Hupstoot vir erfenis in Afrika
Hupstoot vir erfenis in Afrika

Hupstoot vir erfenis in Afrika

NAMPA
Meer as N$300 000 is verlede week tydens 'n sakeontbyt vir die Afrika-wêrelderfenisraadfonds (AWHF) ingesamel.

Tydens die geleentheid het ver­skeie plaaslike sakelui, finansiële instellings en diplomate geld geskenk. Die voormalige president van Namibië, mnr. Hifike­punye Pohamba, is 'n beskermheer van die AWHF en was by die geleentheid teenwoordig, asook die Suid-Afrikaanse adjunkminister van kuns en kultuur, me. ­Makhotso Sotyu.

Die Namibiese regering sal ook oor 'n tydperk van drie jaar N$1 miljoen per jaar tot die AWHF bydra om die bewaring van erfenisgebiede in Afrika te ondersteun. Namibië spog met twee erfenisgebiede, naamlik die Namib-sandsee en Twyfelfontein.

Die AWHF is 'n inisiatief van die Afrika-unie en Afrika-lidlande van die Verenigde Nasies se organisasie vir onderwys, wetenskap en kultuur (Unesco) wat in 1972 by die Unesco Wêrelderfenis-konvensie onderteken is. Die fonds is gestig om Afrika-lidlande te help om die Unesco-konvensie te implementeer vir die bewaring en beskerming van wêreld- kulturele en natuurlike erfenisgebiede.

Die minister van onderwys, kuns en kultuur, me. Katrina Hanse-Himarwa, het in haar toespraak wat namens haar gelewer is, gesê Namibië het baie voordeel uit die werk van die fonds gekry deur die opleiding van kundiges in ­erfenisbestuur, asook om die ­Namib-sandsee op die Wêreld­erfenislys in 2013 te lys.

Sy het 'n beroep op die private sektor gedoen om sakegeleent­hede in die erfenissektor deur openbare-private vennootskappe te betree.

Die Namib-sandsee is in die ­Namib-Naukluft Park geleë aan die kus van die suidelike ­Atlantiese Oseaan en beslaan 'n gebied van meer as 3 077 700 hektaar. Twyfel­fontein is naby Khorixas in die ­Kunenestreek geleë en het die grootste konsentrasie rotstekeninge in Afrika wat van minstens 2 000 jaar terug dateer. Dit is in 2007 as 'n Unesco-erfenisgebied verklaar. - Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-04-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer