Hulpfonds verwelkom ACC-ondersoek
Hulpfonds verwelkom ACC-ondersoek

Hulpfonds verwelkom ACC-ondersoek

Die NSFAF ontken die inhoud van ’n anonieme brief vol klagtes.
Augetto Graig
font face="Verdana" >



Augetto Graig - Die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente (NSFAF) het Dinsdag op ’n brief gereageer wat tans op sosiale media versprei word, wat hulle as kwaadwillig beskryf.

Mnr. Olavi Hamwele, hoof van die hulpfonds se menslike hulpbronnebestuur-afdeling, sê die brief, wat volgens hul ondersoek op 4 Junie geskryf is en op 7 Junie per geregistreerde pos by die NSFAF afgelewer is, is beslis nie deur junior werknemers van die hulpfonds geskryf nie.

Dít omdat slegs senior bestuurs- en raadslede toegang sou hê tot inligting wat in die brief is.

Die brief beweer ongerymdhede bestaan by die hulpfonds, wat vanjaar N$1,45 miljard van die nasionale begroting ontvang het.

Die brief doen ’n beroep op die Teenkorrupsiekommissie (ACC) om ondersoek na dié beweerde ongerymdhede in te stel.

Hamwele sê die NSFAF se leiers sal ’n ACC-ondersoek verwelkom.

“Ons weet dit (die brief se inhoud) is nie waar nie, maar as ons so sê, sal niemand ons glo nie. So, kom ons laat dit aan ’n bevoegde owerheid oor om ondersoek in te stel,” het hy gesê.

Die anonieme brief skep die indruk dat ontevrede junior NSFAF-werknemers dit geskryf het, maar Hamwele het dit ontken.

“Ons betwyfel dit, omdat die inligting in die brief vervat nie aan junior werknemers beskikbaar is nie, en ook omdat inligting daarin selektief gedeel word.”

Volgens Hamwele bevat die inhoud van die brief inligting wat in die verlede op bestuursvlak bespreek is, en het die brief ten doel om gerugte te versprei en onenigheid en wantroue in die organisasie te veroorsaak.

Name wat in die brief genoem word, sluit werknemers in met wie onderhoude tans as deel van die hulpfonds se interne forensiese ondersoek gedoen word, sê hy.

“Die skrywer plaas druk op en probeer die werknemers intimideer,” sê Hamwele.

“Dit is nie iemand wat die NSFAF se beste belange ter harte neem nie,” sê hy.

Hamwele was versigtig om kommentaar te lewer oor die moontlikheid dat me. Hilya Nghiwete, die NSFAF se geskorste uitvoerende hoof, toegang kon hê tot inligting wat in die brief vervat is.

“Ons maak geen bewering oor wie die brief geskryf het nie en sinspeel nie daarop dat die geskorste uitvoerende hoof toegang tot of ’n aandeel in die skryf van die brief gehad het nie,” het hy gesê.

Boonop het mnr. Kennedy Kandume, waarnemende hoofbeampte, gesê die ondersoek met betrekking tot Nghiwete se leierskap en praktyke, wat steeds voortduur, word deur die NSFAF se raad hanteer, wat op ’n hoër vlak as die bestuur is.

“Dit is ’n raadskwessie en ons het geen mandaat, reg of die vermoë om dit te hanteer nie,” het hy gesê.

Een van die klagte in die brief gaan oor Kandume se beweerde misbruik van NSFAF-voertuie en vervoertoelae.

Kandume verkies egter om eerder op prestasies te fokus wat die hulpfonds vanjaar behaal het.

Volgens hom is vanjaar se keuring van begunstigdes betyds voltooi, en die proses om toekenningsbriewe uit te stuur, word tans afgehandel.

Vanjaar ontvang 9 726 studente aan instansies van hoër onderwys finansiële hulp van die regering deur middel van die hulpfonds, terwyl 4 480 finansiële hulp vir beroepsopleiding ontvang.

Die totale getal begunstigdes vir 2018 is dus 14 206, het Kandume gesê.

Die NSFAF beplan om reeds in September vanjaar met die aansoekproses vir volgende jaar te begin, met die hoop dat studente voor 2019 se akademiese jaar reeds bevestiging van die NSFAF se finansiële hulp sal hê sodat frustrasies met betrekking tot registrasiefooie volgende jaar vermy kan word.

Belanghebbendes, wat insluitend die NSFAF se raad en bestuur, die Namibië Nasionale Studenteorganisasie (Nanso), instansies van hoër onderwys en beide die ministerie van finansies én die ministerie van hoër onderwys, opleiding en vernuwing, is reeds by die opstel van ’n nuwe beleid betrek.

Die nuwe beleid behels die keuring van begunstigdes en sal deur die kabinet vir goedkeuring oorweeg word, sê hy.

Die NSFAF is tans besig om dokumente te verhaal, en om rekenskap van N$1,7 miljard se onverklaarde uitgawes te probeer gee. ’n Verslag word teen September hieroor verwag, sê hy.

Kandume is ook trots daarop dat die NSFAF se raad en bestuur weer op goeie voet is, en dat sy werksnemers se moraal verbeter, het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!