Human en Kasch meesters by Oanob

Veldtriathlon
Die RMB veldtriathlon, 'n prestige­ryke jaarlikse toets vir driekamp­atlete, is laas Sondag by die Oanobdam afgehandel.

Deelnemers was meegevoer deur die aanskoulike natuurskoon en uitdagende aard van die roete.

Mense wat tevore by soortgelyke internasionale byeenkomste in aksie was, reken die RMB-triathlon kan saam met die bestes in ander lande genoem word en het beslis potensiaal om 'n wêreldwye trekpleister te word.

Die organiseerders OTB Sport sê die triathlon is in sy begindae 15 jaar gelede by Friedenaudam aangebied, maar met die groei oor die jare het 'n venue met meer infrastruktuur nodig geword.

Die Oanob-oord is die laaste tien jaar reeds die ideale plek vir aanbieding. Die fietsroete is langer en sluit meer tegniese enkelspoorpaadjies in en die hardlooproete is eenvoudig uit­stekend, met heelwat afwisseling tussen Jeepspore, klim oor groot rotse en enkelspoorpaadjies wat deurentyd wakkerheid van elke deelnemer vereis.

Die Enduro-afstand was 1.1 kilometer swem, 25 km bergfietsry en 8 km hardloop. Die manswenner Petrus Human was in 2:14:45 eerste oor die eindstreep. Algeheel tweede was die skoolseun en ontluikende driekamp­atleet JG van der Westhuizen in 2:14:48, gevolg deur die veteraanafdeling se wenner Peter Brinkmann (2:19:19) en die meestersklas se bekende Frank Bombosch (2:40:50).

Die enduro-vrouewenner was Namibië se onbetwiste veldtriathlon-spesialis Benita Kasch in 2:29:10, gerieflik voor Lelani Swart (2:43:03) en Karin Brockmann as die eerste meestersatleet in 3:28:26

Die Sprint-afstand is met 'n 600 m swem, 15 km bergfietsry en 4 km hardloopskof beslis, waar Danie van Aswegen in 1:14:48 as wenner uit die stryd getree het – net 'n paar sekondes voor die vasberade 13-jarige Nathan Chase (die o.16-wenner) in 1:15:07. Algeheel derde was Greg Chase in 1:15:29, hoewel hy kosbare tyd met 'n verkeerde draai in die hardloopskof verloor het.

Nog 'n ontluikende jongeling wat met elke resies verbeter, het die vroue Sprintkompetisie gewen, naamlik Hilde-Mari Olivier in 1:24:43.

Ná Olivier het die veteraanwenner Marion Schonecke (1:26:59) en die eerste o.16-atleet Chloe Rossouw (1:34:47) gevolg.

As 'n bekendstelling vir beginners van alle ouderdomme aan die driekamp is ook 'n mini-byeenkoms gehou, waarin Micah Chase in 41 minute 44 sekondes en Emma Brinkmann (48:42) die o.13-wenners was.

Die mini-ope se eerste mans- en vroueatleet was onderskeidelik Francois Le Roux en Silke Pennefather.

Phillip Chapman, RMB Namibia se uitvoerende hoof, sê: “RMB is baie in ons skik om vir die tweede jaar hierdie veldtriathlon se hoofborg te wees. Hierdie inisiatief word goed georganiseeer en bring Namibiese groepe en individue van alle ouderdomme byeen om by die Oanobdam te swem, fiets te ry en te hardloop.

“Ons is bevoorreg om die pryse te kon oorhandig en ons sien uit na meer veldtriathlonne saam met OTB Sport as organiseerders.”

FOTO’s
’n Groepie voorlopers kom haastig uit die water ná hul swemskof in die Oanobdam. Foto verskaf
Die manswenner Petrus Human in aksie toe hy die vorige naweek aan die Afrika-duathlonkampioenskap in Windhoek se Sprint-afdeling deelgeneem het. Foto Andrew Poolman

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!