Ideale weer vir peste en plae

Kenners maan boere moet hul veld tans fyn dophou omdat die motplaag wat die land tans looi die gevreesde Afrika-kommandowurm kan wees.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Kenners meen boere sal hul gewasse en veld voorts fyn moet dophou vir die uitbreking van peste soos die Afrika-kommandowurm, omdat weerstoestande tans die ideale broeigeleentheid bied.

Kenners is dit eens dat die erge motplaag wat Namibiërs tans bykans oraloor die land lastig val, is waarskynlik die Afrika-kommandowurm.

Dié wurm is ’n skadelike pes wat in ’n kort tydperk reuseskade aan weiding kan veroorsaak.

CropLife SA se dr. Gerhard Verdoorn doen ‘n beroep op boere om die situasie fyn te monitor. Hy en sy kolegas stem saam dat dié mot weerskynlik dié van die Afrika kommandowurm is.

“As dit by die Afrika-kommandowurm kom, sal boere moet sterk staan.

Intussen het die ministerie van landbou, water en bosbou die afgelope week bevestig die Oosterse vrugtevlieg is in die Zambezistreek ontdek.

Terselfdertyd het hordes groen ruspes in die oostelike dele van die land uitgebroei. Kenners meen dit is die Westelike marmer-pouoogmot se ruspes, wat gewoonlik nie skade veroorsaak nie omdat dit hoofsaaklik op Acacia-spesies voed.

“Weerstoestande is tans ideaal vir die uitbroei van peste, met die warm, tropiese, vogtige lug wat uit Wes-Afrika, die Kongo en Zaïre oor Suider-Afrika beweeg,” sê Verdoorn.

Hy het onlangs ’n oproep van mnr. Neels Badenhorst ontvang wat naby Otjiwarongo boer, nadat dié omgewing teen sononder kwaai deur motplae lastig geval is.

Badenhorst het foto’s vir identifikasie na Verdoorn gestuur.

“Ek het aanvanklik vermoed dit is dalk die herfskommandowurm se motte wat sowat twee jaar gelede in Namibië se mielieproduserende gebiede uitgebreek het, maar Badenhorst sê hierdie pes kom op die weiding voor.

“Dit lyk of dit die Afrika-kommandowurm is,” het Verdoorn gesê.

Sy kollegas het hom intussen gelyk gegee.

“Die Afrika-kommandowurm is ’n baie ernstige pes wat groot skade aan jou veld kan aanrig. Dit teer hoofsaaklik op weiding en sal soms ook gewasse invaar,” sê Verdoorn.

Hy sê die Afrika-kommandowurm is endemies aan Suider-Afrika, wat beteken dit kom van nature hier voor, maar die reën en vog help dat dit in groot getalle uitbroei.

“Terselfdertyd kan die herfskommandowurm ook wéér uitbroei en boere met ’n dubbele probleem laat, waar een pes hul veld takel en die ander hul gewasse,” het hy gesê.

MONITOR SITUASIE

Verdoorn sê die uitbreking van peste en plae is ná die reën te wagte. Daar is wel genoeg omgewingsvriendelike produkte beskikbaar om die peste te beheer.

So ook het groen ruspes, beter bekend as die Westelike marmer-pouoogmot, hul opwagting in die Oostelike dele van die land gemaak, met hordes groen wurms wat veral op Acacia-bome en bosse aangetref word.

Verdoorn sê die pouoogruspe takel nie sommer kontantgewasse nie.

“Soms vaar hulle in aartappels, patats of koolgewasse in, maar hulle saai dikwels nie verwoesting soos die Afrika- of herfskommandowurm nie en hou dus nie groot gevaar in nie,” het hy gesê.

Verdoorn sê hierdie ruspes is ook al tot so ver as Botswana se Pandamatenga opgemerk.

“Daar is gerugte dat Pandamatenga in Botswana ook onder ernstige motte en wurm-plae deurloop. Wanneer temperature hoog genoeg is ná die reën, broei hierdie peste uit en kan dit verwoesting saai,” het hy gesê.

Daar is selfs vrese dat sprinkane kan uitbroei.

Verdoorn sê dit is baie belangrik dat boere hul veld tans noukeurig monitor.

“As iemand my bel en sê daar loop reeds ’n klomp wurms in hul veld is dit te laat om op te tree. Boere moet uiters waaksaam wees.

“Teen sononder, of so omstreeks 19:30, kan boere vir insekwolke uitkyk. Verder moet gewasse, blare en weiding ook vir eierpakkies dopgehou word.

Verdoorn sê boere is welkom om hom vir identifikasie, hulp en raad by +27824468946 of [email protected] te kontak.

BOERE OOR MOTPLAE

Badenhorst het vertel die motteplaag by Otjiwarongo was aanvanklik besonder erg met “honderdduisende van die motte oral, maar teen die volgende dag was daar heelwat minder van hulle”.

Verdoorn sê swerms motte kom lê eiers en wanneer hul getalle afneem, is dit die “stilte voor die storm, want dan is die eiers aan die broei”.

Intussen het boere van so ver as Tsumeb, Okahandja, Windhoek, Gobabis, Mariental, Aranos, Aroab, Maltahöhe en selfs by Swakopmund en Omaruru bevestig hulle loop erg onder motplae deur – van dieselfde vaalbruin mot waarvan Badenhorst foto’s vir Verdoorn aangestuur het.

Me. Trudie Basson, wat sowat 30 km buite Windhoek boer en ook ’n motplaag ervaar, sê die motte sak selfs op hul druiwe toe – al is dit reeds met sakkies toegemaak.

Sy maak ’n mengsel aan wat hulle lok en dan verdrink hulle daarin.

“Dit bevat swart suiker en suurdeeg. As ek molassepoeier het, gooi ek dit by en laat dit gis. Ek gooi dit in geel emmers. Dit lok hulle by die duisende en hulle versuip soos rotte op ’n sinkende skip,” sê sy.

IDENTIFIKASIE

Volgens ’n inligtinstuk van die Landbounavorsingsraad (LNR) se Instituut vir Graangewasse in Suid-Afrika kom die ergste uitbrekings van die Afrika-kommandowurm tipies voor in seisoene waar laat somerreën ná droogtetoestande geval het.

Die mot is bruin met wit agtervlerke en kenmerkende donkerder patrone aan die voorvlerke, sê die Landbounavorsingsraad.

Motte kan oor duisende kilometer migreer – veral in die jare wat plaaguitbrekings voorkom.

Die sterkste migrasievlugte begin vroegaand en motte kan op ’n hoogte van tussen 300 m en 1 000 m bo grondvlak vlieg.

Die LNR sê die motte lê eiers in groepies van 100 tot 400 en ’n enkele wyfie kan tot 1 000 eiers lê. Die eiers broei dan binne drie tot ses dae uit, afhangende van die temperatuur en humiditeit.

Die larwes wat uitbroei en as die Afrika-kommandowurm bekend staan, word sowat 25 mm lank en is swart met groen of geel strepe.

Hulle het ’n kenmerkende “V” op die kop.

Uitgegroeide larwes word papies in die grond.

Indien die larwes eers waargeneem word wanneer hulle omtrent uitgegroei is, is dit gewoonlik te laat om hulle chemies te beheer.

Dan is die skade gewoonlik reeds aangerig en sal daar nie altyd ’n tweede generasie larwes wees nie, skryf die LNR.

Waar larwes van een land na ’n ander beweeg, kan ’n voor geploeg word waarin hulle vasgevang word en weer toegeploeg word.

VRUGTEVLIEG

Intussen het die ministerie van landbou, water en bosbou in ’n nuusverklaring bevestig die Oosterse vrugtevlieg (Bactrocera dorsalis) het onlangs mango’s in die Zambezistreek besmet.

Die ministerie sê sonder streng beheer kan die pes Namibië se vrugte- en groente-uitvoermarkte bedreig.

Die ministerie sê op grond van “inligting wat met buurlande uitgeruil word asook ander bewyse is daar ’n teenwoordigheid van die Oosterse vrugtevlieg (Bactrocera dorsalis) in die Zambezistreek”.

Die ministeriële woordvoerder, mnr. Jona Musheko, sê dit het waarskynlik van Zambië af hierheen versprei deur die bewegings van mense, insekte en diere tussen die lande.

“Namibië geniet tans die status dat hy vry van dié pes is en kon dienooreenkomstig die afgelope jaar weer tafeldruiwe ter waarde van N$1,1 miljard uitvoer,” het die ministerie gesê.

Die ministerie het ’n beroep op Namibiërs gedoen om hul samewerking aan wetstoepassers te gee sodat beheermaatreëls toegepas kan word om te keer dat die pes na ander streke versprei.

“Dié vrugtevlieg is van ekonomiese belang omdat hy vrugte besmet en tot ernstige oesverliese kan lei. Dit word as ’n kwarantynpes geklassifiseer.

“Jaarliks word vraghouers vol produksie uit Afrika verwoes voor dit hul bestemming bereik omdat hulle met die pes besmet is.

“As ’n besending na ’n internasionale mark soos Europa net een enkele besmette vrug bevat, sal die hele besending verwerp word,” het hy verduidelik.

“Dit veroorsaak groot ekonomiese verliese vir uitvoerders en het reeds veroorsaak dat vrugte van talle Afrikalande nie op internasionale markte verkoop kan word nie,” het Musheko gesê.

Volgens die Namibiese Akkerbouraad (NAB) voer Namibië hoofsaaklik tafeldruiwe en dadels na internasionale markte uit.

Mnr. Gilbert Mulonda van die raad het gister aan Republikein gesê Namibië het tydens die 2018-’19-seisoen sowat 29 762 ton druiwe uitgevoer.

“Die werklike waarde van die uitvoere tydens die 2018-’19-seisoen was sowat N$1,1 miljard. Dit is gebaseer op heersende markpryse in die grootste uitvoermarkte. Die prys vir uitvoertafeldruiwe per ton is sowat N$37 000 of N$37 per kg,” het Mulonda gesê.

Namibië het die afgelope vyf jaar tussen 23 775 en 31 554 ton druiwe jaarliks uitgevoer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!