Hulp, hoop vir desperate ma’s

Die Namibiese kinderwet maak voorsiening daarvoor dat ’n ma haar baba anoniem op ’n veilige plek mag laat sonder om vervolging in die gesig te staar.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – “Ek wil hê elke mamma wat beplan om haar baba weg te gooi of dood te maak, moet my bel. Ek is bereid om na enige plek in Namibië te ry en haar babatjie te gaan haal, sy moet hom of haar net nie enige leed aandoen nie.”

Dít is me. Ronel Peters van Swakopmund se pleidooi wat met Ruach Elohim ’n veilige hawe en alternatief vir desperate ma’s op dié kusdorp geskep het.

In Februarie verlede jaar is die Namibiese kinderwet verander om voorsiening te maak daarvoor dat ’n ma haar baba anoniem op ’n veilige plek mag laat sonder om vervolging in die gesig te staar.

Dít mits die baba ongedeerd is en die plek wel ’n veilige plek is. Dit sluit in hospitale, polisiekantore en amptelike plekke van veiligheid soos Ruach Elohim.

“Ek dink nie genoeg mense weet van ons stigting en tuiste nie. Ook weet mammas wat hul babas weggooi of doodmaak nie hulle kan die babas anoniem op enige veilige plek los nie. Hulle weet steeds nie die wet is verander en dat hulle wél hul babas anoniem mág los in ’n hospitaal, polisiekantoor of ander veilige plek nie,” sê Peters.

Ruach Elohim beteken “God se asem” in Hebreeus.

“Want wat anders is ’n klein babatjie as die Here se asem? As die Here nie die asem in hom blaas nie, is daar nie lewe nie,” sê sy.

Peters en haar man, Dick, kon verlede jaar met die hulp en leiding van die ministerie van geslagsgelykheid en kinderwelsyn hul huis op Swakopmund amptelik as individuele plek van veiligheid laat verklaar.

Dit beteken hulle kan tot ses babas op ’n slag versorg.

In so ’n geval het Peters hulp nodig en moet sy helpers aanstel. Daarom het hulle aansoek gedoen om as ’n liefddadigheidsorganisasie te registreer om geld in te samel vir die uitgawes wat hiermee gepaard gaan.

Die egpaar het ook ’n vrywillige organisasie gestig met ’n volledige grondwet en sewe lede wat besluite rakende die veilige hawe neem.

Peters reik voortdurend na nuwe en voornemende ma’s uit en probeer sover moontlik die boodskap versprei dat hulp beskikbaar is.

Tydens een van die uitreike het Ronel die kraamafdeling van die Walvisbaaise staatshospitaal besoek om onder meer geskenkpakkies aan nuwe ma’s uit te deel.

“Ons kon hulle bemoedig, ondersteun en raad gee en ook meer van ons organisasie vertel. Almal moet hiervan weet sodat daar nooit weer een babatjie weggegooi word nie!”

Volgens Peters is daar ’n groot behoefte aan plekke soos Ruach Elohim, waar weggooibabas versorging, liefde en aandag kry.

“Ek het altyd gedink as ek net een baba kan red van ’n asdromdood of ’n droë rivierloop, dan was alles die moeite werd.”

Ruach Elohim is slegs ’n tydelike opsie tot alle wetlike prosesse afgehandel en die babas aangeneem is of met hul ouers of familie herenig word.

Vir meer inligting, kontak Peters by 081 242 6396 of besoek die Facebook-blad “Ruach Elohim Foundation”.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!