Humanitêre katastrofe

Sirië, skandvlek teen die mensdom
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - “Voel julle regtig geen skaamte nie? Is daar geen barbaarse daad, geen teregstelling van 'n kind, wat by julle vassteek nie, wat julle net 'n bietjie laat gril nie?” Dié woorde van weersin en ongeloof deur Samantha Power, Amerikaanse ambassadeur by die Verenigde Nasies (VN), oor die vergrype van die Siriese regering en sy bondgenote, Rusland en Iran, eggo die gevoel van miljoene mense wat hierdie week in afgryse moes toekyk hoe Aleppo val. Power het die Russiese, Siriese en Irakse regering vroeër die week op 'n sitting van die VN se Veiligheidsraad skerp vir die brutaliteit van hul optrede veroordeel. Die Veiligheidsraad is byeengeroep ná berigte dat pro-regeringsmagte burgerlikes voor die voet vermoor het terwyl hulle rebellemagte uit Aleppo verdryf het, berig Reuters. “Aan die Al-Assad-regime, Rusland en Iran: Jul magte en afgevaardigdes pleeg hierdie misdade,” het sy gesê. “Jul bomme, mortiere en lugaanvalle stel die rebelle in Aleppo in staat om tienduisende burgerlikes vas te vang in 'n strop wat heeltyd al hoe stywer getrek word. “Kan julle regtig geen skaamte voel nie?” wou Power geskok weet. Ontruiming Teen middagtyd gister het AFP berig die ontruiming van die laaste rebellebeheerde gebiede in die ooste van die stad was gereed om te begin nadat 'n tweede skietstilstandsooreenkoms bereik is. Die onttrekking van die rebellemagte en burgerlikes ná byna ses jaar van oorlog, sal die weg baan vir die regeringsmagte van pres. Basjar al-Assad om totale beheer te neem van die tweede groot Siriese stad. Homs was die eerste stad wat voor sy magte geval het. Volgens AFP het meer as 'n dosyn leë busse en ambulanse gister na die gebied suid van die stad beweeg waarheen die vlugtende inwoners sou gaan om opgelaai te word. Ná 'n bloedige week, is die skrif aan die muur. Dit lyk toenemend of die burgeroorlog wat sedert Maart 2011 in Sirië woed, nou sy einde nader. Die dodetal beloop reeds tussen 400 000 en 600 000 en miljoene Siriërs moes vlug, is ontwortel of in 'n stryd om oorlewing gewikkel. Ná meer as vyf jaar waarin die Siriese oorlog die nuus oorheers, verstaan baie mense egter steeds nie hoe die vurk in die hef steek nie. Vier oorloë in een Volgens Max Fischer van The New York Times word die stryd in Sirië deur vier oorvleuelende oorloë gedryf. Die kernkonflik is tussen die magte lojaal aan die regering en die rebelle wat hom uit die kussings wil lig. Mettertyd het beide kante met splintergroepe saamgesmelt, maar Assad is steeds die kernelement van hul geskille. Tussendeur het die Siriese etniese minderheidsgroep, die Koerde, ook die wapen opgeneem om midde hierdie chaos beslag te lê op 'n eie ministaat. Dit was soms met die steun van die VSA wat die Koerde as 'n bondgenoot teen jihadistiese groepe beskou. Hoewel Assad se aanslag nie op die Koerde gerig is nie, kry hulle wel die stryd van voor van Turkye wat op sy beurt in 'n konflik met sy eie Koerdiese minderheid gewikkel is. Die derde konflik is teen die Islamitiese Staat (IS) wat in 2014 groot dele van Sirië en Irak beset en tot sy kalifaat verklaar het. Die IS het geen bondgenoot nie en veg teen al die ander magte in dié stryd. Die vierde en gekompliseerdste element, is die dinamika tussen die buite­landse alliansies. Assad se grootste bondgenote is Iran en Rusland, sowel as die Libanese militante groep, Hezbollah. Vir Rusland is Assad die enigste oorblywende bondgenoot in die Midde-Ooste en sonder hom kan hy nie sy invloed in dié wêrelddeel uitoefen nie. Die rebelle word veral deur die VSA en olieryke Arabiese state soos Saoedi-Arabië gesteun. Dié buitelandse magte het egter elkeen sy eie agenda (soos in die geval van Rusland) en stook die Siriese konflikvuur in die hoop dat die uitkoms hulle sal bevoordeel. Wat ook al die uiteinde gaan wees – die implikasies gaan wyd uitkring. Maar terwyl die groot kanonne dit uitspook in een van die felste oorloë sedert die 2de Wêreldoorlog, betaal dié land se burgerlikes met hul bloed daarvoor. Die mensdom behoort sy kop in skaamte te laat sak. Sirië in 'n neutedop Die Arabiese Republiek van Sirië is in die noorde van die Arabiese Skiereiland geleë, in 'n gebied wat as die “Vrugbare Halfmaan” bekend staan. Die land, met sy bevolking van nagenoeg 22,5 miljoen mense, grens in die noorde aan Turkye, in die suidweste aan Israel, in die ooste aan Irak, in die noordweste aan die Middellandse See, in die suide aan Jordanië en in die suidweste aan Libanon. Die grootste deel van die bevolking is in die stede Aleppo, Damaskus en Homs woonagtig. Sedert die begin van die burgeroorlog in 2011, moes nagenoeg 11 miljoen Siriërs vlug. Sowat 4,5 miljoen word in aangrensende lande soos Turkye, Jordanië en Libanon in tentkampe gehuisves. 'n Verdere 6,1 miljoen is in hul eie land ontwortel. Die moderne Siriese staat het sy oorsprong in die tyd ná die Eerste Wêreldoorlog toe die gebied onder die mandaat van Frankryk geplaas is. Sirië was die grootste land wat ná die verbrokkeling van die Ottomaanse Ryk in die Arabiese Levant ontstaan het. In April 1946 het Sirië sy politieke onafhanklikheid as parlementêre republiek verkry. In die volgende dekades is die land deur interne onrus geskud en is dit deur verskeie staatsgrepe en pogings tot staatsgrepe getref. Tussen 1958 en 1961 het Sirië 'n kortstondige politieke unie met Egipte gevorm, die Verenigde Arabiese Republiek (VAR), wat deur 'n staatsgreep beëindig is. Sirië het vanaf 1963 tot en met 2011 in 'n noodtoestand verkeer waardeur die meeste burgerregte opgeskort is. As voormalige bondgenoot van die Sowjetunie handhaaf die land steeds nou bande met die Russiese Federasie. Ander belangrike politieke alliansies is met Palestyns-Islamistiese groeperings en die Islamitiese Republiek van Iran gesluit. Hierdie kort geskiedenis as moderne staat staan in skrille kontras met die land se antieke geskiedenis wat oor talle millennia span. Die land het 'n lang tradisie van verskillende beskawings wat op sy grondgebied gehuisves is en onder die oudstes in die menslike geskiedenis gereken word. Die sentrale gedeelte van die Eufraatvallei was reeds omstreeks 10 000 v.C. 'n belangrike landboustreek waar graan verbou en vee geteel is. In die 2de en 3de millennium v.C. het invloedryke stadstate soos Ebla en Mari relatief groot bevolkings gehuisves. Die politieke mag in hedendaagse Sirië is in die hande van 'n klein groepie invloedryke families gekonsentreer. Die land se politieke bedeling toon baie ooreenkomste met dié van Irak onder die bewind van Saddam Hoesein. Sedert die verkiesing van Hafez al-Assad tot staatspresident in 1971, word die land deur die al-Assad-gesin geregeer. Hafez al-Assad is ná sy afsterwe in 2000 deur sy seun Basjar as staatshoof opgevolg. Basjar al-Assad is as dokter in Londen en Parys opgelei. Sedert Maart 2011 is die land in 'n bloedige burgeroorlog gewikkel wat uit die sogenaamde Arabiese Lente in ander Arabiese lande soos Libië, Tunisië en Egipte voortgespruit het. Die Assad-regering verwys na die opstandelinge as Islamitiese terroriste. Bronne: Die VN se Kantoor vir die Koördinering van Humanitêre Sake (UNOCHA) en Wikipedia. Aleppo se Anna Frank 'n Sewejarige meisietjie van Aleppo het die laaste maande die gesig geword van die onhoudbare lyding van die inwoners van dié beleërde stad. Bana al-Abed se ma, Fatemah, het sowat drie maande gelede ondanks swak internet­verbinding besluit die wêreld moet deur die oë van haar drie kinders die afgryse beleef in die hoop dat dit tot kollektiewe ingryping sal lei. Sy het in Bana se naam begin twiet oor dít wat sy saam met haar dogter en twee jonger seuns, Mohammed (5) en Noor (3) deurmaak. Fetamah, 'n Engels-onderwyseres, het Sondag aan CNN gesê daar is niks moeiliker as om 'n ma in Oos-Aleppo te wees nie. “Jy moet baie geduld hê; jy moet sterker wees as enigiemand anders in die wêreld,” het sy gesê. “Jy moet beide ma en pa wees; self kind om met jou kinders te kan speel sodat hulle nie voel hulle is alleen nie.” Sedert die oorlog in 2011 begin het, moes sy toekyk hoe haar kinders se ervaring van die lewe deur die oorlog bepaal word. Hulle ken niks anders as oorlog nie. Klein Bana, met haar boksterte en haasbekkie, vergestalt deur die twiets die traumatiese impak wat die oorlog op die kinders van Sirië het. Daar word selfs nou na haar as die Anna Frank van die Siriese oorlog verwys. Laasgenoemde was 'n Joodse meisie van Frankfurt in Duitsland. Sy het postuum internasionale bekendheid verwerf met die publisering van haar dagboek waarin sy haar ervaringe tydens die Duitse besetting van Nederland tydens die Tweede Wêreldoorlog aangeteken het. In een van die video's wat deur Fetamah getwiet is, kon die wêreld sien hoe Bana voor die venster staan en bid terwyl die bomme buite op die stad reën. “Ons is seker die wêreld luister na ons; die wêreld luister na die kinders,” het sy aan CNN gesê. Sedert sy in September namens Bana begin twiet het, kon die wêreld intiem inkyk op die lewe van dié gesin en vele ander wat dieselfde as hulle deurmaak. Op 27 November is hulle huis in 'n bomaanval vernietig en hulle moes vlug en by familie gaan skuil. Vanaf Maandag toe die Assad-regering sy greep op Oos-Aleppo verstewig en begin het om dié deel van die stad by die rebelle oor te neem, het nuus oor die verskrikking al erger geword. Talle aktiviste in die streek het begin om afskeidsboodskappe te twiet, oortuig daarvan dat hulle gemartel of doodgemaak sal word. Fetamah het later getwiet en gesê sy en haar gesin leef nog.Bron: CNN

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!