Huang se geld-ellende verdiep
Huang se geld-ellende verdiep

Huang se geld-ellende verdiep

Die bekende Chinese sakeman het ’n brief by sy hofdokumente ingesluit waarin ’n vennoot erken die betrokke onderneming is in die knyp.
Yanna Smith
Yanna Smith - Te oordele aan hofdokumente is daar geen einde aan die Chinese sakeman en vermeende belastingbedrieër mnr. Jack Huang se geld-ellende nie.

Ná sy regsgeding van N$3,7 miljoen in Junie verlede jaar teen die sekretaris-generaal van die Namibiese Vakbond vir Staatsdienswerkers (Napwu), mnr. Petrus Nevonga, die voormalige Swapo-raadslid van Ondangwa, mnr. Christian Iitope en Jinhao Investment CC, dagvaar Huang se maatskappy Sun Investments nou Jinhao Investment CC vir ’n verdere N$715 000.

Huang is ook by ’n bedrog- en geldwasserysaak van N$3,5 miljard bertokke, wat steeds hangend is.

In die saak teen Sun Investments het Huang op 3 Oktober 2016 aan die hof gesê ’n lening van N$550 000 is aan Jinhao Investment vir die besigheid se “werksaamhede” toegestaan.

Huang het Jinhao saam met Nevonga end Iitope op 27 Oktober 2015 gestig.

Dié maatskappy het op Ondangwa as Super Foods handel gedryf.

Die geld moes op 30 Mei 2018 terugbetaal word, wat volgens Huang nie gebeur het nie.

Derhalwe het hy die hof vir die betaling van N$715 000 gevra, met jaarlikse rente van 20%.

Hy het ’n brief by sy hofdokumente ingesluit waarin Iitope die bestaan van die skuld erken en sê “ons ervaar finansiële probleme”.

Jinhao het op 28 Junie verlede jaar ’n kennisgewing van die voorneme om homself te verdedig by die hof ingedien.

Die hof het beveel dat dié onderneming se verweer teen 16 November ingedien moet word en het verskeie datums, asook gister se voorverhoorvergadering vasgestel.

Mnr. Kadhila Amoomo, Jinhao se regsverteenwoordiger, het gevra dat die laat indiening van dokumente verskoon word, wat Huang nie teengestaan het nie.

Die partye het gister ooreengekom om op regter Shafimana Ueitele se instruksies te wag.

In Huang se ander saak teen Nevonga, Iitope en Jinhao, wat ook gister op die hofrol was, het presies dieselfde gebeur.

Huang het gevra om kwytgeskeld te word van die indien van hofdokumente en ’n ongetekende beëdigde verklaring, terwyl die drie verweerders gevra het om vir laat indiening verskoon te word.

Die partye het in hierdie verband ook ooreengekom om op Ueitele se instruksies te wag.

Nevonga, Iitope en Jinhao het verlede jaar kennis gegee van die voorneme om te verdedig, en het op 16 November verlede jaar in hul verweer gesê die geld wat hulle geleen het, kan slegs terugbetaal word sodra Super Foods wins maak.

Hulle het ook ontken dat Huang Jinhao op 2 Februarie verlede jaar verlaat het.

Hulle het aangevoer daar was ’n “mondelinge ooreenkoms tussen hulle en Huang dat hy ’n agent sal aanstel wat te alle tye namens hom sal optree, as gevolg van die belastingskwessies waarby hy betrokke was".

Hulle ontken die feite van die drie eise van N$3,7 miljoen en eis bewyse van Huang.

In sy eerste eis het Huang gesê hy het aan Nevonga en Iitope N$1,6 miljoen geleen, plus N$416 000 se rente, wat N$2,016 miljoen in totaal beloop.

Wat die tweede eis betref, het Huang gesê hy het ’n bedrag van N$1 254 427,62 tot die maatskappy bygedra, wat te veel was en op 31 Augustus 2017 terugbetaalbaar was.

Volgens sy dokumente was die maatskappy in chaos gedompel. Daar was glo verskeie probleme met die betaling van verskaffers.

“Ons het ook probleme ervaar met inkomste vir die aankoop van voorraad. Die winkel se inkomste kon nie al die bedryfsuitgawes dek nie.”

Namibia Beverages het die supermark ook as ’n “kontantkliënt” hanteer omdat hulle glo nie by hul ooreenkoms kon hou nie.

Weens uitdagings met kontantvloei is die “meerderheid van hul aankope by ongeregisteerde handelaars gedoen, wat tot hoër BTW-koerse gelei het”.

Hulle het, verbasend genoeg, ook melding gemaak van personeel-uitdagings, omdat daar geen salarisverhogings en geen pensioen- of mediese fonds was nie.

Verder moes personeel glo sonder betaling op Sondae en vakansiedae werk.

In dié dokument het Huang gesê hy moes N$300 000 oordra om die dringendste uitstaande bedrae aan verskaffers te betaal, wat hy glo gedoen het.

Daar is ook ’n “uiteensetting van persentasies", wat toon Huang het glo N$1 254 427,62 te veel bydgedra.

’n Gevriesde Nedbank-rekening is ook genoem en “vir eers is salarisse deur mnr. Huang betaal. Sodra die bankrekening ontvries is, sal die bedrag aan Huang terugbetaal word”.

Die tweede eis wat deur Huang ingestel is, behels N$1 376 734,31, met rente sedert Augustus 2017.

In sy derde eis vra hy N$300 000 met rente van N$26 000.

Sy volle en finale eis teen Nevonga en Itope beloop N$3 718 734,31.

Huang het ook rente van 20% per jaar geëis van die datum van die uitspraak af tot die bedrag ten volle betaal is, en dat die regskostes deur die verweerders betaal word.

Huang word deur mnr. Appolos Shikameni in beide sake verteenwoordig en mnr. Kadhila Amoomo verskyn vir Nevonga en Itope.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!