Hy maak sin uit los fragmente
Jan Taljaard
Die gegewe waarmee Kleinboer in Hierdie huis omgaan, is lankal nie meer taboe of grensverskuiwend nie. Maar dit is nie waarom ’n mens die boek moet lees nie.
Eerstens is dit eerder Kleinboer se ongelooflike vermoë om die een perfekte Afrikaanse sin na die ander perfekte Afrikaanse sin op papier neer te pen wat van Hierdie huis ’n besondere roman maak.
Voeg daarby sy vermoë om los fragmente op samehangende wyse saam te voeg sodat die bladsye vir die leser begin sing en jy het waarskynlik met ’n skrywer te doen wat nie sy gelyke in Afrikaans het nie. Ten spyte van die fragmentariese aard van die teks, beland die leser gou in ’n gedagtestroom wat hom intrek en die bladsye soos in ’n soort Zen-prosessie laat verbygaan.
Die beskrywing op bl. 132 van hoe hy ’n braaivleisvuur pak en ’n braai aanpak is ’n fees van die juiste woord. Sy verdere gebruik van woorde soos verslons, rinkink, teug en loodswaai klink nie meer aldag in die omgang op nie, maar val in dié boek pragtig in plek.
Kleinboer se stemtoon raak boonop nooit skor van selfvoldaanheid of bewuste intellektualiteit nie. Hy verwys wel na Nietzsche se Ecce Homo op sy bedkassie en die name van filosowe en skrywers soos Kafka duik beurtelings op, maar tussendeur duik die woordversotte skrywer op elke Chappies-papiertjie in Yeoville se rommelbestrooide strate af. Hy tel nie meer enige ander papiere op nie, want dit bevat nie woorde of inligting nie.
Dit is ook ’n liefdesverhaal wat met deernis en ’n onuitgesproke hartseer vertel word.
Enige verdere sweem van hoogdrawendheid word verder nek omgedraai deur die skrywer se alomteenwoordige humor en die onbeduidende rol wat hy vir homself in die groter bestel sien. Die saaklike beskrywings van besoeke aan prostitute kan dalk vir sommige lesers knaend raak, maar dit is tog elke keer anders en meestal vol pret.
Só skryf Kleinboer op bl. 90 dat as daar ’n god met ’n radarskerm was, is hy bloot ’n klein bewegende stippeltjie tussen ander bewegende stippeltjies, maar Zanele van KwaThema het hom die vorige aand “erg laat bliep en beweeg”.
As daar wel ’n mate van selftrots (selfbedrog?) by die skrywer deurskemer, is dit dat vroue seks met hom feitlik deurgaans geniet.
Ofskoon Kleinboer nie meer ’n gelowige is nie, verwys hy voorts dikwels na die Bybel en teksverse daarin, want “(dit is) . . . om op my eie die lig wat ’n halwe leeftyd gelede deur ’n Kempton Parkse kerkvenster geskyn het, te onthou”.
Daarom is Hierdie huis ook ’n nostalgiese roman wat grepe uit Kleinboer se betreklike onskuld tydens sy grootwordjare en selfs as jong volwassene bly kontrasteer met ’n rowwe buurt waarin hy steeds sy onmiddellike omgewing netjies probeer hou en die tradisionele rol van broodwinner vir sy vrou, Lungi, en pa vir sy seun, Jomo, probeer speel.
Dit is egter ’n taamlike wanfunksionele gesinslewe waarin hy, en veral Lungi, letterlik en figuurlik oor die kulturele skeidslyn vir mekaar bly tongklap.
Dit is voorts ook die verhaal van die lewe in sy kop. ’n Lewe wat hy soms jaloers beskerm en ander tye hoogstens met sy tweelingbroer deel. “Ek is tevrede om grootliks in my kop te leef,” verklaar hy op bl. 110 “ . . . ’n geheime lewe feitlik onder Lungi se neus.” Op bl. 59 praat hy van die klein eilandjie Comino, noord van Malta: “Dis onder meer waarheen ek in my kop ontvlug wanneer die k*k in eie huis te erg raak.”
Maar laastens, en ook in die eerste plek, is Hierdie huis ’n liefdesverhaal wat oorwegend met deernis en ’n meestal onuitgesproke hartseer vertel word. Die kern van die boek van amper 400 bladsye word reeds op die eerste bladsy uitgespel:
“In die weke ná haar dood het ek duisende rou woorde oor haar in my rekenaar getik. Ek is ná ses jaar gereed om weer daarna te kyk. Dis nie net maanskyn en rosegeur nie, ek het ons struwelings ook opgeteken.
“Haar gunstelingsong was UB40 se ‘Stick by Me’. ‘Stick by me and l’ll stick by you,’ het sy dikwels geneurie. Ons het by mekaar gestick, maar mekaar ook opgef*k.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie