Ida skep hope vreugde
Haar passie vir skilder het sy al as kind ontdek en haar skoolboeke was vol potloodsketse.
Tanja Bause – “Gee jou uiterste bes, want of jy wen of verloor, solank jy jou beste gee, is jy altyd 'n wenner. Moet nooit moed opgee nie. Staan vinnig op ná 'n harde val, dan is jou sukses baie nader as wat jy bly lê en jouself bejammer,” sê Ida Smith (52) van Ida's Art.
“Ek is op Gobabis ofte wel Little Texas – ons land se eie Cattle Country – gebore, het hier skoolgegaan en gematrikuleer en het op die plaas tussen kameeldoringbome en in sand mens geword.”
Haar passie vir skilder het sy al as kind ontdek en haar skoolboeke was vol potloodsketse van gesiggies, diere, blomme en patrone geteken. Sy het nooit geleer hoe om te skilder nie en sy dink dis 'n talent wat sy van nature ontwikkel het.
“My ouers was albei kunstig in ander opsigte. My pa het graag potloodsketse gedoen, maar net vir die lekkerte daarvan. Hy het 'n meubelfabriek op die dorp gehad en het self die geelhoutmeubels ontwerp. My ma het 'n vlytige hand in naaldwerk gehad en die mooiste skeppings met lap gemaak. My drie seuns is almal kunstig op verskillende maniere. Een skets ook graag, skryf rekenaarprogramme en skep met sweiswerk. Die ander skep met sy konstruksiebesigheid en my jongste skep graag enige iets van houtwerk tot tuinuitleg.”
Ná skool het sy landbou op Neudamm gaan studeer. Aangesien sy 'n plaaskind was, het die liefde vir die veld en diere die oorhand met studiekeuses gekry.
“My pa het destyds 'n groot varkboerdery op Gobabis gehad, asook op 'n plot net buite Potchefstroom. Ek het die boerdery vir hom in Potch bestuur. Later het ek in die boekhoubedryf beland toe ek teruggekeer het Gobabis toe. Ek was ook al vir 'n rukkie 'n sjef op 'n jagplaas en van daar het ek my eie kosbedryf, Ida Kook, aangepak.”
Haar liefde vir kook kry Ida van haar ma en ouma af en hulle weer van hulle voorouers wat deel van die Dorslandtrekkers was.
“Dit verskaf my hope vreugde om geliefdes en vriende te bederf met skeppende geregte. Ons familie hou van kook en van eet en my kinders se gunstelinggereg is wildschnitzels met kapokaartappels met sampioen- en/of pepersous, daarom maak ek dit graag.
“Moerbygeregte om 'n nuwe dis te skep met dit wat jy in jou huis tot jou beskikking het, is vir my altyd lekker uitdagend.”
SKILDER
Ida was ook 'n tyd lank die bestuurder van die vakansieoord Die Dam buite Gobabis.
Daar het sy 'n paar muursketse gedoen wat haar aangespoor het om in Februarie 2018 onder Ida's Art voltyds te begin skilder, verf en skep.
“Van dag een af het ek besef dis my grootste passie en het later ontdek mens kan tog 'n lewe daaruit maak om prentjies te teken en op mure te verf. Wel totdat die pandemie die hele wêreld tot stilstand geruk het en ek weer noodgedwonge 'n voltydse werk moes kry. So het ek weer begin om as 'n boekhouer te werk. Ek verf en skilder egter nog steeds in my vrye tyd en oor naweke.”
Die grootste skildery wat Ida tot dusver gedoen het, was op 'n ingangsmuur van 'n lodge naby Botswana se grens. Die projek van 'n watergat met 'n klomp verskillende diere het haar omtrent 'n week lank besig gehou.
“'n Ander massiewe projek wat ek moes doen, was 'n skildery op lap van ongeveer 30 meter lank en drie meter hoog. Dit was 'n aandtoneel van 'n gondelier, bote en water in Venesië verlede jaar vir 'n matriekafskeid. Dit het my ses dae gevat om te voltooi.”
Volgens Ida was die Bobbelheads die snaaksste projek wat sy dusver aangepak het. Dit was gesigprofiele met 'n spotprentagtergrond wat die persoon se lewe uitgebeeld het.
Sy het ook portrette van foto's van kinders op hulle kamermure geteken en volgens Ida was dit 'n projek wat sy baie geniet het, alhoewel die lekkerste projek 'n yslike groot luiperdkop teen 'n sitkamermuur was.
“Die moeilikste was 'n tuinskildery op geriffelde 'precast' mure. Sjoe... ek het baie ge-suffer. Letters op sinkplaat het my ook lank besig gehou en die verf van 'n straat op 'n vloer van stene, vir kinders om op te speel en leer, was moeilik met die hordes slootjies en gaatjies op die stene. Visdamme op stoepe was groot uitdagings, omdat ek heeltyd op my bas moes skuur en verf,” het Ida gesê.
“Elke nuwe projek is vir my 'n splinternuwe uitdaging wat my vinnige energieke lewenswyse aanvul tot 'n uiterste sielsversadigde passie met my wêreldwye gedagtegang.”
Sy skilder op skilderdoek, op hout en op klip. Sy is tans besig met 'n skildery op hout vir 'n kliënt van die Kaap en haar volgende projek is 'n “huis se naam” op klip.
DIGKUNS
“Toe selfone deel van ons lewens begin raak het, het ek graag met vriende in digvorm gesels. Ek het dit al hoe meer geniet en dit het uitdagend begin groei om stories te laat rym. Ek doen graag my media-inskrywings op Facebook in digvorm, want stories klink net beter met ritme. Dis 'n groot droom om 'n digbundel wat gepaardgaan met my kuns, die lig te laat sien.”
RAAD
“As ek raad aan die jonger geslag kan gee, sou ek sê as jy drome het, moet jy nie bang wees om dit te doen nie en om absoluut voluit daarvoor te gaan.
“'n Groot droom vir my skilderbedryf was om met my leer en my bakkie vol verf die land deur te toer om orals waar behoefte is, kleur te gee aan asvaal mure soos by lodges, in restaurante en skole. Maar die pandemie het alles mos gebriek en deesdae verf ek net oor naweke en in my vrye tyd.
“Gaan loer gerus na my Facebook page Ida's Art na al my werk en kontak my gerus vir kwotasies.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie