Hulp vir brandslagoffer
Mense vat hande in die stryd om die behoud van 'n agtjarige meisie se been.
Tanja Bause – Vier maande nadat die agtjarige Lucia Soroses ernstige brandwonde aan haar bene opgedoen het, word sy nou na die Katutura-staatshospitaal in Windhoek vir verdere behandeling oorgeplaas.
Lucia wat saam met haar familie in die Blikkiesdorp- informele nedersetting op Grootfontein woon, het saam met haar ma in die veld gaan hout soek. Volgens haar tannie, me. Maria Nisas, is dit waar die voorval gebeur het.
“In die veld het groot hope as gelê. Die as was buite afgekoel, maar binne was die kole nog vuurwarm. Lucia het gedink dit is net hope as en sy wou oor die hope klim. Toe sy op die eerste hoop klim, het sy agtergekom dat die kole binne-in warm is en dit het haar gebrand. In 'n poging om uit te klim het sy met haar linkerbeen ook in die as geklim. Haar linkerbeen is nie so erg gebrand nie. Haar regterhand en arm het ook brandwonde opgedoen,” het die tannie gesê.
Lucia is na die staatshospitaal op Grootfontein geneem waar sy vir die volgende drie maande gehospitaliseer is.
“Haar verbande is elke oggende vervang en Lucia het elke oggend gehuil. Haar ma kon ná drie maande die gehuil nie meer verduur nie en het besluit om haar huis toe te neem.”
Lucia was vir 'n maand by die huis en die wonde op haar bene het begin infeksie kry. Nisas, wat op Tsumeb werk en woon, het foto's van Lucia vir haar werkgewer, me. Neilla Piorek, gewys.
“Nadat ek die foto's gesien het, het ek onmiddellik begin om WhatsApp-boodskappe uit te stuur en op Facebook om hulp begin vra.”
Piorek het ook vir mnr. George Olivier van A Better Life Project 2020 op Swakopmund gekontak.
“Ons kry gereeld versoeke van mense wat hulp benodig, maar ons kan ongelukkig nie almal help nie. Dus is ons beleid om mense op Swakopmund te help. Iets het egter vir my gesê gaan lees die versoek. Toe ek die foto van Lucia sien, het ek geweet ek moet help,” het Olivier gesê.
Olivier het vir me. Maureen Venter op Grootfontein gevra om ondersoek in te stel.
“My hart het gebreek toe ek haar sien. Sy sit heeldag op 'n matras, want as sy opstaan of loop, bars en bloei haar sere van vooraf. Ek het vir George laat weet dat hulp dringend benodig word. Sy moes dringend by 'n dokter uitkom anders sou sy haar been verloor, want dit lyk asof dit besig is om te vrot. Deur al haar pyn was Lucia nog steeds vriendelik. Haar oë het opgehelder toe sy sien daar is hoop,” het Venter gesê.
Olivier het onmiddellik op sy Facebook-blad uitgereik en skenkings het begin inkom. Haar ouma Adelheid Haikus het Lucia na die hospitaal op Tsumeb vir behandeling geneem. Volgens Olivier is dit nie net die hospitaal- en doktersonkoste waarvoor fondse benodig word nie, maar ook vir verblyf en kos vir ouma, asook vir die nasorg en behandeling soos fisioterapie.
Lucia is gister deur 'n privaat dokter uit die hospitaal ontslaan en sal vandag met 'n ambulans na Windhoek geneem word vir verdere behandeling.
“Lucia is die mooiste blom. Elke keer wat ek haar sien glimlag sy breed vir my. Sy is in baie pyn, maar sy sal dit nooit wys nie, want glimlag sal sy glimlag,” het Piorek gesê.
Piorek het vir ouma en Lucia gisteraand by 'n lodge naby haar ingeboek vanwaar hulle vanoggend Windhoek toe vertrek het.
“Iemand soos Lucia verdien al die hulp wat sy kan kry. Die krag en wilskrag wat sy het, gee my die krag en aanmoediging om my bes te doen en alles te gee om te help. Sy is 'n klein vegter wat ons moet help. Ek sal haar ook verder help, want al is die wonde gesond moet sy steeds fisioterapie ontvang want haar spiere trek saam aangesien sy haar spiere maande laas gebruik het. Sy moet skool toe gaan en ek sal haar probeer help waar ek kan.”
Lucia het vanaf haar hospitaalbed gesê dat sy graag gesond wil word.
“Ek sê baie dankie vir al die mense wat my help. Ek wil graag weer met die ander kinders kan speel; iets wat ek nie nou kan doen nie. Ek wil hardloop en speel.”
Enigiemand wat belangstel om vir Lucia te help, kan op die Facebook-blad A Better Life Project 2020 gaan inloer.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie