Hupstoot vir kommunale Noorde-boere

'n Plan vir strategiese ingryping in veeboerderye in dié gebied sal glo binnekort bekend gestel word.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



Laekoste-, hidroponiese voerproduksiestelsels, oftewel groenvoer, is die beste oplossing vir veevoer in die noordelike kommunale gebiede (NCA).

Só sê die Namibië Nasionale Boere-unie (NNFU).

Die NNFU se president, mnr. Jason Emvula, het verlede Woensdag tydens die bekendstelling van 'n verslag oor bemarking­stelsels vir NCA-­lewende hawe en -produkte gesê sy unie wil dié voerproduksiestelsel bevorder.

Emvula het 'n beroep op die regering gedoen om subsidies be­skikbaar te stel sodat kommunale boere en landbou-entrepreneurs só voer begin maak.

Hy het gesê 'n gebrek aan toegang tot winsgewende markte dompel kommunale boere in armoede en verskeie voorgestelde oplossings was reeds vóór Onafhank­likwording bekend, maar die toepassing daarvan is 'n uitdaging.

“Daarom het die NNFU ander belanghebbendes soos die Europese Unie (EU), die Duitse Vereniging vir Internasionale Samewerking (Giz), die Vleisraad van Namibië, Meatco, die Meatco-stigting, Agribank, die landboubemarking- en handelsagentskap (Amta) asook kenners genader.

“Dit om strategiese ingrypings voor te stel wat op empiriese bewyse gegrond is en strook met die beginsels van die Omvattende Afrika Landbou-ontwikkelingsprogram (CAADP),” het hy gesê.

Emvula het enkele idees uitgelig wat hy glo vinnig goeie resultate in die NCA sal lewer.

Dit sluit in die spoedige uitvoer van die regering se opdrag dat vleis vir openbare instansies soos hospitale en skole van kommunale gebiede af moet kom.

Hy het gesê markte vir vleis uit die NCA moet in ander Afrika­lande geïdentifiseer word, soos Botswana en Kenia doen.

Emvula het ook klem gelê op die noodsaaklikheid daarvan dat infrastruktuur in die NCA aangelê word sodat 'n volledige voedselketting, van voerproduksie tot verwerking, deur kommunale boere besit en bedryf kan word.

Volgens hom moet inheemse veerasse deur teelprogramme en kunsmatige inseminasie verbeter word en moet die regering die land se bek-en-klouseervrye gebied vergroot deur die ­veterinêre ­kordonheining noordwaarts, tot bó die huidige buffersone, te skuif.

Tydens die geleentheid het mnr. Alpheus !Naruseb, die minister van landbou, water en bosbou, in 'n toespraak wat deur mnr. Percy Misika, uitvoerende direkteur in die ministerie, voorgelees is, gesê probleme met veebemarking in die NCA is nie onoorkombaar nie.

!Naruseb het gesê die regering is toegewyd daaraan om abattoirs en vleisverwerkingsgeriewe in dié gebiede op te rig en sal binnekort afkondig hoe uitbrekings van bek-en-klouseer voorts bestuur sal word sodat dit die minste impak op veebemarking het.

Hy het ook gesê nuwe kommoditeitsgebaseerde handelsmaatreëls sal binnekort vir die veilige beweging van vleis uit die NCA na die bek-en-klouseervrye gebiede bekend gemaak word.

Die minister het by die geleentheid gesê die implementeringsplan vir strategiese ingrypings sal na verwagting binnekort bekend gestel word.

“Die ontsluiting van die NCA se potensiaal begin daarby dat produsente hul siening van 'n koei as statussimbool verander na 'n besigheid en 'n belangrike bron in hul kontant-ekonomie,” het !Naruseb gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!