Houtskooluitvoere
Houtskooluitvoere

Houtskooluitvoere

Die groeiende houtskoolbedryf het ’n teleurstellende uitvoerjaar beleef en hoop 2022 sal opmaak vir die daling in uitvoervolumes.
Sanet de Waal
Ronelle Rademeyer

Namibië se houtskooluitvoere na markte in die buiteland het in 2021 met minstens 30 tot 40% gedaal, toon voorlopige syfers.

Die Namibië Houtskoolvereniging sê hoewel dit nog te vroeg is om akkurate uitvoersyfers te verskaf, is dit duidelik die verwagte rekorduitvoere vanjaar het nie realiseer nie.

Dit is te wyte aan die wêreldwye tekort aan vraghouers wat tot reuse-uitdagings in die skeepsvaartbedryf gelei het en vir in- en uitvoerders wêreldwyd hoofbrekens besorg het.

Die NCA sê in berig in die Namibië Landbou-unie (NLU) se nuusbrief van 3 Desember die vooruitsigte vir 2022 lyk heelwat beter.

“Ons verwag dat ’n nuwe skeepsredery teen die begin van Maart 2022 kragte met die houtskoolbedryf sal saamsnoer wat broodnodige verligting sal bring, en ons hoop dat die (vrag)houeruitdagings teen daardie tyd iets van die verlede sal wees.

“Die nuwe skeepsredery sal op die lang termyn meer houers kan verskuif as sommige van ons bestaande groot skeepsrederye,” sê die NCA in dié nuusbrief.

Volgens mnr. Michael Degé, hoofbestuurder van die NCA, het dié vereniging verlede week met verskillende skeepsrederye vergader.

“Die situasie met betrekking tot skeepsvraghouers bly uitdagend en ons verwag dat die situasie eers in Januarie 2022 sal verbeter.”

Nog ‘n positiewe verwikkeling is dat Industriële Laboratoriumdienste (ILS) sy eksterne oudit vir akkreditasie geslaag het. Die Namibiese laboratorium het nou 30 dae om 'n paar klein administrasieprosesse af te handel, sê Degé.

“Nadat dié prosesse gefinaliseer is, het ILS twee maande om te bewys dat sy toetse glad verloop. Gedurende hierdie tydperk van twee maande word die laboratorium aanbeveel vir finale akkreditasie, wat hy aan die einde van Februarie behoort te kry.

“Dit beteken skeepsrederye wat houtskool uitvoer, kan van dié laboratorium in Namibië gebruik maak,” verduidelik hy in die nuusbrief.

Die skeepsrederye, Mediterranean Shipping Company (MSC), moes weer opleiding in die gebruik van die produk, Proliner, uitstel. Dit is ‘n omhulsel wat in ’n vraghouer pas en met spesiale toerusting kan alle lug uit die omhulsel gesuig word.

Streng regulasies geld vir die vervoer van houtskool op vragskepe. Dit volg ná ‘n voorval in die Verre Ooste waar vraghouers op ‘n vragskip aan die brand geslaan het.

Die ingebruikneming van die nuwe produk beteken houtskool sal dan nie meer as ’n gevaarlike produk beskou word nie en vervoerders sal hul bestaande kapasiteit kan verdubbel aangesien houers nie meer net op een spesifieke plek op ’n skip geplaas hoef te word nie, sê Degé.

Die opleiding in die gebruik hiervan sal na verwagting teen einde Januarie geskied, mits die reisbeperkings wat deur Europese lande opgelê is, opgehef word. Die mense wat die opleiding verskaf, kom uit Europa, sê hy.

Volgens hom onderhandel die NCA ook met nog ’n skeepsredery om verskillende roetes vir houtskoolvraghouers te gebruik, wat verdere uitvoerverligting sal bring.

“Die vooruitsig vir 2022 is dus baie beter as 2021. Ons het rekorduitvoere vir ons houtskool verwag, maar vroeë aanduidings is dat die uitvoere met minstens 30 tot 40% gedaal het.”

Degé sê die vraag na Namibiese houtskool groei internasionaal.

Namibië was verlede jaar die vasteland se grootste uitvoerder van houtskool na Europa, en meer as 80 000 ton is daarheen uitgevoer.

Plaaslike houtskooluitvoere na Europa het van 2008 tot 2020 met 400% toegeneem. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 18° | 28° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 19° | 35° Windhoek: 19° | 33° Gobabis: 21° | 34° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 19° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 19° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 20° | 37° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 24° | 27° Gaborone: 21° | 33° Lubumbashi: 16° | 22° Mbabane: 17° | 28° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 16° | 31° Lilongwe: 19° | 25° Maputo: 20° | 33° Windhoek: 19° | 33° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 29° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 17° | 27° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!