Houtskoolfabrieke se beste jaar ooit

Verantwoordelike optrede moet sentraal tot die houtskoolbedryf staan – teenoor die natuur, die
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Die Covid-19-pandemie en die gepaardgaande verswakking van die Suid-Afrikaanse rand, het groot voordeel vir plaaslike houtskoolfabrieke ingehou.

“Corona het vir ons ons beste jaar ooit gegee,” het mnr. Hans Steyn, besturende direkteur van Carbo Charcoal Namibia aan Republikein gesê.

Dié houtskoolfabriek ontvang jaarliks tot 16 000 ton houtskool vanaf produsente in die omgewing, al is hulle nie die enigste houtskoolfabriek nie.

“'n Groot hoeveelheid van die land se houtskool word in die Grootfontein-, Otavi- en Tsumeb-omgewing gemaak, maar nie alles kom na Carbo toe nie. Baie gaan na Suid-Afrika toe of na fabrieke op Otjiwarongo of Walvisbaai,” het Steyn verduidelik.

Steyn sê hulle het ook oor baie jare 'n goeie, lojale kopersmark vir hul houtskool opgebou.

“Ons het goeie kliënte wat saam met ons op reis is en ons hande neem. In die houtskoolbedryf is dit moeilik om 'n goeie mark te kry.”

Om verantwoordelik op te tree, staan vir Steyn sentraal tot die hele bedryf.

“Ek hou nie daarvan om te sê ons is groen nie, want dan word jy polities in 'n hoek vasgeverf. Ons is verantwoordelik.

“Ons het selfs 'n Owambo-woord geskep – oshinakwanifa, verantwoordelikheid. Ons het almal 'n verantwoordelikheid.”



FSC-STANDAARDE

Carbo het verlede week nog 'n Forest Stewardship Council (FSC)-oudit met vlieënde vaandels geslaag en is ook die plaaslike fabriek wat dié standaarde die langste handhaaf.

Dié oudit is 'n voorvereiste vir houtskooluitvoere om te verseker die regte standaarde en etiese praktyke vir houtskoolproduksie word gevolg.

Steyn sê dit kos moeite om produsente te kry om by dié maatreëls te hou, maar dat hulle daarin kon slaag.

Sowat 80% van die produsente wat houtskool aan Carbo verskaf, is ontluikende, of vooheen benadeelde boere, terwyl net sowat 20% wit boere is. “Ons FSC-produsente­syfer lyk ook so.

“Ons het met ons produsente op 'n jarelange reis gegaan en nou wil ons FSC-gesertifiseerde produsente nie meer tamboties kap nie; nou beplan hulle beter en besef hulle die belangrikheid van gesondheid en veiligheid in die werkplek.

“Niemand gee meer vir 'n ou 'n swart sak om onder te bly nie,” sê hy. Hy het ook verduidelik daar word streng volgens die naspoorbaarheidstelsel gewerk en produsente kan nie houtskool lewer sonder om hul bosboupermitte te toon nie.

“'n Groot deel daarvan om aan FSC-maatreëls gehoor te gee, gaan daaroor om 'n buitelandse mark te kry. Ons is oortuig dat ons nie die hardekool- en kameeldoringbome of die dik bome wil uitkap nie.

“Ons wil ons geld eerbaar verdien, op 'n manier wat ook goed vir die natuur is,” verduidelik Steyn.



SKEP RUIMTE

“Die idee agter Carbo is dit wat 'n senter in rugby of sokker doen. Hy skep ruimte vir die vleuel om punte te gaan aanteken. Ons skep ook so 'n ruimte. Ruimte vir die aarde om bosverdigting teen te werk; ruimte vir mense om werksgeleenthede te kry waar hulle dit dalk nie in 'n ander sektor sou kon kry nie; finansiële ruimte vir boere omdat hulle 'n ekstra inkomste kan verdien; en ook ruimte vir die land se ekonomie deur 'n paar ponde of Amerikaanse dollars huis toe te bring. Verder skep ons kuierruimte, want alle kulture in die land kuier saam rondom 'n braaivleisvuur,” vertel Steyn.

Steyn het gewys dat hul aanleg oor 'n skaal beskik waar, soos die houtskool gesif word, die sand, fyn en growwer kole asook restaurant-kole geweeg word. 'n Rekord van elke produk kan aan die produsent gegee word.

Carbo beskik ook oor 'n aanleg waar brikette gemaak word, asook 'n verpakkingsaanleg.

“Carbo is bekend daarvoor dat dit produsente onmiddellik betaal.

“Ná die produsent dit lewer, word dit volgens kliënte se spesifikasies verpak en na Walvisbaai vervoer, waar dit in vrag­houers gepak word en na die hawe gaan.”

* Kyk ook na die video-uitsending van die onderhoud met Carbo Charcoal Namibia op Dinsdag 31 Augustus om 17:00 op Agri Monitor se Facebookblad.

[email protected]

FOTO'S ELVIRA HATTINGH
Carbo beskik ook oor ‘n aanleg waar brikette gemaak word.
Binne 'n houtskoolfabriek: Só word die bestanddele gemeng om brikette te maak.
Mnr. Hans Steyn, besturende direkteur Carbo Charcoal Namibia.
Hard aan die oplaai. Carbo Charcoal Namibia ontvang jaarliks tot 16 000 ton houtskool vanaf produsente.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!