Hulde aan Stienie Mudge
Hulde aan Stienie Mudge

Hulde aan Stienie Mudge

Gert Jacobie skryf:

As mens die deugde van ‘n goeie vrou wil besing, is tannie Stienie Mudge (87) wat op Dinsdag,

12 Desember 2017 oorlede is, ‘n skitterende voorbeeld. Sy het as aardsmoeder en die vrou aan

die sy van Namibië se goue seun in veranderingspolitiek, Dirk Mudge, haar rol as familiemens,

raadgewer en voorvrou weergaloos vervul.

Tannie Stienie is in Windhoek se Paramount-versorgingseenheid oorlede, waar maande lank

reeds na haar en haar geliefde eggenoot omgesien word. Juis die noue band en onskeibaarheid

van die twee oumense, saam met die groot klomp liefdevolle kinders en dié se kinders en hulle

kinders, het dit vir die personeel van die hospitaal ‘n maklike las gemaak om na meneer en

mevrou Mudge om te sien.

Baie onlangs het die president, dr. Hage Geingob en sy vrou Monica, op ‘n Sondag ná kerk

opgedaag vir ‘n besoek aan die Mudge-egpaar. Verlede week het die minister in die

presidensie, mnr. Frans Kapofi, by mnr. Mudge gaan aanklop om die presidensiële en sy

persoonlike meegevoel met die strydros in die Namibiese politiek te gaan betuig.

Boodskappe van medelye is van ooraloor ontvang en dit is veral sosiale media waar haar dood

reaksie uitgelok het. Wye reaksie, waar sy as gelykmatige, sjarmante, mooi en deugsame mens

beskryf word. Alles waarhede wat haar toegesing word.

Ook die veteraan-politikus en eertydse minister van buitelandse sake van Suid-Afrika, mnr.

Roelof (Pik) Botha het sy boodskap met haar heengaan gestuur. Mnr. Botha en mnr. Mudge het

in tydsgewrig beweeg toe regdenkendes al besef het Namibia moet polities onafhanklik word.

Hy spreek sy “diepste medelye uit oor die jammerlike afsterwe van so ‘n geliefde persoon,

Stienie Mudge. “Sy het in die uitdagendste tye van Dirk se lewe, hom onvoorwaardelik

bygestaan. Die voorbeeld wat sy deurgaans in haar lewe gestel het, is ‘n monument wat ewig

sal bly staan,” het hy in sy boodskap aan mnr. Mudge laat weet.

Dit is die trant waarin ook duisende Namibiërs reageer het op die nuus van ta’ Stienie se dood.

Die baanbrekerswerk wat die Mudge-egpaar in Namibia gedoen het deur etniese verskille saam

te snoer in ‘n eenheid vir die onafhanklikwording van Namibia het veroorsaak dat meneer en

mevrou Dirk en Stienie Mudge vereenselwig word met die nie-rassige aard van Namibia en dat

min onderskeid gemaak kan word tussen wie van die twee die eintlike held van die politieke

donker dae was. Hulle was ‘n eenheid.

Tannie Stienie is op 31 Mei 1930 op die plaas Ovigere in die skadu’s van die Etjo-berg gebore

en sy het tot verlede jaar nog daar gewoon, tot swak-gesondheid haar en haar man na die sorg

van hul vyf kinders in Windhoek gedwing het. Die plaas is nou deel van die bekende Mount

Etjo-wildplaas.

Dit was juis van die geboorteplaas Ovigere af waar sy met die herdenking van haar tagtigste

verjaardag haar lewe so goed saamgevat het. Sy het destyds in ‘n telefoniese onderhoud

gesê: "Ek is gelukkig om vandag van my geboorteplaas af in ‘n land van vrede met jou te kan

praat.

“Ons woon lekker hier en ek en my man is dankbaar om ons kinders en die kleinkinders gereeld

op die plaas by ons te kan hê.”

Die woorde het ta’ Stienie goed opgesom: sy was tevrede met wat sy en haar man bereik het. Hulle

was gelukkig op die grond waar sy die eerste lewenslig aanskou het en bowe al, was sy lief vir

haar mense, almal van hulle. . .

* Gert het as 'n voormalige nuusredakteur en redaksielid van Republikein, asook deur sy betrokkenheid later by die Dirk Mudge Trust, 'n intieme pad met die Mudge-familie gestap.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!