Husab brei aanleg uit
Enige beswaar moet voor 20 Februarie by die ministerie van die omgewing ingedien word.
Augetto Graig – Die reuse-uraanmyn Husab brei verder uit. Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme het op 14 Desember die omgewingsklaringsertifikaat (ECC0127) uitgereik waarin goedkeuring vir die uitbreiding van die myn se aanleg en infrastruktuur oor die volgende drie jaar toegestaan word.
Die omgewingskommissaris, mnr. Timoteus Mafeti, het 'n lys van 24 voorwaardes vir die uitvoering van die aangepaste bouplanne en opgedateerde omgewingsbestuursplan uitgestippel.
Die voorwaardes sluit in die onmiddellike aanmelding van enige lekkasies van koolwaterstofvloeistowwe van meer as 200 liter; die voorsiening van toegang vir inspekteurs, asook die aanmelding van enige ontdekking van historiese erfenismateriaal gedurende die bouproses.
Volgens 'n argeologiese studie wat die argeoloog mnr. John Kinahan verlede jaar uitgevoer het, sal die mees waarskynlike impak skade of moontlike vernietiging van agt historiese terreine wees. Hy sê egter al agt is gedokumenteer en voldoende ondersoek sodat 'n rekord bestaan ingeval die terreine vernietig word. In dié gebied is tevore bewyse van oertydse gebruik van graan en oorblyfsels van klein hutte gevind.
Nog 'n kommer is die moontlike impak op die bekende welwitschia-veld net suid van die myn.
Belemmering van die vloei van water ná enige reënval noord van die veld is 'n bekommernis, tesame met die moontlikheid dat stof vanaf die aanleg die oeroue plante mag beskadig.
Die presiese plasing van die nuwe infrastruktuur is verskuif sodat die vloei van oppervlakwater nie verander nie.
Veral die konstruksie van die vervoerband oor die loop van die Khanrivier sal weldeurdag gedoen moet word, volgens 'n studie wat verlede jaar deur 'n dosent in bewaringsbiologie en dierkunde, mnr. Theo Wassenaar van African Wilderness Restoration, uitgevoer is.
In die omgewingsklaringsertifikaat word aangedring op stappe om stof te verminder.
Swakop Uranium, eienaars van mynboulisensie (ML) 171, bestudeer al lank die moontlikheid om mynhoop-loging te gebruik om uraan uit opgegaarde lae gehalte erts te ontgin. Die logingsproses gebruik 'n swaelsuuroplossing om metale uit 'n hoop erts te verkry.
Bykomende inkomste kan deur die vergroting van logingskapasiteit by die myn ingevorder word, het studies deur SLR-omgewingskonsultante uitgewys.
WATERBESTUUR
Aanvanklik sal 'n toetsaanleg gebou word, voor die oprigting van die volledige 600 meter logingskring met 'n toegewyde afvalbergingsfasiliteit en gepaardgaande infrastruktuur vir siviele, elektriese en oppervlakwaterbestuur. Die fasiliteit is ontwerp om alle vloeibare uitvloeisels te behou om potensiële omgewingsrisiko's te minimaliseer.
Die myn beplan ook om die tydelike waterpypleiding vanaf die Rössing-opgaardam te behou, wat in 2012 gebou is om watertoevoer vir die bou van die myn te voorsien. Dit sal bykomende toevoer verseker ingeval enige probleme met die permanente NamWater-waterpypleiding vanaf die Swakopmund opgaardam ontstaan.
Belanghebbers het 30 dae kans, vanaf 21 Januarie 2022, om besware by die sekretaris van die appèlpaneel in die ministerie in te dien, op die voorgeskrewe vorm en met 'n fooi van N$100. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie