Huawei: Nog u2019n veldslag in u2019n oorlog
Huawei: Nog u2019n veldslag in u2019n oorlog

Huawei: Nog ’n veldslag in ’n oorlog

Dié debakel kan ’n belangrike kwessie word in die VSA se onderhandelinge met China om ’n oplossing vir die twee lande se voortslepende handelsoorlog te vind.
Die Amerikaanse owerhede se besluit om die Chinese tegnologiereus Huawei te swartlys, het die afgelope week skokgolwe deur die wêreld gestuur. Liesl Peyper het gaan vasstel wat ’n VSA-handelsbeperking uiteindelik vir selfoongebruikers sal inhou.

Dit is koud daarbuite, het Huawei – die wêreld se tweede grootste selfoondiensverskaffer naas Samsung – die afgelope week uitgevind nadat die soekenjin Google aangekondig het hy gaan alle sakebande met dié maatskappy opskort.

Dié stap beteken dat alle opdaterings en ondersteuningsdienste vir die Android-bedryfstelsel summier gestaak sou word. Huawei maak ruim gebruik van Android om sy slimfone wêreldwyd aan te dryf en steun swaar op Google vir gewilde apps soos Chrome, Goo­gle Maps en YouTube.

Hoewel die VSA intussen ’n tydelike lisensie vir Huawei geskep het wat geldig is tot 14 Augustus en wat hom in staat sal stel om sy bestaande netwerke te bedryf, sagteware op te dateer en ondersteuning te bied aan selfoongebruikers, is dit vir eers net ’n tydelike skikking. Volgens The Wall Street Journal beteken die tydelike lisensie dat Google vir die volgende 90 dae steeds sy opdaterings deur Android-sekerheidstelsels aan Huawei sal bied.

Sou Google egter voortgaan om Huawei se lisensie ná die grasietydperk van 90 dae in te trek, sal die Android-bedryfstelsel nie langer beskikbaar wees vir enige Huawei-fone wat in die toekoms vervaardig word nie.

Die Huawei-debakel kan egter ’n belangrike kwessie word in die VSA se onderhandelinge met China om ’n oplossing vir die twee lande se voortslepende handelsoorlog te vind.

Die Amerikaanse president, Donald Trump, het aan joernaliste by die Withuis gesê Huawei kan deel vorm van ’n handelsooreenkoms, berig Bloomberg.

Uitverkoping!

Selfoonmaatskappye wêreldwyd het die afgelope week halt geroep met die verkope van Huawei-selfone weens die onsekerheid oor of die groep in die toekoms gebruik sal kan maak van Android-apps.

In Japan, Taiwan en Brittanje het selfoondiensverskaffers opgehou om bestellings te aanvaar vir nuwer Huawei-slimfone, berig Bloomberg.

Huawei-selfoongebruikers het die afgelope paar dae geskarrel om van hul Huawei-fone ontslae te raak in die lig van die afgelope week se gebeure. Luidens Reuters het selfoonwinkels in die Filippyne en Singapoer geweier dat gebruikers hul Huawei-fone inruil vir ander handelsname.

Takealot, Suid-Afrika se grootste aanlyn winkel, het gister bepaalde Huawei-fone geadverteer vir tot 30% minder as die oorspronklike verkoopprys.

Hoe nou met Huawei?

As Huawei nie langer toegang het tot die Google-apps nie, sal dit sy bemarkbaarheid in Westerse lande – spesifiek in Europa waar sy fone besonder gewild is – ’n gevoele knou toedien, berig MyBroadband.

Verskeie woordvoerders van die tegnologiereus het in die verlede die maatskappy se afhanklikheid van Google onderspeel en gesê Huawei ontwikkel sy eie bedryfstelsel wat baie vinnig in werking gestel sal kan word.

Huawei se “tuisgemaakte” app-winkel is reeds vroeg in 2018 aan lande buite China bekendgestel, maar kenners twyfel of internasionale selfoongebruikers aptyt daarvoor sal hê, omdat die aanbod daarop moeilik sal meeding met die gewilder Android-apps.

’n Ander opsie vir Huawei sou wees om sy dienste te migreer na ’n sogenaamde ope platform waar hy steeds toegang sal hê tot sekere van Android se veiligheids- en app-opdaterings, maar nie tot apps wat beskerm word deur kopiereg nie.

Sonder die sagteware-opdaterings van Google kan Huawei-selfoongebruikers kwesbaar wees vir sekerheidsbedreigings wanneer die kwytskelding van 90 dae verstryk, luidens BusinessLive.

Selfoonoperateurs en tegnologiekenners wêreldwyd het die afgelope week hul kommer uitgespreek oor Amerika se strafmaatreëls jeens Huawei en die gevolge wat dit veral vir die ontplooiing van 5G-netwerke kan inhou.

Die rubriekskrywer Simon Jen­kins van die Britse dagblad The Guard­ian het egter ’n ander mening daaroor.

Die “verbanning” van Huawei, skryf hy, is goeie nuus, want dit sal die mark oopmaak vir nuwe rolspelers, terwyl owerhede wêreldwyd tegnologiereuse soos Huawei beter kan reguleer en belasting op hul doen en late kan hef.

“Die opbreek van reuse in die era van inligting . . . is in die belang van deursigtigheid en vryheid,” meen Jenkins.

Hoe raak dit jou?

As jy reeds ’n Huawei-foon het, is daar nie onmiddellike rede tot kommer nie.

Gebruikers sal steeds veiligheids- en sagteware-opdaterings kan doen en toegang hê tot Android-apps.

Die probleem lê egter by Huawei-fone wat in die toekoms uitgereik gaan word, het Dominic White, tegniese hoof, aan Business Insider gesê.

As Google voortgaan om ná die grasietydperk van 90 dae Huawei se lisensie op te skort, sal Huawei nie toegang hê tot die apps wat op die Google Mobile Suite is nie. Die apps sluit in YouTube, Gmail, Google Maps en Google Search.

Jy sal egter steeds die dienste deur jou webblaaier kan gebruik.

Vir volledige funksionaliteit moet die Google Mobile Suite van meet af aan by slimfone ingebou word eerder as ná die tyd, verduidelik White. Dit beteken die nuwe Huawei-fone sal funksionaliteit inboet.

“Die vraag is dus of toekomstige Huawei-fone dieselfde toegang sal hê tot dié apps,” sê White. Dit is dus nie wys om nou ’n Huawei-foon aan te skaf nie, sê hy.

’n Negatiewe uitvloeisel van die Huawei-Google-debakel wat Suid-Afrikaners se sakke kan raak, is egter hoër datapryse, berig BusinessLive.

’n Batebestuurder het aan die publikasie gesê selfoonoperateurs soos MTN gebruik Huawei-toerusting in hul netwerkinfrastruktuur omdat sy produkte heelwat goedkoper is as byvoorbeeld dié van Siemens en Nokia.

As plaaslike operateurs sal moet oorskakel na ander verskaffers, kan dit hul koste aansienlik opjaag wat uiteindelik die pad sal vind na gebruikers in die vorm van duurder data.

Waar kom dit alles vandaan?

Sake het ongunstig begin raak vir Huawei toe Meng Wanzhou, sy finansiële hoof in Kanada, in Desember verlede jaar in hegtenis geneem is. Sy is die dogter van Ren Zhengfei, Huawei se grootbaas en stigter.

Meng se inhegtenisneming was op versoek van die VSA wat bedrogklagte teen haar aanhangig gemaak het rakende transaksies met Iran. Dié land is tans onderhewig aan sanksies.

Huawei word dikwels daarvan beskuldig dat hy baie sterk bande met die Chinese owerhede het. Boonop is die groep bereid om met “bedenklike” lande soos Noord-Korea en Iran sake te doen.

Pres. Donald Trump van Amerika het Huawei daarvan beskuldig dat hy ’n veiligheidsbedreiging vir die VSA inhou ná gerugte dat die Chinese regering Huawei-hardeware gebruik om op ander lande te spioeneer.

Huawei het tot dusver alle bewerings ontken. Die VSA vrees egter dat China deur Huawei sensitiewe inligting van Amerikaners kan bekom soos liggingsdata wat op sy beurt Amerikaanse infrastruktuur kan bedreig.

Bloomberg het Trump vroeër aangehaal dat hy gesê het Huawei is “baie gevaarlik”.

“Kyk maar wat hulle doen vanuit ’n veiligheidsoogpunt; vanuit ’n militêre oogpunt,” het Trump gesê.

· Bykomende bronne: Business Insider, Al Jazeera – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!