Huise van hel

Agt jong, verlate kinders, waarvan een nie oorleef het nie, moes die naweek uit haglike omstandighede in Havana gered word.
Tanja Bause
Tanja Bause – Uitgeteer, kaal en te swak om te reageer . . .

Dít was die grutoneel waarop die stadspolisie en ‘n reddingspan Vrydagaand afgekom het toe hulle die deur van ‘n sinkhuis in die Havana- informele nedersetting in Windhoek oopgebreek het.

Binne in die stikdonker was dit doodstil. Eers toe die span, bestaande uit die stadspolisie, lede van OSh-Med International en lede van die Kosmos 94.1-COPPS-radioprogram, hul flitse aanskakel, het hulle die vier kinders onder ‘n kombers op die sementvloer sien lê – ‘n babadogtertjie van drie maande, haar sussie van tussen drie en vier jaar en haar twee boeties van een jaar en vyf jaar.

“Ons het baie geraas toe ons die deur afgebreek het, maar hulle het nie gehuil nie. Hulle het geen geluid gemaak nie. Hulle het net daar gelê en vir ons gekyk. Hulle was té swak om enigiets te doen,” het mnr. Francois Lottering, veteraanjoernalis en lid van die span, gister aan Republikein gesê.

“Ek het probeer om ’n reaksie uit die baba te kry, maar sy was baie lomerig. Sy het haar oë oopgemaak, maar onmiddellik weer aan die slaap geraak,” het dr. Aina Katangolo van Osh-Med International aan die koerant gesê.

Gedehidreer

Die baba se lyfie was met ‘n uitslag oortrek en sy was heeltemal gedehidreer. Haar sussie en boeties, ook gedehidreer, het eweneens geen reaksie getoon nie, het Katangolo gesê.

“Ons het nie eers op die ambulanse gewag nie. Ons het die kinders in die voertuie gelaai en onder polisiebegeleiding na die Kautura-staatshospitaal gejaag,” het Lottering gesê.

Die baba het Vrydagnag in die hospitaal beswyk.

“Ek het Saterdag gehoor die baba is oorlede en dit het my gebreek. Ek voel baie bevoorreg dat ek haar laaste ure saam met haar kon deurbring. Geen kind verdien dit om so te sterf nie,” het Lottering in trane gesê.

Katangolo meen die baba sou Vrydagnag in elk geval weens dehidrasie, wanvoeding en verwaarlosing gesterf het.

“Ek is baie dankbaar die gemeenskap het geskakel en dat sy nie in die sinkhuis op die sementvloer tussen haar broers en suster dood is nie,” het sy gesê.

Noodroep

‘n Bekommerde vrou van Havana het Vrydagaand ná 20:00 die stadspolisie en hul medewerkers gebel en gesê die vier kinders is reeds vir etlike ure in die sinkhuis toegesluit. Die span het na die toneel gehaas.

Daar gekom, het lede van die gemeenskap hulle na die sinkhuis geneem. Die deur was met ‘n ketting en slot gesluit en daar was niemand in sig nie.

“Binne die huis was daar ‘n doodse stilte en ons het eers gedink ons was by die verkeerde huis,” het Katangolo gesê. Die polisie het toe die slot opgebreek.

Intussen het die ma opgedaag. Gemeenskapslede het haar aan die polisie uitgewys.

Sy moes ‘n asemtoets doen, wat glo getoon het haar alkoholvlak is 0,8 mg.

Die vrou is in hegtenis geneem. Op aanbeveling van ‘n maatskaplike werker is is sy saam na die hospitaal. ‘n Klag van kinderverwaarlosing sal ondersoek word.

Nóg kinders toegesluit

Saterdag moes die polisie nóg vier kinders red wat in ‘n enkelkamersinkhuis in Havana toegesluit was.

‘n Bekommerde gemeenskapslid het gebel en gesê die ma van die kinders – een, vier, sewe en tien jaar oud – het Vrydagaand verdwyn.

Toe die polisie die deur opbreek, was die kinders getraumatisser, gedehidreer en honger. Daar was net ‘n emmer water in die kamer. Die stadspolisie het vir die kinders kos gaan koop en vir hulle water gegee. Hulle is daarna na hul oupa op Groot Aub geneem.

Teen gister was daar nog geen spoor van die kinders se ouers nie.

Bel die polisie

Beide Katangolo en Lottering het ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om die polisie te bel as hulle gevalle van kindermishandeling of -verwaarlosing gewaar.

“Maak die oproep en hulp sál kom,” het Katangolo gesê.

Volgens konst. Felisiana Tyiwana van die stadspolisie kom die verwaarlosing van kinders toenemend voor.

“Die gemeenskap, onderwysers en verpleegsters moet die polisie skakel as hulle kinderverwaarlosing vermoed. Ons kan nie toelaat dat wat met die baba en kinders gebeur het, met ander kinders gebeur nie. Bel die polisie sodat ons in dit in die toekoms kan probeer verhoed,” het sy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!