Huurbeheerrade aangestel
Huurbeheerrade aangestel

Huurbeheerrade aangestel

Die regering sê dít is nodig om ’n stokkie voor uitbuiting deur verhuurders te steek.
Catherine Sasman
Catherine Sasman - Ná vele haakplekke en vertragings het die ministerie van nywerheidsontwikkeling, handel en SME-ontwikkeling vyf huurbeheerrade in vyf streke aangestel wat sedert Maandag werksaam is.

Mnr. Tjekero Tweya, die minister van nywerheidsontwikkeling, handel en SME-ontwikkeling, het dié aankondiging gister gemaak, maar kon nie met duidelikheid sê presies wat die verwysingsraamwerk vir raadslede is nie, behalwe dat dít in die huurordonnansie van 1977 vervat is.

“Die raadslede moet met die huurordonnansie vertroud raak; ons moet hulle toelaat om dit te doen,” het Tweya gesê.

Hierdie huurordonnansie is aan hersiening onderhewig.

Huurbeheerrade is in Windhoek in die Khomasstreek, op Swakopmund en Walvisbaai in die Erongostreek, en die streke van Oshana en Kavango-Oos aangestel.

President Hage Geingob het maatreëls ingestel om die huurmark te reguleer nadat die Regstellende Herposisioneringsbeweging (AR) gekla het oor buitensporige huurgeld, wat veral jongmense negatief raak.

Geingob het op 14 April 2016 met die AR-groep by Staatshuis vergader, waar die regering ingestem het om huurbeheerrade te skep ingevolge bestaande wetgewing, naamlik die huurordonnansie van 1977.

Daar is ook ooreengekom die rade sou op 1 Augustus 2016 in werking gestel word.

Tweya het gister gesê met dié verstandhouding het die ministerie, plaaslike owerhede, die Plakkersfederasie van Namibië, die Nasionale Jeugraad, en die AR vir nominasies gevra van mense wat op die rade wil dien.

Hy het gesê nominasies is ontvang, maar die aanstellingsproses het tot stilstand gekom weens omstandighede buite die ministerie se beheer.

Geingob het daarna ‘n uitvoerende kabinetskomitee aangestel om die huurbeheerrade aan te stel.

Die ministerie het op 25 Oktober vanjaar bevestig of die nominasies steeds beskikbaar is en het aanstellings gemaak.

Die rade se ampstermyn is drie jaar – tensy die huurordonnansie gewysig word.

Die aangestelde raadslede vir die Oshanastreek is landdros Mikka Namweya (voorsitter), mnre. Werner Iita, Immanuel Nuuyoma, Lukas Matati Josua en me. Martha Kaulwa.

Vir Kavango-Oos is dit landdros Hellen Olaiya (voorsitter), mnre. Sikongo Gideon Haihambo, Anselm Marunga, Kristian Shinderere en me. Katrina Kamina.

Op Swakopmund is dit landdros Conchita Olivier (voorsitter), mnre. Marco Swarts, J. Nembungu, Knowledge Ipinge en me. Sara-Leigh Elago.

Op Walvisbaai is die raadslede landdros Vicky Nicolaidis (voorsitter), mnre. Muronga Haingura, Manfred Likoro, Moses Weyulu en Andre von Broen.

Windhoek se raadslede is landdros Ingrid Unengu (voorsitter), mnre. Fillemon Hambuda, Brown Mutrifa, Dimbulukeni Nauyoma en me. Otillie Nalulu.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!