Hulpfonds vir verlamde gestig
Hulpfonds vir verlamde gestig

Hulpfonds vir verlamde gestig

Mediese koste styg daagliks
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Die stygende mediese koste van ’n inwoner van Mariental het tot ’n spesiale hulpfonds gelei.
Mnr. Gert Engelbrecht, wat diep spore op die dorp getrap het, is ná ’n rugoperasie verlam gelaat en is sedert einde Augustus in die intensiewesorgeenheid van ’n hospitaal in Windhoek. Sy mediese koste beloop duisende dollar wat mnr. Flip Nortje, streekbestuurder van First National Bank se banke in die Suide, genoop het om ’n hulpfonds vir Engelbrecht op die been te bring.
Nortje het in ’n onderhoud met ’n plaaslike radiostasie gesê Engelbrecht se vrou, Ina, het vir jare vir FNB op die dorp gewerk en loop nou die gevaar om haar pensioen te verloor in ’n poging om haar man se hemelhoë mediese koste te betaal.
“Selfs dit gaan nie genoeg wees nie, want Engelbrecht kan nog vir maande verlam in die hospitaal lê. Die besluit om ’n hulpfonds vir hom te stig, strook immers ook met FNB se slagspreuk van ‘hoe kan ek jou help?’”
FNB het intussen ook met Namibia Livestock Auctioneers (NLA) in gesprek getree, wat hul steun beloof het om boere aan te moedig om ’n bydrae tot die fonds te maak, terwyl Kanaal 7 en Agriforum ook die boodskap van die fonds sal uitdra. FNB beplan voorts ’n geldinsamelingsgeleentheid op Mariental waartydens verskeie items ten bate van die hulpfonds opgeveil sal word.
“Wat met hom gebeur het, kan met enigeen gebeur. As jy hom sien, besef mens net weer watter voorreg dit is om gesond te wees. Enige bydrae gaan help om sy geldelike nood te verlig en hom help om weer sy gesondheid te herwin.”
Engelbrecht was vanaf 1982 tot 1996 ’n dosent aan die destydse Tegniese Kollege oftewel Kollege vir Buiteskoolse Opleiding wat deel was van die voormalige Akademie vir Tersiêre Onderwys in Windhoek. Hy het verskeie tegniese vakke gedoseer en was ook ’n opleier in pas- en draaiteorie en -praktyke, terwyl hy ook vir ’n geruime tyd die vaktoetsbeampte vir die nasionale praktiese pas- en draaitoetse was.
Met die sluiting van die Tegniese Kollege en ná onafhanklikwording het Engelbrecht in 1996 op die Hardapskema ’n onderneming begin wat meganiese herstelwerk gedoen het. Hy was bekend onder die Hardapboere vir sy gehalte sweis- en draaiwerk en vinnige diens, terwyl hy ook sy Namibiese kleure as varswaterhengelaar en as hengelkompetisiebeampte verwerf het.
Engelbrecht moes egter sy onderneming as gevolg van ’n rugprobleem laat vaar en het by die Hardapkoöperasie as werkwinkelbestuurder ingeval. Op 18 Maart vanjaar het hy ’n rugoperasie, sy sewende, in Durbanville, Suid-Afrika ondergaan. Die operasie was wel ’n sukses, maar op 7 April is hy as gevolg van ’n infeksie na die intensiewesorgeenheid oorgeplaas. Sy longe het platgeval, terwyl sy hart ook vier keer gaan staan het. Engel­brecht is verlam gelaat en kan vandag net sy kop beweeg.
Op 31 Augustus vanjaar is hy na die Lady Pohamba-­hospitaal se intensiewe­sorgheenheid in Windhoek oorgeplaas.
Die mediese skema waaraan sy vrou behoort, het intussen ’n paar honderd duisend Namibiese dollar vooruitbetaal. Desnieteenstaande is ’n bedrag van N$1,5 miljoen steeds verskuldig, met die bedrag wat as gevolg van ’n daggeld van N$10 000 vir die intensiewesorgeenheid daagliks toeneem. Die verskeie operasies wat hy reeds moes ondergaan, het ook sy pensioen- en spaargeld uitgeput.
Die hulpfonds se rekeningbesonderhede is: FNB, takkode 280 471 (Mariental), rekeningnommer 622 591 292 21. Vir verdere besonderhede kan mnr. Flip Nortje by 081 329 1317 geskakel word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!