Hulde aan Oom Frans Cloete
Hulde aan Oom Frans Cloete

Hulde aan Oom Frans Cloete

Mandy Rittmann
N. COOPER VAN HOACHANAS SKRYF:

Terwyl ek deur die naweek-Republikein blaai, het ek toevallig op die begrafniskennisgewing van mnr. Frans Petrus Richard Cloete (Oom Fana) afgekom.

Vir my was dit 'n groot skok, seker omdat ek nie verwag het dat hy ons nou al sou verlaat nie.

Oom Fana, soos hy in die onderwys­kringe en by sy kollegas bekend was, het diep spore in die onderwys gelaat; spore wat deur baie min geëwenaar sal word.

Ek het hom vir die eerste maal in die middel negentigerjare ontmoet toe ek op die streekshoofbestuur van Nantu gedien het, waar ons telkemale beraadslag het met die onderwysbestuur van die twee suidelike streke toe hulle nog saam was onder die direkteurskap van wyle mnr. Hermanus Izaks. Daar het ek hom leer ken as 'n uitstaande redenaar wat nie sy siening en standpunte met emosies gemeng het nie.

Hy het later my kringinspekteur geword en omdat ek uit die vorige bedeling gekom het, waar skoolinspekteurs na die skole gekom het om fout met alles te vind, het ek hom met gemengde gevoelens ontvang. Hy het my egter die teendeel bewys, dat hy slegs daar was om hulp te verleen. Ek kan nie 'n dag onthou dat mnr. Cloete enige negatiewe opmerkings teenoor my of teenoor die inrigting geuiter het nie.

Hy het 'n besonderse karakter geopenbaar wat mense na hom toe aangetrek het.

Ek onthou die geval toe ek die hele skoolraad Rehoboth toe moes vervoer om by hom te pleit dat al die ongekwalifiseerde juffrouens in die laerprimêre afdeling in die BETD-program opgeneem word, iets wat op daardie stadium onmoontlik was omdat elke skool net 'n sekere kwota ontvang het.

Hy het die streeksbestuur oorreed om al die juffrouens die volgende jaar in die program op te neem. Iets waarvoor hulle hom ewig dankbaar sal wees.

Die onderwys ná die 1990's was nie maklik nie, veral vir die inspekteurs en ons skoolhoofde. Ons almal was die implementeerders van die nuwe regering se onderwysbeleid.

Die onderrigmetode moes verander van die onderwysergesentreerde na die leerlinggesentreerde. Die medium van onderrig moes verander van die Afrikaanse taal na die Engelse taal en dit nogal met onderwysers wat hul opleiding net in Afrikaans ontvang het, maar met die jobse geduld van onderwyskenners soos Oom Fana kon ons die wa deur die drif trek.

Ek onthou hoe mnr. Frans Cloete en mnr. Gerard Ennsle met die ligblou Ford Sierra die grondpaaie van die Suide van skool tot skool moes deurkruis om gehalte onderwys in die ||Kharas- en Hardapstreke te vestig. Dit was die jare toe die twee streke saam eerste in die graad 10- en 12-uitslae gestaan het.

Sy onbaatsugtige diens vir die onderwys van hierdie land, sy passie vir die beroep waarin hy gestaan het en sy toewyding en voorbeeld is deel van sy nalatenskap, wat die wat hom ken nooit sal vergeet nie.

Ek het in 2008 by die onderwysstreekskantoor op Mariental aangesluit. Oom Fana was adjunkdirekteur en ek het in die vakadviesdiens gewerk. Almal op hierdie kantoor het hom met respek behandel, want hy het almal met respek hanteer, ongeag die posisie wat jy beklee het. Almal het net met lof van hom gepraat.

Omdat hy die voorstander van eerlikheid en regverdigheid was, moes hy telkemale ingryp om mense wat onregverdiglik behandel is se lot aan te spreek en te beredder.

Ek het hom een keer ná sy aftrede op Kalkrand ontmoet en gevra of daar ooit iets is waaroor hy spyt was in sy onderwysloopbaan. Toe sê hy daar is niks waarvoor hy spyt is nie. Volgens hom was daar egter perde wat hy nie 'n tweede kans sou wou gee as dit van hom sou afhang nie.

Ek vra hom toe of hy sou terugkom as hy gevra word en hy sê dan sal hy seker sy kop moet laat lees. Hy was eenvoudig net konsekwent in sy benadering van dinge.

Ons eer die Here vir 'n onderwysman soos Oom Frans Cloete, vir die onselfsugtige diens wat hy tot en met sy aftrede gelewer het. Ons dank die vrou, kinders en die breë familie vir die wonderlike en wyse man wat hulle onvoorwaardelik aan ons geleen het. Hy sal deur baie gemis word by alle plekke waar hy ná aftrede betrokke was, en selfs by plekke waar hy bloot sy vriendelike gesig gewys het.

Hy verdien waarlik om gemis te word, want hy het met almal net goed bedoel.

Rus sag Oom Fana, want u verdien dit.

U familie het Psalm 116 vers 7 as die begrafnisbrief uitgekies, wat klink asof u dit self gesê het: "Ek moet nou tot rus kom, die Here het goed aan my gedoen."

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!