voorkomingsmaatreëls wat toegepas kan word, het die NCA ook 'n nuwe tegniek ontwikkel waarin kilns net vir ses tot sewe ure lank brand, wat gevolglik ook die risiko van veldbrande verminder.



'ALMAL SE SAMEWERKING'

Hy het 'n beroep op boere gedoen om saam te staan en met hul bure te kommunikeer, sou hulle sien die toepaslike reëls word nie gevolg nie – juis omdat die owerhede en die NCA dit nie alleen kan doen nie.

Hy het bygevoeg die direktoraat van bosbou en die NCA bedank diegene wat die reëls getrou volg en hy het hulle aangemoedig om hiermee vol te hou. “Dit stel werklik 'n goeie voorbeeld aan die enkeles wat nié die reëls nakom nie,” het hy gesê.

Die NCA het ook die volgende opsomming van die reëls gebied:

• Brand kole in kiln-groeperings – geen kilns moet op geïsoleerde dele van die plaas wees nie

• Kilns moet toe wees – die deksel mag nie met 'n stok oopgehou word nie, omdat die wind klein stukkies hout sal uitwaai en die veld aan die brand steek.

• Toesig moet gehou word oor kilns wat nog nie toegemaak is of afgekoel het nie.

• Die gebied minstens 15 m rondom 'n groep kilns moet skoon gehou word.

• Vuurbestrydingstoerusting moet te alle tye naby die groepe kilns gehou word.

• Produsente moet oor 'n geldige oes­permit beskik – anders sal beslag gelê word op hul hout of houtskool en hulle sal swaar beboet word.

Indien die reëls nie gevolg word nie, kan die direktoraat van bosbou oes­permitte terugtrek, boetes uitreik en ook houtskool konfiskeer, het die NCA gesê. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!