HTS nooi WHS vir kontakstryd

Die rugbyjaar vir skole ontwaak môre op 'n heeltemal ongekende noot.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Organiseerders van skolerugby gaan uit hul pad om vir spelers in die oorblywende deel van die skooljaar geleenthede vir kompeterende wedstryde te bied.

Covid-19 het reeds enige moontlikheid uitgewis dat die jaarlikse Momentum-ligas vanjaar gespeel kan word, maar môre se botsing tussen die eerste spanne van die Hoër Tegniese Skool (HTS) en Windhoek Hoërskool (WHS) om 11:00 by die HTS-veld is die eerste van 'n klompie vriend­skaplike wedstryde wat in die komende weke beplan word.

“Sommige skole het reeds aangedui dat hulle nie belang stel om in die huidige omstandighede rugby te speel nie. Dié skole wat wel wil speel, het sover ook met kleiner getalle spelers as normaalweg geoefen, want rugby word net op 'n vrywillige grondslag gespeel,” sê mnr. Hendrik Grové, voorsitter van WHS se rugbykomitee wat ook by die reëling van die vriend­skaplike ontmoetings betrokke is.

Skole sou volgens hom op die laatste in Julie moes begin speel het indien hulle gehoop het om 'n volwaardige liga ingepas te kry voordat die eksamentye aanbreek.

“Veral vir rugbyspelers is graad 12 se geleenthede in hul laaste skooljaar 'n spesiale herinnering. Om dié rede doen ons wat ons kan om minstens vir die o.19 eerste spanne wat belangstel, 'n klompie wedstryde gereël te kry. In die jonger ouderdomsgroepe en by die tweede spanne sal daar waarskynlik minder spanne betrokke wees,” sê hy.



GETALLE BEPERK

Vanweë die Covid-19-inperkings word byeenkomste beperk tot 250 mense, wat streng gereguleer moet word.

Dié totaal sluit spelers, afrigterspanne, wedstrydbeamptes, media, mediese bystand, sekuriteit asook die spelers se naaste familielede in.

Vir praktiese doeleindes word die wedstryd môre grootliks sonder toe­skouers gespeel. Die goeie nuus vir belangstellendes is dat Namibia Media Holdings regstreekse videostroom van die aksie op die Facebook-blad van My Zone sal aanbied.

“Om die wedstryd te reël, is nogal 'n groot, komplekse uitdaging, maar onder die riglyne van Wêreldrugby, die Wêreldgesondheidsorganisasie en ons Namibiese Sportkommissie is die protokolle wel moontlik,” sê Grové.

Me. Ronelle Bezuidenhout, sportorganiseerder van HTS, sê die skool se wedywering met WHS is een van die oudstes in die tradisieryke geskiedenis van skolerugby in die land.

“HTS het vanjaar vir die eerste keer sedert 2014 weer ons eerste span ingeskryf om in die o.19 premierliga mee te ding.

“Grootskerms vir die videostroom sal ook in die HTS-saal opgerig word, waar nog 250 mense met inagneming van sosiale afstand die atmosfeer kan beleef.

“Skoliere is baie opgewonde oor hierdie geleentheid.”

Toegang na die veld of die HTS-saal sal deur middel van InTouch se papierlose C19-stelsel gereguleer word.


Die spanne:

Witel HTS Warthogs: 1 Upahee Muhuura, 2 Jossy Shilongo, 3 Jaden Jeffery, 4 German Hangula, 5 Kistings Minoyi, 6 Uaenena Kavetuna (kapt), 7 Duhan Bezuidenhout, 8 Shaun Cloete (o.kapt), 9 Zachery Eiman, 10 Willis Prince, 11 Josiah Banda, 12 Ryan Naseb, 13 Erich Shivute, 14 Sergio Beukes, 15 Bobby Kadhikwa.

Reserwes: 16 Oratile Tibinyane, 17 Orville Freygang, 18 Mborota Ndura, 19 Kalu Eichab, 20 Jerusalem Kenahama, 21 Itongua Rukoro, 22 Ethan Williams, 23 Graham Strauss.

Afrigters: Robert Bezuidenhout en Handré Bezuidenhout.

Samsung WHS Koedoebulle: 1 Gian van Dyk, 2 Rikus van Staden, 3 Filipus Iyambo, 4 Conwill Draghoender, 5 Johan Schaaf, 6 Rowan Jansen, 7 Daniel Opperman (kapt), 8 Riaan Grové, 9 Tyrese de Wee, 10 Geraldo Beukes, 11 Quirone Majiedt, 12 Zian van Wyk, 13 Edward Turner (o.kapt), 14 Martin Uusiko, 15 Patrick Karstens

Reserwes: 16 Jacques Maree, 17 Basil Wilmot, 18 Bernd Bronkhorst, 19 Frans Grobbelaar, 20 Bonito Kalinga, 21 Myles Isaacks, 22 Jaco Basson, 23 Joran Farmer, 24 Rachano van Rooi. Afrigters: Ainsley Daniels en Tiaan Steenkamp.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer