Hóés, sê Jan Taks

Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy – Waar ‘n rokie draai, moet ‘n belastingvuurtjie wees.

Die Suid-Afrikaanse minister van finansies, mnr. Malusi Gigaba, se aankondiging gister dat aksynsbelasting op sigarette met 8,5% in die buurland styg, geld ook plaaslik vanweë Namibië se insluiting in die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (Sacu).

So ook die nuus in sy begrotingstoespraak dat sondebelasting op alkohol en tabak met tussen 6% en 10% verhoog. Volgens Netwerk24 is aksynsbelasting op ‘n liter wyn en 750 ml sterk drank nou ook 8,5% hoër. Bier, appelbier en vrugtedrankies word 10% duurder.

Namibiese verbruikers gaan behoorlik vir hul sondes opdok, toon data van die Namibië Statistiekagentskap (NSA). Alkohol en tabak is die vierde swaarste item in die plaaslike verbruikersmandjie. Uit elke N$100 wat bestee word, word N$12,59 hierop geblaas.

Die gemiddelde inflasiekoers vir alkohol in 2017 was 4,8%, terwyl die koers vir tabakprodukte 3.9% was.

Geld uit die Sacu-poel is een van Namibiese regering se vernaamste bronne van inkomste.

Volgens die halfjaar-begrotingshersiening wat in November ter tafel gelê is, verwag die regering bykans N$17,8 miljard uit dié poel in 2018-’19.

Die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, se nuwe begroting word vroeg in Maart verwag.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer