Huldeblyk aan my ma, Marianne Pretorius
Die landbougemeenskap het met leedwese afskeid van Marianne Pretorius geneem, wat op 13 September in 'n Windhoekse hospitaal ná 'n stryd met kanker oorlede is.
Sy is die eggenote van Thinus Pretorius, voorsitter van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO). Sy word deur haar man en oudste dogter, Marianne Pretorius junior, oorleef.
Pretorius se gedenkdiens vind môre om 10:00 op die plaas Phantom, suidwes van Otjiwarongo, plaas.
Marianne junior, 'n voormalige redaksielid van Republikein, het 'n huldeblyk aan haar ma geskryf:
My ma (Marianne Pretorius)
Mens kan vir altyd 'n klein kindjie wees by jou ma. Dit is hoe almal gevoel het wat by haar 'n koppie swart tee kom drink het. In haar kombuis, tussen die plaasradio wat raas, die minus40 wat murmureer en haar honde wat groet, is daar altyd plek. Nie vir groot groepe nie, want dan is daar te veel oë op haar. Net vir jou. En álles van jou. Dit was net oraait. Dan kyk sy diep in jou oë en jy weet sy weet klaar, maar as jy nogsteeds wil praat, dan is dit ook reg. Sy het tyd.
My ma is op 2 September in 1960 op Gobabis gebore. Sy het op Keetmanshoop grootgeword saam met haar broers, Wilhelm en Hermann. Haar ouers, Phoebe en Ernst Kuschke was beide onderwysers en daarna inspekteurs en hulle het dus gereeld verhuis. Dit, sê sy, het haar geleer om nooit aan aardse goed geheg te raak nie, want als is tydelik. Dit, sê sy, leer mens om vir die oomblik te leef en dit wat jy het, te geniet.
Standerd 9 en matriek voltooi sy aan Bloemhof Meisieskool op Stellenbosch. Daar het ou Liza, die skoolhoof, hulle een ding geleer wat haar altyd bygebly het. BP, die vulstasie, moet jou altyd herinner om positief te bly. Be Positive. Dit, en dat as mens elke dag uitslip om 'n yogurt, brood en slaptjips te koop, mens so vet raak dat jou pa dink jy het pampoentjies.
Daarna gaan sy terug Windhoek toe om as een van die eerste eerstejaars by die Onderwyskollege te begin studeer. Sy het altyd met groot trots vertel hoe haar pa deel was van die stigting van die instansie. Vier jaar later, ten spyte van die “bleddie” biologie, ontvang sy haar diploma en verhuis Swakopmund toe waar sy haar beste vriend ontmoet wat haar lewe lank aan haar sy sou bly.
My ma het my pa, Thinus Pretorius, ontmoet toe hy nog in die polisie was. “Ek het altyd gesê net nie 'n polisieman nie...” Maar na 'n kollega my pa vertel het van die mooi, vriendelike, nuwe onderwyseres wat 'n wolfhond by die polisiestasie kom soek het, moes hy, in volle uniform, darem net weer kom bevestig dat “hulle nie op die oomblik hondjies het nie.” Sy het hom ingenooi vir koffie en niks van hom gehou nie.
So beland hulle in dieselfde vriendekring en toe sy weer haar oë uitvee, is hulle onafskeidbaar. Swakopmund-dagwoods en Bonusmark-roomyse en lang joyrides deur die dorp raak al hoe meer gereeld en al hoe meer spesiaal en ná bykans twee jaar, kys hulle.
Op 5 Julie 1986 trou hulle in Bloemfontein op die koudste dag wat my ma kan onthou in 'n wit rok wat haar ma vir haar gemaak het.
VAN GRAPPIES AANMEKAAR GEWEEF
Twee jaar later is ek gebore en nog drie jaar later, my sussie, Anél. Die huis wat my ma geskep het, was een vol liefde en aanvaarding en só lekker dat ek 33 jaar later myself gereeld by kuiers verskoon het om bietjie by my ma te gaan speel, want sy was van die eerste oomblik my beste vriendin, my grootste aanhanger en altyd aan my kant.
Op 'n aaklige dag in November 2015 verongeluk Anél en ons drie se pad verander drasties en permanent. Om drie borde in plaas van vier uit 'n kas te haal, voel so min en ons weet almal, ons gaan nooit weer lag nie. Ons was verkeerd, want ons kon weer lag. Want my ma moes lag om te leef en sy was van grappies en gesels aanmekaargeweef. Hoe flouer die grap, hoe snaakser.
In 2019 is my ma met borskanker gediagnoseer en die lang kankerpad durf sy toe met 'n waardigheid en trots aan wat my verstom.
Die laaste twee jaar was bergagtige terrein, maar ons kon by elke uitsigpunt stop om dit saam te waardeer, want elke tree wat ons gegee het, was uit suiwer, ongekompliseerde, onvoorwaardelike, onbeperkte liefde vir mekaar.
As sy doodgaan, het sy vir my gesê, kyk na die lagduifies. Sy is 'n lagduifie en Anél is 'n pieterpol. Dan is hulle saam in die hoë bome wat sy geplant het. Daardie bome wat vir die res van my lewe, vir my skaduwee maak.
– [email protected]
FOTO’s
Die Pretoriusse: Van links is Anél, Marianne senior, Thinus en Marianne junior. FOTO FACEBOOK
Wyle me. Marianne Pretorius. FOTO VERSKAF

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie