Ierland gee All Blacks 'n opstopper
Ierland gee All Blacks 'n opstopper

Ierland gee All Blacks 'n opstopper

Rugby
Tinus van Staden - Ierland is die beste rugbyspan in die wêreld.

Steve Hansen het laas week gesê wie ook al Saterdagaand se toets tussen Nieu-Seeland en Ierland in Dublin wen, sou homself as die beste span in die wêreld kan bestempel.

Ná 80 minute se meedoënlose, bloedige, genadelose rugby tussen die wêreld se nr. 1 en nr. 2, lees die telbord: Ierland 16, Nieu-Seeland 9.

Die slotsom? Ierland is die beste span in die heelal.

Dié toets het bewys waarom dié twee spanne om die troon van wêreldrugby meeding. Dit was 'n meesterklas van taktiese briljantheid, perfekte skopwerk, geniale aanvalswerk en weerbarstige verdediging.

Teen die einde het die Nieu-Seelanders hul hele arsenaal leeggeskiet op soek na die verdoelde drie wat dié wedstryd gelykop sou laat eindig.

Maar helaas. Ierland het Nieu-Seeland vir die eerste keer in 'n baie, baie lang tyd drieloos gehou.

Die Iere het van meet af aan verwoed aangeval en fases saamgeflans, sonder om 50/50-aangeë te forseer. Dit het Nieu-Seeland daarvan weerhou om maklike omgekeerde besit te bewerkstellig.

Tog het Nieu-Seeland se verdediging sterk gestaan en die spanne het met die telling op 9-6 in Ierland se guns gaan rus.

Die All Blacks het 'n volle nege strafskoppe in die eerste helfte afgestaan, teenoor die Iere se twee. 'n Magdom van dié strafskoppe was in die rooigebied, maar skeidsregter Wayne Barnes het dit nie nodig geag om die kaartversameling in sy sak te versteur nie.

Bykans nege minute nadat die tweede helfte begin het, het die jong vleuel Jacob Stockdale Dublin op sy voete gehad.

'n Uitstekend uitgewerkte agterlynbeweging het hom teen die kantlyn in besit gestel. Hy het 'n steekskoppie oor die verdediging gegee, opgevolg, gevang en sy 12de drie in sy 14de toets gedruk.

Die tempo van die spel het daarna só versnel, dat enige rugbyleek sou kon raai die twee beste spanne in die wêreld is hier slaags.

Begeesterd en veglustig ná die snywond wat hulle die All Blacks toegedien het en opgesweep deur die singende skare, het die Iere die Nieu-Seelandse voordeellyn met die mag van 'n pantserregiment aangeval.

Verwoed het die All Blacks die een Ier ná die ander geduik dat die stadion bewe. Maar die groentruie het op volle vaart bly invlieg.

Die All Blacks het wel dié mini-veldslag tussen Stockdale se drie en die 56ste minuut gewen en Ierland daarvan weerhou om punte aan te teken.

Nieu-Seeland het hergroepeer. Maar hy kon eenvoudig nie die Iere se verdedigingskodes ontsyfer nie.

Die bom-oorlogvoering is ook deur Ierland gewen en hulle het verskeie slim hoë hangskoppe geloods en teruggewen. Damian McKenzie, Nieu-Seeland se vlieg-in-'n-bottel-heelagter, het wel goed vertoon onder die hoë balle.

In die vaste skrums was Ierland 'n betonblok, met die stutte Tadhg Furlong en Cian Healy wat hul eweknieë, Karl Tuinukuafe en Owen Franks opgekeil het.

Ierland se flank Peter O'Mahony was absoluut briljant. Hy het met groot stukkies spel vorendag gekom om sy span uit die moeilikheid te help, veral in die loopgrawe waar hy besit omgekeer het.

Wat besig is om in dié All Black-span pos te vat, is ongedwonge foute op kritieke tye. Dít is so vreemd aan Nieu-Seeland soos misdaad.

As dié twee spanne volgende jaar by die Wêreldbeker-toernooi in Japan gaan kragte meet, mag dié land se fondasie net miskien skud. Want of dit nou in die kwarteindronde, halfeindronde of eindstryd is, die wêreldkampioen kan heel moontlik in daardie wedstryd gebore word.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!