'Hy kon 'n vertrek verlig soos die son'

'n Bekende in rugbykringe was gister een van drie Covid-19-verwante sterftes wat in Namibië aangeteken is.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – 'n Geliefde inwoner van Walvisbaai wat die afgelope weke as lid van die Covid-19-taakspan aan die voorpunt was om die hawedorp gerat teen die siekte te kry, is Maandag in die dorp se private hospitaal Welwitschia aan Covid-19 dood.

Die 49-jarige mnr. Chandler Plato, wat wyd bekend was in rugby­kringe en by die munisipaliteit op die dorp werksaam was, was gister een van drie Covid-19-verwante sterftes op Walvisbaai wat deur die minister van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS), dr. Kalumbi Shangula, aangekondig is.

Dit bring die totale sterftes vir die land op sewe te staan.

“My pa kon 'n hele kamer laat opskyn soos die son,” sê sy jongste seun, die nasionale toetsvleuel Chad (22) wat verlede jaar in Japan in sy Wêreldbeker-debuutwedstryd teen Italië 'n drie gedruk het.

“Ai, hy was baie lieflik. Hy was vriendelik en het gehou van sy sport. Hy was lief vir sy gemeenskap en het gehou van krieket, sokker en rugby, solank hy die gemeenskap en die kinders kon sien speel,” vertel Chad.

Volgens hom móés jy net sy pa as eregas na 'n troue nooi omdat hy so joviaal was.

“Hy het altyd by mense gestaan en moeite gedoen; hy het omgegee vir die man op die straat.”

Chad vertel sy pa, as lid van die kiesafdeling se risikobestuurspan teen Covid-19, was die laaste drie weke saans eers tussen nege- en tienuur by die huis. Hy het nie onderliggende siektes gehad nie en was volgens sy seun “'n baie gesonde man”. Chad sê hy het nie lekker asemgehaal nie en het bietjie van 'n nat hoes gehad, “normale verkouesimptome”.

“Hy was Vrydag op sy ergste, maar dan sê hy hy is oukei, hy wil nie hospitaal toe gaan nie, hy is Tarzan, ons het hom so genoem.” Saterdag het sy vrou Lovina hom egter hospitaal toe geneem, waar hy Maandagaand aan 'n hartaanval beswyk het.

Buiten vir Chad en Lovina word hy deur sy oudste seun Aurelio (27, ook 'n rugbyspeler op provinsiale vlak) en sy “oogappel” en kleinkind Cairo (3) oorleef. Lovina en die seuns het hulle gister vir Covid-19 laat toets.

Intussen het die Walvisbaaise munisipaliteit sy hoofkantoor op die dorp gister en vandag as voorkomingsmaatreël gesluit om die gebou te ontsmet. Volgens 'n kennisgewing het Plato die gebou verlede Donderdag laas besoek en het hy sy uitslag Maandag gekry.

Andrew Poolman berig Chandler Plato is in 2018 as uitvoerende raadslid van die Namibië Rugby-unie (NRU) verkies en is einde verlede maand onbestrede vir nog 'n termyn verkies om die Weste te verteenwoordig.

Oor die afgelope jare was hy op administratiewe vlak ook 'n steunpilaar vir die Walvisbaaise klub Kudus.

Die NRU het gister by monde van nog 'n topbestuurslid, mnr. James Camm, die beheerliggaam en die rugbygemeenskap se innige meegevoel met die familie se verlies uitgespreek.

Camm sê 'n troosdiens word vanaand om sesuur by die klubhuis van Western Suburbs in Khomasdal gehou.

“Alle rugbyspelers is welkom om hul ondersteuning aan die Plato-familie te kom wys. Die troosdiens sal onder leiding van ds. Stephan Nell geskied en Jood Opperman sal die musiek lei. Ons sal die hele geleentheid regstreeks op Facebook (@NamibiaRugby) videostroom.”

Gister se ander twee Covid-19-sterftes benewens Plato was ook mans, onderskeidelik 58 en 64 jaar. Al drie is in hospitale in Walvisbaai oorlede.

Minister Shangula het gister ook 22 nuwe gevalle van die siekte aangekondig wat die totaal vir die land op 1 366 te staan bring. Hiervan is 16 in Walvisbaai, vyf in Swakopmund en een in Windhoek.

Uit die 22 gevalle is 17 mans en vyf vroue. Die jongste geval is 22 jaar oud en die oudste geval 64 jaar oud.

Die geval in Windhoek is 'n pasiënt wat van Walvisbaai na die Sentrale Hospitaal in die hoofstad verwys is, hier positief getoets en weer na Walvisbaai teruggekeer het.

Met verwysing na die geval in Katima Mulilo wat gister aangekondig is, het Shangula gesê sy is 'n gesondheidswerker by 'n plaaslike kliniek. Volgens Shangula het nog 15 mense van die siekte herstel en wel gevalle 562, 584, 577, 575, 572, 569, 548, 545, 544, 557, 543, 554, 552, 549 en 565. Dit bring die totaal op 57 te staan. Tot op hede is 18 454 weefselmonsters getoets en is 648 mense in kwarantyn.

Bank Windhoek het gistermiddag ook aangekondig dat sy Walvisbaai-tak tot Maandag gesluit sal wees nadat 'n werknemer positief getoets is.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!