Huurbeheerraad is lu00e1u00e1t, kla AR
Huurbeheerraad is lu00e1u00e1t, kla AR

Huurbeheerraad is láát, kla AR

Catherine Sasman
Catherine Sasman - Die Regstellende Herposisioneringsbeweging (AR) sê die regering het in gebreke gebly om ’n huurbeheerraad vóór 1 Augustus in te stel en wil hof toe gaan om die instelling af te dwing.
“Ons oorweeg dit om in ons hofaansoek die regering verantwoordelik te hou vir die finansiële verliese wat huurders aangegaan het as gevolg van sy nalatigheid om wetlike bepalings in te stel,” het die AR-leier, mnr. Job Amupanda, gister in ’n verklaring gesê.
Amupanda verwys na Huurordonnansie 13 van 1977 en die Wet op Eien­domsagentskappe, Wet 11 van 1976, wat vir ’n huurbeheerraad voorsiening maak.
Die AR en die regering het in April ’n gesamentlike verklaring uitgereik waarin gesê is dat eerste minister Saara Kuugongelwa-Amadhila met die Raad van Namibiese Eiendomsagente (NEAB) sou vergader om die stygende eiendomspryse sowel as hoë huurgeld vóór 1 Augustus te hersien en aan te pak.
Dit sou gepaardgaan met die instelling van die voorgestelde huurbeheerraad wat die bedrag van huurgeld sou reguleer.
Amupanda sê die AR het nog altyd in vergaderings met die regering die dringendheid van die buitensporige eiendomsmark beklemtoon.
“Wat duidelik na vore gekom het, is dat politici die kant van ander elite, die kapitaliste en eiendomsmagnate, gekies het,” het Amupanda gesê.
Hy het voorts gal gebraak deur te sê dat die regering vir mee. Anne ­Gebhardt en Annelie Aerla by die NEAB onderskeidelik vir die afgelope 13 en 19 jaar in diens gehou het, omdat sekere politici self eiendomsmagnate is óf vriende van sulke magnate is wat by die huidige eiendomskrisis baat.
Amupanda sê ’n amptenaar in die kantoor van die eerste minister het gereageer op ’n brief wat die AR in dié verband gerig het, maar die antwoord is niksseggend.
“Dit is duidelik dat die regering se beloftes en ooreenkomste wat in die openbaar of elders gemaak word, nie vertrou kan word nie. Dit is duidelik dat ons ons eie vrae moet beantwoord en dit is dat politici nie in huurbeheer en stygende huispryse belangstel nie,” het Amupanda gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!