Hulde aan onderwyslegende

Op 25 April het ’n troosdiens vir ’n volgepakte kerk gesorg.
Dani Booysen
Van heinde en verre het mense gekom om Oom Appie (Abraham Johannes) du Plooy, ‘n legende in Namibiese onderwys, op 25 April by ‘n troosdiens te groet.

"Dit moet eerder ‘n lofdiens wees," het sy seun Niel gesê.

Pastoor Alfons Seibeb van die Saviours’ Mission in Goreangab, Katutura, het sy herinneringe aan Oom Appie gedeel.

“Ons het hom geken as Oom Appie. Die kinders het hom 'uncle Appie' genoem. Hy het nooit tyd vir grense of kleur gehad nie. Hy het geweet waar die armes se huise is.

“Daar was dae wat ons gestry het en dae wat ons aanmekaar gelag het,” het Alfons voor ‘n volgepakte kerksaal van die Gereformeerde Gemeente Suid in Pionierspark getuig.

Oom Appie was een van die raakvatters wat dié gemeente help vestig het en was tot sy dood ‘n ouderling.

“Hy het my geleer om ‘n man van God te word,” het Alfons gesê. "Hy het vir die oumense komberse gebring in die winter, ook klere en kos. Vir die kinders ook. Dit is die man wat ons geleer het dat ons iets werd is. Hy het nie gehou van halwe werk nie . . . ”

Meneer Du Plooy (Oom Appie) word onthou vir sy nederigheid, entoesiasme, integriteit, respek vir almal, motivering en mentorskap, deeglikheid, voorbeeldigheid, uitnemende beplanning, diens aan die gemeenskap, sy volgehoue evangelisasiewerk, maar ook sy “harde kant”, waarvolgens daar net een “reg” was.
Dr. Callie Opperman se skriflesing uit 2 Timoteus 3 het die verbande saamgevat tussen leer, onderrig, kennis – sleutelelemente van opvoeding – en Oom Appie se geloofslewe.

Mnr. Bertus Gous was 43 jaar lank Oom Appie se kollega en het die oudskoolhoof van die sekondêre skole Mariental en Academia uitgesonder as iemand wat altyd die "groter saak eerste gestel het".

Sowat 50 kilometer buite Gobabis is die Primêre Skool Hippo destyds vir San- en ander leerlinge geopen. Oom Appie het baie sweet, tyd en liefde hierin belê.

Abrie du Plooy het gesê hulle het as kinders reeds besef hul pa is ‘n vader vir baie meer kinders as net vir hulle.

As onderwyser, koshuisvader en later skoolhoof, was hy ‘n man wat “dinge laat gebeur het”.

“Hy het ons altyd geleer om te doen wat goed en reg is.”

Me. Josephine //Gowases en kollegas van die Life Change Centre het ‘n hartroerende lied vir Oom Appie in Khoekhoegowab gesing. En gewonder wie nou sy skoene sal volstaan.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!