Hysertoestel wat breek 'in November gediens'
Hysertoestel wat breek 'in November gediens'

Hysertoestel wat breek 'in November gediens'

Die nasionale redery sal binne­kort die voorlopige verslag oor sy ondersoek na die hyserongeluk toe passasiers beseer is, bekend maak.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Air Namibia sê die passasiers­ondersteunerseenheid (PAU), of hysertoestel, wat Vrydag­aand met tien mense daarin by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako gebreek het, is so onlangs as November “volledig gediens”.

Die redery sê in 'n verklaring wat vroeg Maandagaand uitgereik is die voorlopige ondersoek wys die hysbak het skuins na agter geval nadat die pote by 'n “fabrieksweislas” gebreek het.

Die nasionale redery sê weens die erns van die ongeluk is 'n span ­kundi­ges­ aangestel om 'n indringende ondersoek te doen. Die span bestaan uit die rederye se bestuurders van veiligheid, sekuriteit, operasionele dienste by die lughawe en die beampte verantwoordelik vir gehalteversekering.

'n Voorlopige verslag sal reeds ­binnekort bekend gestel word, hoewel die ondersoek nog voortduur, sê mnr. Paul Nakawa, bestuurder van korporatiewe kommunikasie by Air Namibia.

Drie van die agt passasiers word steeds in twee hospitale in Windhoek behandel.

Die redery sê in sy verklaring net ses passasiers was saam met twee personeellede in die hysertoestel toe dit geval het. Dit is egter onwaar, het een van die beseerdes gister aan Republikein gesê.

Volgens Republikein se inligting was mnr. Christo du Plessis, sy vrou, Naomi, en sy broer, mnr. Deon du Plessis, in die hysbak, asook die adjunk- eerste minister van Uganda, mnr. Kirunda Kivejinja (84) en sy vrou, me. Anél Wasserfall en haar agtjarige seun, Matteo, en 'n bejaarde vrou wie se een been vroeër geamputeer is.

Me. Kivejinja se naam en die ander bejaarde vrou, Helga, se van is nie aan Republikein bekend nie.

Air Namibia beskryf die passasiers se beserings in die verklaring as “gering”, maar sê nie waarom drie vyf dae later steeds gehospitaliseer word nie.

Volgens die verklaring is die hyser­toestel, of PAU, die betrokke aand eers gebruik om twee bejaardes (die Ugandese egpaar) wat ondersteuning nodig gehad het, by die Air Namibia-vliegtuig uit Johannesburg op te laai. Daarna het dit oorbeweeg na die vliegtuig wat om 21:00 uit Kaapstad neergestryk het.

Dit is nog sonder probleme tot op die vlak van die vliegtuig se deur gehys. Die pote het meegegee toe dit grond toe laat sak is.

Die passasiers en personeellede het in die een hoek van die hysertoestel op mekaar geval, met die rolstoele wat bo-op hulle te lande gekom het.

Ten minste twee van die passasiers het onlangs operasies ondergaan en moes daarom van rolstoele gebruik maak. Een van die passasiers se enkel het tydens die val gebreek en daar moes op hom geopereer word.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer