Ietermagu00f4smokkelaar swaar gevonnis
Ietermagu00f4smokkelaar swaar gevonnis

Ietermagôsmokkelaar swaar gevonnis

’n Vermeende renosterstroper wat verlede week in die landdroshof op Omaruru moes verskyn, het op die vlug geslaan.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Wildmisdadigers word nou swaarder strawwe in Namibiese howe opgelê, met ’n ietermagôsmokkelaar wat op Rundu tot ’n boete van N$40 000 of drie jaar agter tralies gevonnis is.

Mukoya Katombera is op 9 September met ’n lewende ietermagô in sy besit in hegtenis geneem, later skuldig bevind en op 24 Oktober gevonnis.

Nóg ’n wildmisdadiger, Aron Muyakuyi, is op 19 Julie op Ndiyona, ook in die Noordooste, met ’n koedoevel in sy besit in hegtenis geneem.

Hy is skuldig bevind en op 2 Oktober ’n boete van N$10 000 of twee jaar tronkstraf opgelê.

Volgens die Namibiese polisie se eenheid vir beskermde hulpbronne (PRU) en die ministerie van die omgewing en toerisme se intelligensie- en ondersoekeenheid is vier nuwe sake van wildmisdaad verlede week geregistreer.

Volgens hul weeklikse wildmisdaadverslag is 10 verdagtes van 28 Oktober tot 3 November in verband met wildmisdaad in hegtenis geneem.

Beslag is op twee olifanttande, een kameelperdvel, een ietermagôvel, ’n vuurwapen en ’n voertuig gelê.

Agt verdagtes is verlede week in verband met renoster- en olifantstropery of horing- en ivoorsmokkelary of pogings daartoe in hegtenis geneem.

Op Rundu is vier mans glo met twee olifanttande in hegtenis geneem en ’n voertuig is geskonfiskeer.

Vier Namibiese verdagtes, mnre. Johannes Petrus, Ngavepue Tijuana, Kavenamuruke Tjihange en Tjizo Tjiposa is in verband met pogings tot renosterstropery naby die Werda-hek in die Etosha Nasionale Park in hegtenis geneem.

Beslag is op ’n jaggeweer gelê.

In die Wanaheda-woonbuurt in die hoofstad is mnr. Immanuel Angula verlede Maandag glo met ’n kameelperdvel in sy besit in hegtenis geneem.

’n Angolees, mnr. Muhenhe Tchimbanda, is verlede Woensdag by Outapi glo met ’n ietermagôvel in sy besit vasgetrek.

HOFSAKE

Op Omaruru moes vier vermeende renosterstropers, mnre. Danny Shilongo, Malakia Ndapwilwa, Jan Haodom en Leo Ndeshiteelela verlede Woensdag in die landdroshof verskyn, maar een van die verdagtes, Shilongo, het op die vlug geslaan. Hy moet nou eers opgespoor word en die saak is tot 20 Januarie vir ’n beslissing van die aanklaer-generaal uitgestel.

Die vier mans wat daarvan beskuldig word dat hulle in Augustus 34 renosterhorings uit ’n huis op Outjo gesteel het, se borgtogverhoor het verlede Woensdag in die landdroshof voortgeduur.

Mnre. Hofen Amakali, Elias Mweutwikange, Shikongo Ananias en Shipaki Nghihaanye bly steeds in aanhouding.

Die borgtogverhoor van nóg vier vermeende renosterstropers het ook verlede Woensdag in die Outjo-landdroshof voortgeduur. Mnre. Silas Tileinge, Daniel Hamukonda, Shimuningeni Shihepo en George "Morning" Nanyeni bly in aanhouding. Hulle sou gister weer in die hof verskyn het.

Ook in die Otjiwarongo-landdroshof het sewe vermeende renosterstropers se borgtogverhoor verlede Woensdag voortgeduur en een van die verdagtes, mnr. Eeno Anguwo, is op borgtog van N$10 000 vrygelaat. Sy medebeskuldigdes, mnre. Kaukamburua Tjingee, Tjipurua Vemukuta, Justus Embula, Isaskar Kadhila en Mairinyengiza Kanima bly in aanhouding. Hul saak is tot 4 Desember uitgestel.

Op Grootfontein het vier vermeende wildmisdadigers verlede Dinsdag borgtog van N$30 000 elk gekry. Mnre. Reagan Musweu, Chrissy Mukena, Mutungura Kaila en Fred Mwabi verskyn weer op 25 November in die hof ná hulle in Januarie glo met een jaggeweer en 27 patrone in hul besit vasgetrek is.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer