Hy's nie sexy, maar billik
Justus Visagie – As jy ’n trok met aansienlik meer vragkapasiteit kan koop vir dieselfde prys as ’n kleiner trok, sal jy dit doen? En as dit in Indië gebou is, pleks van Japan of Europa?
Nie ’n eenvoudige vraag nie, want gehaltebeheer behoort meer deurslaggewend as ’n produk se herkoms te wees. Tog is Indiese motors se reputasie nie so gevestig hier nie en hulle het nie dieselfde gevoel van gehalte as motors uit Port Elizabeth of Ulsan (Korea) nie.
Fuso, vroeër Mitsubishi se vragmotorhandelsmerk en nou in Daimler se besit, het onlangs begin om sy nuwe FA-modelreeks van Daimler se fabriek in Chennai, Indië, na Suid-Afrika in te voer. Ek is na Sandown Motors in Centurion om die FA9-137 FC te bestuur.
Met die wag op die toetsrit het ek in een van die kleiner Fuso FE-modelle se kajuit geklim. Die gehalte is indrukwekkend en daar’s ’n spul karvervaardigers wat kan kom kers opsteek wat goeie afwerking en hoëgehalte-materiale betref.
Daarna is ek saam met die verkoopsman Pierre Cornelissen na buite om agter die FA9-137 FC se stuur in te skuif. Teen langer as 8 m is die vragmotor en sy toegeboude bak langer as wat ek verwag het.
Ek het verlede jaar laas vragmotor bestuur en vra Pierre om die Fuso FA in trurat uit te trek en by die parkeerterrein uit te ry, terwyl ek die binneruim bekyk. Dis nie so netjies afgewerk soos die Fuso FE nie, maar die panele lyk tog sterk en daar is sykantstawe in die deure vir botsbeskerming. Die sagte plastiekromp van die rathefboom het wel losgegaan, maar ’n buisie kontakgom of ’n skroewedraaier sal dit regstel, dink ek. Ek peuter met die lugversorger en dit koel die kajuit behoorlik af.
“Dis standaardtoerusting in die FA,” sê Pierre. Hy ry aan terwyl ek met als in die kajuit vertroud word.
Ná omtrent 5 km hou hy stil en ek vat die wiel. Die gerieflike sitplek skuif maklik en die stuurwiel is hoogte- en diepteverstelbaar. Dan word twee ander dinge gou duidelik. Die rathefboom se skakeling voel soos ’n besemstok in ’n emmer klippe – onseker en onaangenaam.
Tweedens: Ondanks sy grootte bestuur die FA nie moeiliker as ’n Volkswagen Caravelle nie – hy bestuur baie maklik. Sy draaisirkel is betreklik klein, die koppelaar is lig genoeg en die lugdrukremme is nie besonder moeilik om met die voet te moduleer nie. Wind- en enjingeraas word doeltreffend gedemp. Teenkantelstawe en dubbelwiele agter behoort hom stewig op die pad te laat loop wanneer ’n vrag sy swaartepunt hoog maak.
Selfs sonder ’n vrag aan boord voel die enjin nie juis kragtig nie. Die FA se kapasiteit is 5 t (BVM is 9.6 t) en sy 3.9-liter-turbodiesel ontwikkel 100 kW en 420 Nm. ’n Meer gevorderde enjin sal kragtiger wees, maar Suid-Afrikaanse motor- en vragmotorinvoerders se vermoë om die jongste enjintegnologie in te voer, word aan bande gelê deur plaaslike brandstof se lae gehalte. Nogtans kan die FA teen ’n helling van 28% (16°) uit, sê Fuso. Hy beskryf die enjin as “brandstofdoeltreffend”.
Met ’n topsnelheid van sowat 110 km/h is die FA nie vir spoed-rekords bedoel nie, maar vir ’n loopbaan as verspreidingsvoertuig of kantelbak-vragmotor. Dis ook onwaarskynlik dat die eienaar hom self gaan bestuur, dus is die gevoel van die sesgang-handratkas en maksimum kruisspoed nie van groot belang nie. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie