Husab-mynwerkers se lonte kort oor veiligheid
Husab-mynwerkers se lonte kort oor veiligheid

Husab-mynwerkers se lonte kort oor veiligheid

Die vakbond eis onder meer die Chinese wat in Namibië is om opleiding te ontvang, moet afgedank word.
Erwin Leuschner – Bedrywighede by Namibië se grootste myn is gister lamgelê ná die Mynwerkersunie van Namibië (MUN) die aandag op verskeie veiligheidstekorte gevestig het.

Die vakbond het ook geëis die Chinese wat in Namibië is om opleiding te ontvang, afgedank moet word, en dat hul poste deur Namibiërs gevul word.

In die middel van dié staking is die Chinese plofskietwerk-kontrakteurs Beifang Mining Services, wat glo sedert 2016 al veiligheidsregulasies oortree.

Die MUN het dié bewering in ’n klagskrif uiteengesit, wat gister namens Swakop Uranium se werknemers aan die mynbestuur oorhandig is.

“Ons het werksaamhede gestaak sodat ons die bewerings deeglik kan ondersoek, en om die werkers se ondersteuning te kry om regstellende stappe te kan doen,” het mnr. Percy McCallum, Swakop Uranium se hoof van menslike hulpbronne en besigheidsontwikkeling, gesê.

“Veiligheid is ons topprioriteit.”

Wanneer werksaamhede hervat sal word, is nie bekend nie.

“Die (Chinese) leierskap hou hulle blind vir kwessies oor Chinese uitgewekenes, wat nie die geval is by Namibiërs nie,” sê die klagskrif.

“Daar word geen stappe teen jul landsgenote gedoen wanneer hulle plofstowwe roekeloos hanteer nie.

“Wanneer Chinese op hul roekeloosheid bedag gemaak word, sê hulle eenvoudig ‘ons gee nie om oor Namibiese wette nie’."

In die klagskrif is 12 voorvalle gelys waartydens plofstowwe verkeerd hanteer is.

Drie van dié voorvalle het glo in een maand plaasgevind.

Tydens twee voorvalle is lewende plofstowwe deur laaigraafdrywers in die oopgroefmyn "ontdek".

Op 12 Februarie het só ’n toestel ontplof ná ’n laaigraaf kontak met die plofstof gemaak het. Niemand is beseer nie.

“Die voorval is aangemeld, maar bedrywighede is nie gestop nie, hoewel dit baie sterftes kon veroorsaak,” lui die klagskrif.

Nog ’n voorval het glo in Februarie verlede jaar plaasgevind.

’n Voorman het werkers in die oop put glo oor ’n beplande ontploffing uitgevra, toe ’n ontploffing skielik plaasvind met die werkers nog in die put.

Ook tydens dié voorval is niemand beseer nie en is bedrywighede nie gestaak nie.

Die klagskrif lys talle soortgelyke gevalle waartydens werkers “toevallig” op lewende plofstowwe afkom, of ’n onverwagse ontploffing ter nouer dood ontkom.

“Dít is heeltemal onaanvaarbaar wanneer dit by ploftoestelle kom," sê die klagskrif.

Dit beweer ook Chinese werkers word bevoordeel.

As voorbeeld word “drie Chinese” in die voorgrond gestel “wat sonder toestemming in die geslote koeëlmeul geklim het en amper doodgedruk is”.

Weer eens is geen stappe ná die voorval gedoen nie, word beweer.

“Die basiese probleem is dat Chinese uitgewekenes plaaslike kundiges se kennis ignoreer," sê die klagskrif.

Op grond hiervan eis MUN die besturende direkteur van Swakop Uranium, mnr. Cai Yuesheng, moet sy "gesaghebbende gedrag" verander, of deur die Namibiese gereg gekonfronteer word.

Die vakbond eis ook McCallum en twee ander senior uitvoerende beamptes, mnre. Angula Kalili en Gelasius Sechwaco, moet hul "ja, baas, goed so, baas"-ingesteldheid en "lafheid" teenoor Yusheng staak en in die belang van Namibiese werkers begin optree.

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!