Ihan se hart vol hoop
Henriette Lamprecht
Dit was ’n baie emosionele pad wat hulle as gesin die afgelope paar maande moes stap en ’n lang pad lê met verskeie hartoperasies nog vir hul babaseuntjie voor.
Daar was baie “waarom”-vrae toe hul uitvind van klein Ihan se toestand, vertel sy ma, Cynthia de Smit.
“Ons het die heeltyd aanhou bid vir ’n wonderwerk om te gebeur dat sy hartjie vóór geboorte tog reg sal ontwikkel.”
In Januarie vanjaar het dokters in Windhoek met ’n roetine-ondersoek tydens haar swangerskap ’n fout met haar ongebore seuntjie se hart gediagnoseer. Volgens die dokters het dit gelyk asof sy hartjie net drie kamers het. ’n Spesialis in Kaapstad het bevestig klein Ihan het ’n hartdefek wat as “hypoplastic left heart syndrome” bekend staan.
Tydens die ondersoek is Cynthia en haar man die keuse gegee om die swangerskap te beëindig.
“Ons het besluit om voort te gaan met die swangerskap. Dis nie in ons hande om ’n lewe wat aan ons geskenk is, te neem nie.”
Cynthia moes gevolglik elke keer Kaap toe vlieg vir die roetine-ondersoeke en moes ook by die Christiaan Barnard Herdenkingshospitaal geboorte skenk waar hartspesialiste ná sy geboorte dadelik op bystand sou wees.
“Buiten vir die hartdefek het ek andersins ’n normale swangerskap gehad en daar was geen ander simptome of afwykings by hom gediagnoseer nie.”
Op 27 Junie is klein Ihan in die Kaap gebore en op twee maande is hy ’n baie soet en rustige baba met wakker ogies, vertel Cynthia.
“Die aangebore hartdefek is baie ernstig, want die kamer van die hart wat die bloed na die res van die liggaam moet pomp, is glad nie daar nie. Die defek sal nooit reggemaak kan word nie.”
Al wat dokters kan doen, is om drie opehartoperasies uit te voer om die are wat van en na die hart loop, te omlei om die hart so normaal as moontlik te laat werk.
Volgens die dokters was Ihan as gevolg van die aard van sy defekte en die feit dat sy hartjie in daardie stadium nie baie sterk was nie, nie die ideale kandidaat vir die opehartoperasie nie. Sy ouers het egter gevra dat die operasie steeds uitgevoer word.
“Dit was die eerste van drie operasies wat hy gehad het en dit toe hy net agt dae oud was. Hy het selfs die dokters verbaas met sy veggees.”
Ná hy vir ’n maand in die neonatale en intensiewe eenheid van die hospitaal was, kon Cynthia uiteindelik haar seuntjie vir die eerste keer huis toe neem.
Sy volgende operasie moet hy tussen die ouderdom van vier en nege maande en die laaste van die drie tussen die ouderdom van drie en vier jaar ondergaan. Partykeer is die laaste uitweg vir kinders met hierdie tipe hartdefek ’n hartoorplanting. Ihan is op die oomblik reeds op twee verskillende hartmedikasies.
“Ons weet nie of hy die pille vir die res van sy lewe sal moet drink of net tot na die laaste operasie nie. Dis ook nie bekend of hy enige ander medikasies sal moet gebruik in die toekoms nie. Alles hang af van hoe sterk sy hartjie is en of die hart die werk kan hanteer om bloed deur die liggaam te pomp.”
Dit was moeilik om haar bababoetie se toestand aan hul driejarige dogtertjie te verduidelik, sê Cynthia.
“Sy het baie vrae gehad oor hoekom haar boetie nie huis toe kom nie en hoekom sy hom nie kan vashou nie. Sy verstaan nou die dokters het sy hartjie reggemaak ná sy die letsels van die operasie gesien het.”
Die geldelike druk is ook erg, want met sulke groot operasies is daar altyd baie mediese uitgawe aan verbonde. Twee opehartoperasies lê vir Ihan voor.
“Ons is regtig baie dankbaar vir almal wat ons gedurende hierdie swaar tyd bygestaan het en nog steeds al die pad bystaan.”
• [email protected]
*Ihan is een van die begunstigdes van die Okanti Stigting wat ten doel het om Namibiese families met ’n chroniese siek kind emosioneel en finansieel met holistiese terapieë en medikasie te ondersteun. Sedert sy ontstaan in 2007, het die Okanti Stigting 14 gesinne finansieel en meer as 30 gesinne emosioneel, met raad en of praktiese ondersteuning bygestaan. Michaela Tietz: Stigter/Uitvoerende Trustee - +264 81 127 8544, [email protected])

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie